|
André Brink noem in sy heerlik leesbare memoir, 'n Vurk
in die pad, kortliks sy vroeë pogings tot poësie -
hy noem dit 'n "gerymel" - en dat een van sy eerste rympies
deur Die Jongspan vir publikasie aanvaar is. Hy het die "verbysterende
bedrag" van 'n halfkroon daarvoor ontvang. (Brink: 41)
Die gewilde jeugkoerant, Die Jongspan, het in 1925 as Die
Kleinspan ontstaan, 'n los byvoegsel tot Die Huisgenoot.
In 1934 is die naam verander na Die Jongspan, maar dit was
steeds deel van Die Huisgenoot. Eers vroeg in 1936 het Die
Jongspan 'n onafhanklike tydskrif geword, aanvanklik onder redaksie
van Ingrid Jonker se pa, die bekende skrywer en politikus Abraham
H. Jonker.
Op die eerste bladsy van Die Jongspan was altyd 'n vervolgverhaal,
terwyl die laaste twee bladsye gerig was op die kleinspan. Daar
was ook gereeld 'n bladsy - 'n paar jaar lank selfs twee - met redelik
vervelige nuus en inligting oor die Voortrekkers. Later jare was
daar darem 'n bietjie vernuwing: 'n bladsy "Vir ons dogters"
en in die 1950's 'n rubriek, "Nuut op die silwerdoek".
Gelukkig was daar T.O. Honiball se tekenreeks, Jakkals en Wolf,
en 'n ruk lank ook Faan Brand.
Bladsy 2 is gewy aan interessante nuusbrokkies oor wêreldgebeure:
"Wat oral gebeur". Dit was jare lank onder leiding van
die digter N.P. van Wyk Louw. Die vroue in die redaksie was óf
net voorletters óf 'n onbekende tant iemand. Op 2 November
1945 is in 'n beriggie gemeld dat Van Wyk Louw se vrou, "mev.
Truida Louw (by ons maats beter bekend as tant Elsie)", die
vorige maand uit diens van die Nasionale Pers getree het. Sy het
nege jaar lank by Die Jongspan gewerk. Ná haar is
die bladsy met "Bydraes van Maats" deur ene tant Ans behartig.
Ek het in my soektog na gedigte vir Rymreise, 'n nuwe digbundel
vir jong tieners, alle digbundels in die Nasionale Biblioteek aan
die onderpunt van die Tuine in Kaapstad deurgegaan. Ek het ook die
Jongspanne deurgegaan in die hoop dat daar iewers 'n gediggie sou
wees wat die jongspan van die 21ste eeu óók sal geniet.
Soos 'n mens die bladsye vluglees, sien jy latere bekende name raak:
soos dié van Simon Europa van Bredasdorp, wat as volwassenes
dikwels briewie vir Die Burger geskryf het. Sy storie "Sponkie
se avonture" is op 8 Februarie 1946 gepubliseer. Tant Ans skryf
op 22 Februarie 1946 oor die klomp gediggies wat Hester Heese van
Kamieskroon ingestuur het en op 28 Junie 1946 noem sy die briefie
van Wilhelm Grütter van Pietersburg. Christo Viljoen skryf
op 23 April 1948: "Ek wil graag prente van 'cowboys' hê
en het wit duiwe om te verkoop." Op 1 Maart 1946 verskyn die
volgende sonnet van Hennie Aucamp. Hy was toe maar net elf jaar
oud:
Boereplaas
As die son agter die bergtop verdwyn
En die lug gekleur is in 'n bad van karmosyn,
Dink ek aan ons ou boereplaas
Nou geheel in 'n skemer waas.
En ek verlang, O! ek verlang om te hoor
Die beeste-geloei wat my so bekoor:
'n Treurige liedjie van ou aia Raal
As sy by die put gaan water haal.
E sien my ou moedertjie, al roepend na my:
Kom in nou, my kindjie, die windjie sny.
So mooi is sy as die windjie speel
met haar gryse haartjies van ferweel.
Ek hoor die paddas kwaak en raas
En ek verlang dan na ons ou boereplaas.
Een naam duik egter gereeld op, dié van A.P. Brink. Op
15 Maart 1946 verskyn die gedig waarvan hy ook in sy outobiografie
'n Vurk in die pad skryf:
In die vlei
Daar onder in die vlei
Zoem, zoem 'n by -
En skoenlappers bont
Die vlieg daar rond
Om sap uit die blomme te suig.
Die voëltjies is daar
In klompies bymekaar,
Hulle vlieg en sing,
Bou nessies in 'n kring
Van stokkies, grassies en strooi.
Twiet, twiet, twieretwiet!
Fluit 'n vink in die riet.
O, kom saam met my
Na die voëls in die vlei,
Want dis vrolik, so vrolik daar!
'n Paar maande later, op 24 Mei 1946, skryf die elfjarige André
Brink van Douglas: "Ek is nou besig met 'n diereversameling
en ek sal bly wees as Maats vir my prente of tekeninge van diere
sal stuur - soveel as moontlik - met die dier se naam daarby."
En op 28 Junie soek hy Die Jongspan van 15 Februarie 1947
en nog twee ander uitgawes. Hy "sal dit koop - of iets in ruil
daarvoor gee."
Die volgende jaar, op 21 Februarie 1947, is daar weer 'n briefie
van André. Hy wil korrespondeer "met iemand wat in diere
of posseëls belang stel. Ek het 'n diere-, plant- en voëlalbum
om te verkoop. Almal is volledig, en ek sal dit teen 6/- elk verkoop."
Op 27 Junie 1947 sê hy baie dankie vir die Maats wat vir
hom geskryf het. Hierdie keer wil hy hê Maats moet vir hom
sywurmeiers stuur. Hy knip vir Tarzan uit Die Burger uit
en vra of iemand vir hom sekere vorige Tarzans kan aanstuur.
Vyf maande later, op 28 November 1947, verskyn 'n skets van Ingrid
Jonker. Onderaan staan dat sy twaalf jaar oud is. Ingrid, wat in
1933 gebore is, was in 1947 veertien jaar oud. Sy en haar suster
Anna het in hierdie tyd by hul pa, Abraham H. Jonker, en sy vrou
gewoon. Sy was 'n leerder aan die Meisieskool Wynberg met 'n onderwyseres
wat haar as skrywer baie aangemoedig het. [In 'n Vurk in die
pad, op p. 106, vertel André Brink dat, toe hy haar jare
later ontmoet, dit vir albei betekenisvol was dat sy gebore is naby
die dorpie Douglas waar hy 'n hele paar jaar as jong seun gewoon
het.]
Nag
Aanhoudend waai die wind oor die wye, eindelose vlakte
Omtrent
honderd tree hiervandaan staan 'n eensame figuur. Dit
lyk na 'n vrou of liewer 'n meisie.
Eindelik
gooi sy haar vermoeide liggaam op die grond neer en tuur rusteloos
na die hemel. Die wind waai haar krulle deurmekaar
Maar
dit skyn of sy niks raaksien nie. Nie eers die maan wat glimlaggend
sy strale na benede stuur nie. Nie eers die sterretjies wat
vonkel aan die donker hemel nie. Niks nie.
Aanhoudend
waai die wind oor die wye, eindelose vlakte
Vinnig
stoom my trein die stasie binne.
Ek
klim in. Ek moet inklim, maar ek kan nie, ek voel ek mag nie.
Wat hinder? Is dit omdat ek weet dat daar 'n arme siel rondswerwe
op die wye vlaktes?
Dis
stil, dis donker, dis nag.
Aanhoudend
waai die wind oor die wye, eindelose vlakte
|
Op 9 Januarie 1948 skryf tant Ans die volgende in haar brief: André
"wil marmotjies koop van Maats. Julle moet eers aan hom skryf
en die kleur, ouderdom, ens. meld. Hy het ook vier splinternuwe
'Rooi Jan'-boeke om te verkoop teen 3 s elk plus 3 d posgeld
op elke boek. Verder het hy 'n nuwe 'Royal'-seëlalbum met ongeveer
200 seëls wat hy vir 5 s 6 d sal verkoop. Hy verkoop ook sywurmeiers
teen 10 vir 3 d en uitgesoektes teen 15 vir 6 d. (Die Royal-sëels
is die vorige jaar uitgereik tydens die toer van die Britse koningsgesin
deur Suid-Afrika.)
Kort hierna, op 23 Januarie, wil hy self 500 tot 1 000 sywurmeiers
koop. Volgens tant Ans sal hy "goed daarvoor betaal."
Op 6 Februarie 1948 wil hy prente van Johnnie Weismuller, Brenda
Joyce en Johnnie Sheffield hê. Dan noem hy ook: "Bestellings
vir die seëlalbum stroom nog steeds in. Dis lankal reeds verkoop
en al die profyt gaan in seëls en koeverte om poswissels terug
te stuur. Diegene wat sonder poswissel aanvraag gedoen het, wil
ek net bedank. Ek kan onmoontlik nie al die briewe bedank nie."
André het sy les geleer. Op 4 Maart 1949 adverteer hy vyftien
seëls van die VSA en 53 seëls van die Maleisiese eilande,
maar voeg by: "Maats moet 'n koevert met seël en adres
insluit en die nodige bedrag in 'n posorder, maar moenie die posorder
invul nie, sodat ingeval die seëls al verkoop is, dit net teruggestuur
kan word."
Op 27 Mei 1948 adverteer hy marmotjies: drie mannetjies en vier
wyfies, teen 2 sjielings en 'n sikspens stuk. Die marmotjieboerdery
floreer. Op 2 September 1949 adverteer hy vyftien marmotjies teen
2/6 stuk. "Maats moet die kassies waarin die marmotjies vervoer
is, dadelik terugstuur." [In sy memoir vertel hy op p. 130
watter groot werk dit was om ure elke dag "mankolieke klein
hokkies" aanmekaar te timmer sodat die marmotjies twee-twee
per trein na hul nuwe eienaars gestuur kon word. Van wins was daar
nie veel sprake nie.]
In dieselfde brief van 27 Mei 1948 stel hy 'n "wedstrydjie"
bekend. Die prys is (geen verrassing): 'n paar marmotjies. Die tweede
prys is 'n boek. "Maats," haal tant Ans uit sy brief aan,
"julle moet vir hom stories skrywe oor die gespanne verhouding
tussen 'n meisies- en seunskoshuis en die deelnemers moet die grappige,
waaghalsige daad van iemand wat graag vrede wil herstel en wat dan
tot vrede sal lei, beskryf. Die sluitingsdatum is 5 Oktober."
Die uitslag van die wedstryd is nooit in Die Jongspan bekend
gemaak nie. (Dalk het niemand ingeskryf nie. Of dalk was die maats
wat van marmotjies hou nie juis goeie skrywers nie.) Nog voor die
sluitingsdatum op 9 September 1949 verskyn die dertienjarige entrepreneur
se eie spanningsverhaal.
|
Slim
vang sy baas
"Oom
Koos het mos die enigste ordentlike suurlemoenboord in Laagvlakte
en al die mense koop dan ook by hom suurlemoene!" sê
Ghrieskan, alias Jan Vermooten, een Vrydagaand in die koshuis
aan die ander twee van die driemanskap.
"Ounuus!"
spot Wiele, met die spoggerige doopnaam van Ernst du Preez.
"Wag
tot ek klaar gepraat het!" sê Ghrieskan vererg
en vervolg: "As ons nou vanaand daar kan gaan suurlemoene
steel
"
"Wie
steel nou suurlemoene?" vra Besembos, alias Petrus Wenning,
spottend.
Asof
hy niks hoor nie, gaan Ghrieskan voort: "Môre-oggend
kan ons dit dan in die dorp gaan verkoop om sakgeld te verdien!"
"Dis
darem te erg, en in elk geval, oom Koos ken al die koshuisseuns
en as hy ons sien? Saterdae kom hy juis dorp toe!" sê
Wiele.
"As
jy bang is, kan ek my suster gaan roep om jou op te pas,"
sê Ghrieskan. "En wat oom Koos betref, ons kan
ons tog vermom
"
"Ja,"
sê Besembos spottend, "MET MASKERS EN REWOLWERS!"
Ghrieskan
sê net "Ag!" en haal sy skouers op.
Toe
Wiele naderhand saamstem met Ghrieskan, is Besembos verplig
om ook met die plan akkoord te gaan. En kort na al die ligte
uit is, vertrek drie seuns, elk met 'n kussingsloop onder
die arm, na oom Koos Brand se suurlemoenboord. Tot hul blydskap
staan daar alreeds 'n aantal mandjies, klaar volgepluk onder
die bome, en die driemanskap kan net instop.
Die
volgende oggend vind ons die drie in die dorp, deeglik vermom
met swart snorre, besig om suurlemoene te verkoop aan die
gretige dames. Elke klant word verseker dat die suurlemoene
uit 'n beroemde sitrusdistrik kom. Die seuns van die dorp
wat hulle darem herken, vind dit tog te prettig en bondel
om hulle saam.
"Nog
net hierdie ou," sê Besembos met 'n blik op sy
polshorlosie.
Gou-gou
word die kar tot stilstand gebring en oom Koos kyk uit.
Om niks te laat merk nie, sê Willie die rympie op. Oom
Koos luister egter nie en vra 'n suurlemoen. Ghrieskan oorhandig
dit met 'n kloppende hart. Die dorpseuns wil hulle siek lag
toe oom Koos skielik briesend bulder: "Dis dan my eie
private merk!"
Ghrieskan se hart sak in sy skoene toe oom Koos hulle gebied
om in te klim. Gelukkig skiet 'n plan hom te binne en skaars
sit hulle agterin of hy verduidelik dit aan die ander twee.
Hulle gooi al die suurlemoene uit en skaars was die laaste
een uit, of oom Koos sê: "Ons gaan reguit na my
huis toe, en ek gaan self met julle afreken."
In
stilte ry hulle aan. Toe die kar stilhou, klim die drie ewe
sedig uit. "Thank you for the lift, sir!" sê
Wiele in sy beste Engels.
Oom
Koos staar hulle oorbluf aan. "Is julle dan nie die kinders
wat my suurlemoene verkoop nie?"
"Pardon,
sir," sê Ghrieskan, "We thought you offered
us a lift! Those other pals are still selling lemons!"
en hulle stap ewe deftig weg.
Oom
Koos skud net sy kop oor sy flater.
|
Die volgende jaar, op 28 April, word André se brief oor die
kunswedstryd in Kimberley gepubliseer. Daarin noem hy dat die skoolkoor
van Douglas 80% behaal en gewen het. Hy self het 'n goue en 'n silwer
diploma ontvang "en wag op hete kole op die uitslae van die
opstelle en gedigte." Hy gaan voort: "Vandag is my verkoop-
en kooplys weer langerig. Ek sal toorkunsies verkoop aan maats wat
met my in verbinding tree. Dan het ek ook nog 'n hele aantal marmotjies
om te verkoop teen 2/6 stuk."
In die volgende paragraaf soek hy na iemand "buite die Unie"
(d.w.s. buite Suid-Afrika) wat vir hom 'n marmotjie-mannetjie kan
uitruil of verkoop, iemand wat NIE voorheen by hom gekoop het nie.
Hy sluit af: "En dan, les bes, wil ek graag 'n jongerige mannetjie-das
hê. Ek sal twee marmotjies daarvoor ruil."
In sy brief van 15 September 1950 adverteer hy soos gewoonlik marmotjies
en vra weer vir 'n mannetjie-das.
Op 26 Januarie 1951 het hy boeke om te verkoop, boeke "wat
nog almal sonder 'n merkie of kolletjie is", onder andere,
Geluksvoël van Allah, Jakkals en Wolf (Dele 4 &
5), Oom Kaspaas, Stories van toeka se dae en Avonture
van Pinokkio. Tant Ans voeg by: "By elke drie wat bestel
word, sal André nog een geadverteerde boek gratis gee. As
julle ontevrede is met die kopie, kan julle dit weer terugstuur."
In 1951 is sy pa, as landdros, verplaas. Of die eensame wyfiedas
saam met die gesin na Sabie verhuis het, is onbekend. Dit word ook
nie in 'n Vurk in die pad genoem nie. Op 9 November adverteer
André "'n ou beproefde patentjie met aanwysings aan
oor hoe om sywurms se sy van 'n kokon af te draai." Dan bied
hy ook goëltoertjies teen spesiale pryse aan. "Hy waarborg
alles," skryf tant Ans namens hom. [In 'n Vurk in die pad
vertel hy op p. 130 dat hy uiteindelik marmotjies gratis uitgedeel
het aan sy "ál minder gewillige maats" en dat sy
pa, gelukkig sonder om hom vooraf te waarsku, die laaste klompie
van die "piepende goed" verdrink het.]
Bronne
- Brink, André P. 2009. 'n Vurk in die pad: 'n Memoir.
Human & Rousseau.
- Die Jongspan. Januarie 1936 tot Desember 1953
- Metelerkamp, Petrovna (samesteller). 2003. Ingrid Jonker:
Beeld van 'n digterslewe. Hemel en See.
|