|
Op die rand van München, Duitsland, staan 'n besondere Middeleeuse
kasteel, Schloss Blutenburg. Met die kenmerkende rooidaktorinkies
wat in die meer weerkaats, is dit beslis 'n sprokieskasteel. Maar
wat die kasteel besonders maak is dat dit 'n skatkis vol stories
is...

Schloss Blutenburg huisves die Internasionale Jeugbiblioteek.
Hierdie biblioteek is in 1949 deur die Duits-Joodse immigrant, Jella
Lepman, as 'n versoeningsgebaar gestig. Die gedagte was dat die
biblioteek internasionale kinder- en jeugliteratuur moet bevorder
asook interkulturele dialoog deur middel van kinderboeke moet aanmoedig.
'n Doelwit wat die biblioteek steeds met groot sukses volvoer.
Die biblioteek het in Junie 2009 sy 60ste verjaarsdag gevier. Die
biblioteek is die die grootste van sy soort in die wêreld.
Die versameling bestaan tans uit bykans 600 000 boeke in meer as
130 tale wat die afgelope 400 jaar gepubliseer is, asook nagenoeg
30 000 internasionale navorsingspublikasies.
Sedert 1983 word die uitstalling in Schloss Blutenburg gehuisves:
die ideale ruimte vir 'n kinderboekbiblioteek.
Enige persoon wat in kinder- en jeugboeke belangstel kan die biblioteek
besoek en in die leessaal gratis van die geriewe gebruik maak. Aangesien
die meeste van die boeke in die kasteelkelders gestoor word, moet
navorsers egter vooraf reël om spesifieke boeke te kan lees.
Die biblioteek het 'n internasionale beurshouersprogram wat deur
die Duitse Departement van Buitelandse Sake befonds word. Jaarliks
kan 15 internasionale navorsers tussen ses weke en drie maande by
die biblioteek navorsing doen. Besonderhede van die program is op
die IJB se webtuiste beskikbaar.

Alhoewel die versameling vir navorsers bedoel is, word daar ook
vir jong lesers voorsiening gemaak. In 'n kleurvolle uitleenbiblioteek
kan hulle boeke in 15 tale uitneem.
Die kasteel huisves ook verskeie permanente uitstallings soos die
Binette Schroeder en Michael Ende-versameling, asook tydelike uitstallings.
Allerlei boek- en kunsaktiwiteite word vir kinders aangebied sodat
die binneplein dikwels weerklink met kinderstemme.
Om die versameling aan te vul word staat gemaak op uitgewerye vir
die skenking van hul kinder- en jeugboekpublikasies. Taalkenners
is verantwoordelik vir die aanwins van boeke uit die onderskeie
taalgroepe. Hierdie kenners stel jaarliks die sogenaamde White Ravens
lys saam wat besondere publikasies uit die wêreldliteratuur
bevat. Hulle is ook verantwoordelike vir reisende kinderboekuitstallings.
Die kasteelterrein is oop vir enige besoeker. Met die besondere
kerkie uit die 15de eeu, die gesellige restourant, en 'n meer wat
in die winter skaatsplek word, is dit beslis 'n besoek werd.

Schloss Blutenburg is geleë in Obermenzing, München. Die naaste
treinstasie is Pasing en daar is 'n gereelde busdiens tussen Schloss
Blutenburg en die stasie. Dit is ook moontlik om van Pasingstasie
na Schloss Blutenburg te stap - 'n lieflike roete langs die Würmrivier.
|