My
verbondenheid met die natuur het begin in my vroeë kindertyd.Ek
was 'n woelige kleuter en my oppasster, (ene Lenie Johnston of Johnson) het my
geleer om blomme en blare tussen boekblaaie te pers, seker net om my besig te
hou. Ek het grootgeword
tussen Bonnievale en Swellendam. Wintertyd in hierdie gematigde landstreek aan
die voet van die Langeberge was destyds 'n lushof van plantegroei, wat tot teenaan
die werf en stoep gedy het, te danke aan die tydige reëns en sagte son. Dit
was vir my maklik om blare te pers. Daar was die groot gekartelde blaar van die
kaneelbol, die simmetries saamgestelde blaar van die "turknaels", daar
was kruide en onkruide te kus en te keur. Dis hoe ek op 'n vatbare ouderdom plante
en blaarvorms leer ken het en patrone raakgesien het. Dis
interessant dat twee van my boeke wat op 'n laat leeftyd geskryf is, patrone in
die natuur as 'n tema het, naamlik die fantasie, Strepie en kurfie,
en my onlangse Eenders en Anders, wat 'n realistiese werk vir kinders is,
om hulle bekend te stel aan die wonder van patrone in die lewe en die natuur.
Ek is oortuig dat die kiem, of saadjie, vir hierdie twee boeke in my vroeë
kinderjare gelê is, dit wil sê in my kleuterjare tussen die plante
en blomme van destydse winters en somers. Dis immers deesdae ou nuus dat die eerste
vyf jaar van 'n kind se lewe deurslaggewend is en dat hy, volgens deskundiges,
meer leer en aanleer in sy eerste vyf jaar as in die hele res van sy lewe. Ek
was 'n enigste kind tot op die ouderdom van vyf jaar, waarna my twee broers gebore
is, en ek kan onthou dat ek gelukkig was op my eentjie in my spel en verbeeldingswêreld,
dat ek my klere met modder bemoers het en dat ek goed - kruisbande of iets van
my pa - stukkend geknip het, ook dat ek op 'n keer weggeloop het, en hoe hulle
my ingehaal en gevang het. Talle goeie dinge onthou ek nog, soos toe my pa en
ma my geprys het omdat ek 'n skilpad op die agterkant van 'n sigaretdosie geteken
het - een met 'n stertjie wat onder sy dop uitsteek. Ek was toe vier, en hulle
het 'n hele ding daarvan gemaak en die tekening gebêre en vir besoekers
gewys. Ek onthou my tabberdjie van wit ogieskant, en my hoed met rooi bessies
versier. [Lees meer oor my jeugjare in Prof. Carl Lohann se boek, Freda Linde,
Perskor, 1983.] Wat
is jou doel met Eenders en Anders? Hoekom het jy dit geskryf? Ek
wou die kind bekendstel aan die wonder van patrone in die natuur en die lewe deur
hom op 'n "ontdekkingstog" te neem na die dinge wat hy elke dag om hom
sien maar nog nooit van naby beskou het nie. Feite kan net so vreemd en boeiend
as fiksie wees. My
benadering in hierdie boek is persoonlik. In plaas van "kyk hierdie padda"
sê ek: "Kom ontmoet Platanna, ook bekend as Plandoeka, van die Poele."
Dit gee aan die platanna 'n soort identiteit, wat tot die kind spreek. Ek
doen dit sonder om feite te verdraai of feite vals voor te stel. In
die hoofstuk "Alles wat vier is" kom vier-vlerkiges aan die beurt,
onder andere: "Die meeste kewers het ook vier vlerke, maar
toktokkie het syne nie gebruik nie Toe het hulle vasgegroei Nou leef hy
doodtevrede met sy harde dop en met sy pote op die aarde." [Met
ander woorde wat nie gebruik word nie, kan vasgroei, nutteloos word. Nie net inhoud
nie maar ook taalritme kan bydra om 'n teks boeiend te maak.] Dis
belangrik dat 'n kind self moet ontdek in plaas van gedurig inligting gevoer te
word (by die een oor in en by die ander uit). As
hy self één enkel blomstruktuur ontleed het, sê een met vyf
kelkblare, vyf kroonblare, tien meeldrade (vyf langes en vyf kortes) en 'n stempel
wat in vyf verdeel soos 'n fyn blommetjie, gaan hy met ander oë na alle blomverskynsels
kyk: vier-patrone, drie-patrone of wat ook al. Hoe
skryf 'n mens vir kinders? Wat is jou resep? Ek
het nie 'n resep nie, maar ek sou sê ek doen dit deur die kinderwêreld
in myself op te roep; ook nie willekeurig nie maar wanneer ek in die stemming
is. Dit beteken dat ek wat ek skryf, self as werklikheid moet beleef. Dis nie
genoeg om net 'n begrip van die kinderwêreld te hê nie. Ek
kan onthou dat toe ek Snoet-Aleen geskryf het, ek Snoet-Aleen feitlik kon
sien in die maanlig by Toto se deur inkom, so intens het ek die gebeure
en die dialoog beleef, en dieselfde geld vir die res van die verhaal. My
werksmetode: Ek werk baie ongereeld in die sin dat daar soms 'n lang tyd verbyaan
dat ek nie kans kry om te skryf nie, maar ander verpligtings nakom. Maar terselfdertyd
dwaal daar miskien 'n tema in my kop rond. Dis
ongeveer hoe al my kinderboeke ontstaan het. Ek kry 'n ingewing en dit los my
nie maar neem, soms oor 'n lang tyd, vorm aan in my gedagtes tot ek skielik op
'n dag begin skryf. En dan werk ek aaneenlopend met slegs kort tussenposes, en
skryf taamlik vinnig en vlot, rofweg met die hand, om die verhaal as geheel op
papier te kry. Skaafwerk en veranderings kan later volg, want verhale het 'n manier
om te verander terwyl jy skryf - daarvoor is daar in elk geval genoeg tyd as jy
eers in beheer is van wat jy skep. Dit duur ook soms geruime tyd voordat ek met
'n stuk werk tevrede is. (Al
my verhale en ander skeppingswerk word eers met die hand gekryf. Ek doen slegs
joernalistieke-tipe werk regstreeks op die masjien.) Ek
het my soort skryf aangeleer in die jare toe ek meer as voltydse betrekkings gevul
het en ek my kinderboeke in my vakansies moet skryf. Junie
2000 Kopiereg:
Freda Linde. |