| Een
van die mees ontstellende verskynsels in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing
is die wyses waarop kinders blootgestel word aan en/of slagoffers word van gevare
soos mishandeling, ontvoering en selfs moord. Dit word steeds belangriker dat
kinders op soveel wyses moontlik bewus gemaak moet word van veiligheidsmaatreëls,
maar sonder om hulle te beangs te maak om aan die openbare lewe deel te neem.
Dit moet gedoen word op wyses wat hulle sal help ontwikkel om hulleself op goedgemanierde
wyses te kan handhaaf en om hulle innerlik sterk te maak. So vroeg as wat kinders
moontlike gevare en gevaarlike persone kan herken, so vroeg moet hulle ook assertiwiteit
aangeleer word. | | 
Afrikaans
deur Philip de Vos; oorspronklik The gruffalo deur Julia Donaldson en Axel
Scheffler |
Vanselfsprekend is die beste manier
om kinders uit gevaar te hou, om te sorg dat hulle gevaar vermy, maar in 'n reële
werklikheid werk dié idee nie altyd so ideaal uit nie. Een van die wyses
waarop kinders toegerus kan word om hulleself te handhaaf in moontlike konfrontasie
met onaangename of selfs lewensgevaarlike situasies, is dat hulle aan die hand
van fantasieverhale in 'n veilige en geborge omgewing deur 'n volwassene ('n opvoeder
soos 'n ouer of onderwyser/fasiliteerder, bibliotekaris) (be-)gelei word om van
so jonk moontlik op 'n hoflike wyse assertief te wees en om 'n interne lokus van
kontrole te ontwikkel. Alhoewel dit moontlik onvanpas klink, kan daar juis wanneer
dit oor 'n doodernstige saak gaan, in die ontwikkel van assertiwiteit en 'n interne
lokus van kontrole by die kind van humor en humoristiese verhale gebruik gemaak
word. Een van die mees bekende, onlangs gepubliseerde fantasieboeke wat
'n kind kan help om assertiwiteit en 'n interne lokus van kontrole te ontwikkel,
is The Gruffalo (1999), 'n verhaal deur Julia Donaldson en geïllustreer
deur Axel Scheffler, en in Afrikaans vertaal deur Philip de Vos as Die Goorgomgaai
(in 1999 en in 2005 uitgegee deur Human & Rousseau). Die Engelse weergawe
het die hoogaangeskrewe Smarties-toekenning gekry en is in ten minste 28 tale
vertaal; meer as 'n miljoen kopieë daarvan is verkoop en dit is in verskeie
lande as toneelstuk opgevoer en is selfs verfilm. Resensies op die Internet en
in die pers oor The Gruffalo is almal ten gunste van die boek, asook oor
The Gruffalo's child, die opvolg op The Gruffalo. In The
Gruffalo/ Die Goorgomgaai gaan dit oor die wyses waarop die muis dit regkry
om hom-/haarself telkens uit 'n moeilike situasie los te wikkel. In die Engelse
weergawe is daar hoegenaamd geen aanduiding in die teks of die muis 'n hy-muis
of 'n sy-muis is nie; dit is besonder vernuftig hanteer, en met goeie gevolg,
omdat klein dogtertjies dus ook met die muis as 'n moontlike slim en sterk vroulike
karakter kan identifiseer. Eers in die tweede boek, The Gruffalo's child,
word die geslag van muis aangedui as manlik. Die Goorgomgaai vertel
'n verhaal - op rym - van 'n muis wat deur die donker bos gaan stap, en wat eers
'n jakkals, dan 'n uil en dan 'n slang ontmoet wat hom/haar nooi om in hulle huise
te gaan eet. Die muis wys al die uitnodigings van die hand en uitoorlê al
drie diere wat duidelik duistere bedoelings het, deur telkens ewe hoflik te sê
dat hy by die Goorgomgaai gaan eet. In ongeveer die middel van die verhaal maak
die verhaal 'n ommekeer - die muis ontmoet 'n régte Goorgomgaai en uitoorlê
hom óók. Daar kan gevra word: waaroor handel muisverhale
gewoonlik, en hierdie misverhaal in die besonder? Hiervan sê Amanda Craig
(2004) die volgende: "(Mouse stories are) about our deepest fears - being
lost, being eaten, being separated from our mother - expressed in seemingly simple
language". Craig (2004) verwys na die outeur, Julia Donaldson, se sienings
oor muisverhale en spesifiek The Gruffalo (Die Goorgomgaai): volgens Donaldson
is die doel van talle kinderboeke om ouers gerus te stel; sy sê dat sy egter
nie so seker is dat kinders altyd gerus gestel moet word nie, juis omdat kinders
soms uit onervarenheid en onkunde te avontuurlik is en gevare op hulle eie probeer
aandurf. Kinders moet juis meer bewus gemaak word van gevare in die lewe,
maar dan terselfdertyd ook hoe hulle gevare kan benader en hanteer. Indien dit
op 'n speelse en humoristiese wyse kan plaasvind, help die leeservaring dat angs
en vrees oor werklike en verbeelde gevare oorkom kan word. As kinders die amorfe,
verbeelde angste van hulle psige deur middel van 'n boek met spannende humor,
pret en lag kan konfronteer, sal hulle gehelp word om toegerus te word om te weet
wat om te doen wanneer hulle met werklike gevaar in die reële werklikheid
gekonfronteer word - hulle sal 'n sterker gevoel van 'n interne lokus van kontrole
hê en meer assertief kan optree. In die geval van die muis en die Goorgomgaai
- dit mag dalk net wees dat daar regtig 'n Goorgomgaai ('n gevaar wat hulle net
gedink het in hulle verbeelding bestaan en wat nog nie voorheen oor hulle pad
gekom het nie) bestaan: "Mouse can scare hungry animals with tall stories
of the terrifying Gruffalo, but what happens when Mouse comes face to face with
a real Gruffalo?" (Anon., 2005 http://www.reallyuseful.com/rug/films/gruffalo/
). Aspekte rakende assertiwiteit moet vereenvoudig word na gelang van die
ouderdom van die kind en op sy/haar vlak aan hom/haar verduidelik word. Dit is
nodig dat kinders vaardighede ontwikkel om assertief te kan wees (Anon., 2004:8;
De Vito, 1998:104, 233 - soos aangepas en toegepas op alledaagse situasies, maar
ook situasies waarin kinders voel dat hulle in ongewenste of gevaarlike situasies
ingedwing word): - Begin wel met 'n positiewe aanname (moenie alles
en almal wantrou nie), anders sal die kind voortdurend te beangs wees om in die
lewe uit te gaan.
- Maar - wees paraat en proaktief: probeer vooruit dink
hoe mense moontlik kan optree en wat jy in die moontlik gevaarlike situasies sou
kon doen om jouself daaruit te kry.
- Weet wat jy wil hê, waarmee
jy gemaklik is, waarvan jy nie hou nie.
- Gebruik goeie oordeel - besluit
so vinnig moontlik of stilbly veiliger is, en of jy jouself moet handhaaf deur
jou juis uit 'n probleemsituasie te praat.
- Sê wat jy wil hê/doen
of nie wil hê of doen nie, en gebruik gevoelswoorde.
- Moenie verplig
voel om altyd redes vir jou standpunte te gee nie (veral nie as jy in 'n ongemaklike
of moontlik gevaarlike situasie is nie).
- As jy nie iets wil doen wat
'n vreemdeling of bekende persoon wil hê jy moet doen nie omdat jy weet
of aanvoel dat dit verkeerd is, jou ongemaklik of bedreig laat voel nie, sê
duidelik, beslis en kalm "Nee".
- Sê wat jy bedoel en
hou daarby.
- Dink vinnig - soek vir moontlike oplossings uit die probleemsituasie.
- Onthou dat assertiwiteit nie noodwendig aggressie beteken nie.
Een
van die eienskappe van muise in kinderliteratuur is dat hulle dikwels op humoristiese
wyses uitgebeeld word. Humor is ook 'n integrale deel van die storie van Die
Goorgomgaai, wat daartoe bydra dat die leser/kinders met die oënskynlik
onbelangrike en swak klein muisie en sy/haar sukses onder moeilike omstandighede
identifiseer. Die Goorgomgaai is 'n verhalende vers wat van so vroeg
as drie jaar tot ongeveer agt jaar (selfs deur ouers kinders) geniet kan word.
Jan van Coillie (1999:99-101) verduidelik dat kinders in die volgende ouderdomsgroepe
gewoonlik soos volg op humor ingestel is:
- 3- tot 5-jariges geniet
inkongruensie (onversoenbaarheid), die ongewone, herhaling, die skep van verwagtinge,
verrassings en onverwagte ooreenkomste.
- 6- tot 8-jariges geniet steeds
dieselfde soorte humor, maar vind ook oordrywing/hiperbool, eksperimentering met
die taal en fonetiese /klankmanipulasie, rym en ritme humoristies indien dit humoristiese
gebeure of karakterisering in verhale en gedigte ondersteun.
Daar
is talle wyses waarop die verband tussen assertiwiteit, die lokus van kontrole
en die humor in Die Goorgomgaai ondersoek en vereenvoudigend-verduidelikend
saam met kinders gelees kan word. Een daarvan is om die muis se optrede te volg
soos wat dit in die verhaal as proses ontvou. Wanneer die boek oopgemaak
word, gaan die leser en luisteraar stil deur die eerste dubbelbladsy-donkergroen-en-bruin-illustrasie
in die bos in, en lees dan wanneer die storie begin, die volgende: 'n
Muis gaan stap deur die donker bos.
'n
Vos sien die muis en hy dink aan kos.
"Waarheen
stap jy, liewe Muis?
Kom
eet by my in my jakkalshuis." Hierdie woorde verskyn ook op die agterkant
van die boek, en kan 'n aptytwekker wees van die moontlikheid van iets spannends
binne-in die boek/in die verhalende gedig; dit lei die leser/luisteraar die spannende
verhaalgebeure en die storie-op-rym-ervaring binne. Die poëtiese taalgebruik
bewerkstellig 'n besonderse bekoring wat die gehoor spoedig kan boei. Van hierdie
poëtiese aspekte is dat die gedig 'n sterk ritme het, wat Philip de Vos heel
vernuftig ook in die vertaling behoue laat bly het. Die gedig is geskryf in oorwegend
afwisselende jambiese en daktiliese metrum, dit het verse van wisselende lengte
(daar is koeplette, tersines, kwatryne en sestette), en dit het deurgaans 'n sterk
patroon van paarrym. Omdat kinders ritmiese wesens is en sterk op klank ingestel
is, sal die klankrykheid van die gedig hulle waarskynlik gou boei. Ander
wyses waarop die poëtiese aspekte van die gedig kinders mag boei, is die
speel met woorde en klanke en die humoristiese gebruik van beeldspraak. Die simboliese
betekenis van die bos, die voetpad en die verskillende diere sal moontlik nie
vir die kind bewustelik iets beteken nie, maar kan wel in sy onderbewuste aan
die werk wees - die simboolrykheid dra by tot die onderwerp en die tema, asook
tot die versterking van die onderbewuste aanvoeling van die kind oor wie reg en
wie verkeerd is in die gedig. Die gedig is só gestruktureer dat
'n proses ontwikkel waarin die oënskynlik niksvermoedende muis ongeërg
en sorgvry is aan die begin, maar dan drie roofdiere ontmoet wat hy moet uitoorlê.
Alhoewel daar geen bewys uit die verbale teks is dat Muis bang is vir hierdie
diere nie, kan aangeneem word dat Muis doelbewus sy/haar ware gevoelens wegsteek.
As Muis nie wys dat hy bang is vir die skelm-glimlaggende vos, die uil met die
skerp kloue en die half orente slang nie, het Muis 'n voordeel bo hulle wat deel
is van 'n assertiewe houding - dat hy nie sy vyand moet laat agterkom dat hy bang
is vir hom nie. Die wyse waarop die verhaal vertel word, laat deurgaans
blyk dat daar 'n positiewe aanname is dat Muis nie 'n slagoffer sal word nie.
Maar blote oorlewing is nie goed genoeg nie - die lewe behoort veel meer te wees
as die blote oorlewing van die sterkste of die slimste. Nadat Muis die roofdiere
uitoorlê het deur aan almal te vertel dat hy by die Goorgomgaai gaan eet,
glo hy steeds dat hy hulle afgeskrik het met 'n dier - die Goorgomgaai - wat hy
sommer self uitgedink het. Muis skrik hom skoon van sy voete af wanneer hy, in
die konteks van hierdie verhaal as dierefantasie, 'n "werklike" goorgomgaai
sien (vgl. die skaduwee onder sy voete in die illustrasie). Muis herstel egter
baie vinnig, en uitoorlê ook die Goorgomgaai deur die hele strategie net
om te keer. Muis en die Goorgomgaai loop terug op dieselfde voetpad en hy skrik
weer die Goorgomgaai af deur dié te laat glo dat al die diere in die bos
bang is vir hom wat Muis is. Op hierdie wyse het die verhaal ook 'n sirkelstruktuur
- uiteindelik vind Muis rustigheid en vrede, alhoewel die Engelse en die Afrikaanse
weergawes ietwat verskil. Die Engelse weergawe eindig gelukkig - met die vind
van 'n neut, terwyl die Afrikaanse weergawe 'n oop einde en weglatingspuntjies
het - wat óók positief geïnterpreteer kan word, maar wel met
die suggestie dat die gebeure herhaal kan word, en dat Muis maar op sy hoede moet
bly:
All
was quiet in the deep dark wood.
The
mouse found a nut and the nut was good.
vergeleke met:
Toe
stap die muis deur die donker bos
En
al wat hy soek is neutekos... Behalwe dat herhaling tipies is van
rym en ritme, is herhaling ook 'n integrale deel van die verhaal. Muis se reaksies
op die uitnodigings van die roofdiere word 'n belangrike refrein regdeur die verhaal.
So word ook die herhaaldelike beskrywings van die Goorgomgaai 'n patroon waaraan
luisteraars en lesers groot plesier kan hê, omdat hulle kan voel dat hulle
kan voorspel hoe Muis gaan reageer en dus saam met hom in beheer van die situasie
is; herhaling dra dus by tot versterking van die indruk van assertiwiteit, 'n
interne lokus van kontrole/beheer en tot die identifikasie met die hoofkarakter:
"Waarheen
stap jy, liewe Muis?
Kom
eet by my in my jakkalshuis" (uil - boomtophuis/slang - stompehuis)
"Rooihaarvos
(Hoehoe-uil/Slanke slang), jy's gaaf en fraai,
maar
ek gaan eet by die Goorgomgaai." Deur gebruik te maak van die
verrassingselement in die vertelstruktuur reg in die middel van die verhaal, kom
Muis van aangesig tot aangesig met die Goorgomgaai, wat hy gedink het bloot 'n
uitvindsel van sy verbeelding is:
"Domme
ou Slang, kan hy nie raai
daar's
glad geen ding soos 'n Goorgom ..." En met die omblaai van die bladsy
skrik die klein leser/luisteraar saam met Muis wanneer dié uitroep:
"
... gaai!"
Maar
wie is die dier wat wil kou en verskeur,
met
lang, lange naels en 'n bek soos 'n beer?
Hy't
knieë met knoppe, 'n horrelpootvoet
En
'n giftige moesie wat sit op sy snoet.
Hy't
borriegeel oë, 'n lang tong wat swart is;
'n
rug vol van stekels wat purper en hard is!
Liewe
tyd, kan jul nie raai?
Dis
die nare Goorgomgaai! (In die Engelse weergawe klink dit só: "Oh
help! Oh no! It's a Gruffalo!") Hierdie humoristiese omkeer
in die verhaal is 'n strategie om terug te verwys en om die storie in trurat te
sit, maar met 'n nuwe kinkel: nou moet vinnigdenkende Muis ook die Goorgomgaai
uitoorlê. 'n Interessante en humoristiese patroon ontvou: Muis gebruik die
skynvriendelikheid van die drie roofdiere en die intensies van die Goorgomgaai
teen mekáár, deur hulle juis vir mekaar bang te maak en af te skrik:
Die
Goorgomgaai sê: "Sapperloot!
Ek
gaan jou eet op roosterbrood!"//
Toe
piep die muis: "Jy Moet my los.
Ek's
die goorste dier in hierdie bos!
Kom,
volg my spoor. Loop agter my.
En
kyk hoe almal my vermy!" Dit blyk dat die soort humor wat die
meeste gebruik word, inkongruensie is. Alles in die verhaal wat nie is soos dit
veronderstel is om te wees nie, bring spanning, senuagtigheid, angs en kommer
oor die veiligheid van die muis - met wie die leser sal identifiseer - teweeg.
Kreatiewe kombinasies soos "vos op 'n broodjierol", "uil met geklitste
room" en "slange met gerookte ham" is alles voorbeelde van humoristiese
inkongruensie. Die taal speel 'n belangrike rol in die verkry van kontrole of
beheer in 'n situasie, hetsy beheer oor Muis/mens se eie vrese of beheer in 'n
situasie waarin Muis/die kind bedreig voel. Alhoewel daar vele moontlike
redes vir senuagtige gelag of beangste gille in die verhaal is, eindig die verhaal
met 'n gevoel van diepe vreugde. Maar wanneer die verhaal klaar gelees
is, besef mens meteens: dié Muis is eintlik 'n klein leuenaar! Hy vertel
die hele tyd wit leuentjies om homself te red. Die mees algemene humortipe waarvan
kinders hou, is inkongruensie, wat intrinsiek deel is van alles wat lyk asof dit
op 'n ongewone of selfs verkeerde manier gebeur. Om dieselfde rede is taboeverbreking
vir kinders dikwels vir kinders humoristies. Om 'n leuen te vertel is terselfdertyd
die verbreek van 'n taboe en 'n vorm van inkongruensie. 'n Muis wat gewoon wou
soek na 'n neut om te eet en dan leuens vertel om homself te red van vier roofdiere
wat duidelik die doel gehad het om vir Muis leed aan te doen/hom op te vreet,
sal nie probleme ondervind om bewonderaars onder klein lesers en luisteraars te
vind nie. Amanda Craig (2004) toon aan dat Muis die ander karakters vernuftig
uitoorlê: "The only non-predator in the deep dark wood, he (sic) just
wants to find a nut to eat, but in order to survive he has to tell lies. His lies
are very similar to those told by children facing bullies
" Indien
die verhaal vergelyk word met die teorie oor assertiwiteit (soos aanvanklik uiteengesit),
blyk die teorie en die verhaal wedersyds bevestigend te wees. Muis toon deurgaans
dat hy wakker en paraat is; hy is 'n goeie luisteraar en hoor elke klein stukkie
detail van wat die ander karakters sê. Hy sien onmiddellik wie elke roofdier
is en wat hulle intensies met hom is, en reageer in detail deur hulle op hulle
presiese name te noem en reageer op wat elk van hulle spesifiek gesê het
- behalwe toe die regte Goorgomgaai op die toneel verskyn; gelukkig het Muis sy
selfbeheersing byna onmiddellik herwin. Muis is dus proaktief, hy neem die situasie
telkens fyn waar, dink op sy voete en vind maniere waarop hy die roofdiere kan
afskrik. Muis is assertief: - Muis begin sy staptog met 'n positiewe
ingesteldheid: hy "gaan stap" met selfvertroue; hy loop nie huiwerig
of koes-koes nie.
- Muis is proaktief: alhoewel daar nie interne fokalisasie
is sodat die leser of luisteraar presies weet wat Muis dink nie, kan sy gedagtes
uit sy optrede afgelei word.
- Muis weet wat hy wil hê - sy vryheid.
-
Muis praat homself telkens uit die penarie/moeilike situasie uit.
- Muis
gebruik gevoelswoorde soos:
"Rooihaarvos, jy's gaaf en fraai, maar
ek gaan eet by die Goorgomgaai." - Muis maak nie allerlei verskonings
of verduidlik oormatig wat hy wil doen en hoekom hy dit wil doen nie; dit lyk
asof hy nie gedwing voel om sy besluite en woorde voortdurend hardop te probeer
regverdig nie.
- Muis sê kalm en ferm "Nee".
-
Muis sê nie eers "Nee" en bedink hom later weer nie; hy bly by
sy besluit en kom beslis voor.
- Muis soek vir oplossings - hy is deurgaans
kreatief besig met probleemoplossing - asof probleemoplossing deel is van sy lewenstyl.
-
Muis raak nooit aggressief nie; hy handhaaf homself op 'n beheerste wyse.
Deurdat
die luisteraar of die leser met Muis identifiseer, kan die kind groter assertiwiteit
ontwikkel en hom-/haarself moontlik beter in gevaarlike situasies handhaaf. Alhoewel
volwassenes die verhaal van Muis en die Goorgomgaai vir kinders op so 'n wyse
kan verduidelik dat die kind groter assertiwiteit en 'n interne lokus van kontrole/beheer
kan ontwikkel, moet die kind ook daarvan bewus gemaak word dat hy nooit die bose
moet onderskat nie of dink dat hy met die idee daarvan kan speel dat dit tog nie
bestaan nie, of as dit wel vir hom 'n werklikheid is, dat hy dit altyd sal kan
oorwin nie; dit mag dalk net wees dat een of ander werklike Goorgomgaai oor sy
lewenspad kom. Nogtans kan kinders innerlik groei en sterk word deur lewenslank
boeke te lees waarin die bose deur die Goeie oorwin word. Bibliografie
Anon.
2004. Assertiveness: Participant Workbook. Potchefstroom : North-West University
(Potchefstroom Campus).
(Anon., http://www.reallyuseful.com/rug/films/gruffalo/
) The Gruffalo: The film home page. [Datum van gebruik: 2005/07/13.]
Craig,
Amanda. 2004. The Gruffalo: Tricksters in the deep dark wood. The Telegraph,
Aug. DeVito, J.A. 1998. The interpersonal communication book. New York
: Longman.
Donaldson, J. & Scheffler, A. 2005. Die Goorgomgaai. Kaapstad
: Human & Rousseau.
Donaldson, J. & Scheffler, A. 1999. The Gruffalo.
London : Macmillan. Van Coillie, Jan. 1999. Leesbeesten en boekenfeesten.
Leuven : Davidsfonds /Infodok. |