Een
van die min suksesverhale in die Afrikaanse jeugboekbedryf tans, is Tafelberg
se vertaling van die gewilde Amerikaanse reeks Goosebumps. Daar
is al heelwat geskryf oor die rede(s) waarom reeksboeke deur dekades nog steeds
gewilde literatuur vir kinders is en Grillers is geen uitsondering nie.
Grillers
is egter nie die tipe reeks waarin 'n nuwe intrige telkens rondom bekende karakters
gebou word en wat binne 'n bekende milieu afspeel nie. Dit vertoon ook nie die
bekende sikliese narratiewe struktuur van die tipiese reeksboek nie. Binne
dié struktuur begin die verhaal met gegewens wat bekend is aan die leser,
'n krisis ontstaan, dit word opgelos dan word weer teruggekeer na die ekwilibrium
soos aan die begin. In
Grillers is die enigste gemene deler dat die boeke daarop uit is om die leser
bang te maak. Vergelyk dié woorde op die buiteblad: "Leser, pas op - jou
hare rys op jou kop!" Die
voorspelbaarheid en bekendheid van milieu en karakter wat hoofsaaklik verantwoordelik
is vir reekse se gewildheid, lê dus hier in die grusame grillerigheid van
die verhale. Nuut
is dít ook nie. Mense, en veral kinders, hou daarvan om bang gemaak te
word. Dink maar aan spookstories om die kampvuur. Karakters met bonatuurlike (en
gewoonlik bose) kragte, fantastiese gebeure en die buite-werklike verskynsels
wat in hierdie verhale voorkom, is ook nie nuut nie. Nie een van hierdie stories
kom naby die klassieke Frankenstein of Dracula nie. Buitendien
is dit so dat kinderliteratuur dikwels die tendense in volwassene literatuur volg
en weerspieël. Grillers se konsep vertoon ooreenkomste met verhale van Stephen
King en ander populêre kontemporêre outeurs. Grillers
is aantreklik uitgegee en goed vertaal in keurige Afrikaans wat by die teikengroep
pas. Die karaktertekening is knap en teikenlesers kan met die verhaalgegewe identifiseer.
Die vrees wat in die verhale opgewek word, oorskry ook nooit aanvaarbare perke
nie, en die gewelddadige gebeure wat voor kom, ontstel nie my moederhart nie.
Die
antwoord op die vraag waarom Grillers klaarblyklik gewilder is as ander pogings
om oorspronklike Afrikaanse bangmaakreekse te skep - 'n stelling gegrond op informele
gesprekke met bibliotekaresses in Pretoria - het ek by die teikenlesers gaan soek.
Ses
gr. 7-leerlinge - drie seuns en drie meisies - van die Laerskool Menlopark
in Pretoria het elkeen 'n boek in die reeks gelees. Hier is die essensie van hul
kommentaar:
Kobus van Rooy: "Ek lees baie, want dit is relaxing. Ek hou van Grillers,
want daar is altyd 'n verrassing om elke hoek."
Lieb van Jaarsveld: "Ek hou van Grillers, want dit is skrikkerig en beskryf die
omstandighede ongelooflik goed. Ek lees redelik baie en beveel dit aan vir lesers
tussen die ouderdom van 9 tot 14 jaar."
Jonel Ras: "Ek het baie daarvan gehou om dit te lees. Ek lees nie baie nie, maar
ek het die boek geniet. Dit is opwindend en spannend."
Keren Stander: "Ek lees nie baie nie, maar ek het die Grillers wat ek gelees het,
baie geniet, want daar is altyd iets in wat jy nie weet nie en moet probeer uitvind."
Danielle Snyman: "Ek lees net wanneer ek 'n boek kry wat cool lyk. Ek hou
van Grillers, want dit laat mens gril en dit is baie, baie scary. Ek dink
enige tiener van 9 tot 13 (sic!) sal dit geniet om Grillers te lees."
Johan Poggenpoel: "Ek was baie bëindruk met die Grillers wat ek gelees het.
Op plekke was dit *#@& scary. Ek voel dis goed dat daar ook 'n Afrikaanse
weergawe is van die boeke wat kinders baie geniet en kan lees." Dit
lyk my die sukses van die boeke lê in hulle vermoë om die intrige so
aan te bied dat kinders, ten spyte van hulle bangheid, aanhou lees om uit te vind
wat gaan gebeur. Geen normdeurbrekende ontdekking nie. Inteendeel net 'n bevestiging
daarvan dat die trefkrag van die narratiewe teks in 'n spannende (en goeie) storie
lê. Geluk
aan Tafelberg dat hy dit reggekry het om nog 'n paar Afrikaanse kinders aan die
lees te kry met sy "cool" en "scary" Grillers. Koop dit gerus - daar is al veertien
boeke beskikbaar in die reeks - en ignoreer die gille uit die kamer. Dis van pure
plesier! Die
artikel het oorspronklik verskyn in Boekebeeld (28 Februarie 2000) Grillers
('n jeugboekreeks) deur R.L. Stine. Tafelberg (sagteband), R34,95.
|