Die
oorweldigende gewildheid van die Harry Potter-reeks het die hele węreld aan die
praat. Ook in die Afrikaanse pers het verskeie stories en berigte oor dié reeks
verskyn, veral in die lig daarvan dat die eerste twee boeke in die reeks deur
Janie Oosthuysen van Ouma Hester-faam vertaal is.
Harry Potter and the Prisoner of Azkaban (die derde Harry Potter-boek wat
geskryf is deur die Britse outeur J.K. Rowlings) verskil nie wesenlik van die
ander drie boeke in die reeks nie. Dis nie moeilik om te voorspel dat die boek
net so gewild soos sy voorgangers gaan wees nie.
Die volgehoue gewildheid van Harry Potter se avonture lę sekerlik gedeeltelik
daarin dat ons hier met 'n volbloed reeks te make het. In
The Prisoner of Azkaban is die hoofkarakter steeds Harry en hy bots steeds
met die Dursleys. Harry en sy twee boesemvriende, Ron en Hermione, is steeds leerlinge
aan die Hogwarts School of Witchcraft and Wizardy; daar is steeds goeie en slegte
onderwysers; hulle speel steeds Quidditch en "You-know-who'' is steeds die
dreigende onheil op die agtergrond. Soos
in enige goeie reeksboek is daar egter in The Prisoner of Azkaban 'n nuwe
sentrale intrige. Harry kom hierdie keer teenoor Sirius Black ('n ander gewaande
"dissipel'' van Voldemort) te staan. Daar is egter ook verskeie belangrike
en minder belangrike newe-intriges wat nuwe karakters aan die leser voorstel.
Harry verslaan weer in dié boek die Bose, maar natuurlik nie finaal nie daar is
gelukkig ruimte vir nog 'n boek! Op
my vraag waarom hulle so baie van die Harry Potter-reeks hou, het kinders deur
die bank gesę dat daar "op elke bladsy iets gebeur''. Sommige,
maar nie almal nie, het verwys na die humor (veral met betrekking tot die uitbeelding
van die Dursleys) en dat toordery "cool'' is. Op
grond van hierdie response en algemene tendense in hedendaagse jeugliteratuur,
lyk dit my asof daar enkele elemente uitgesonder kan word wat die basis vorm van
Harry Potter se gewildheid. In
die eerste plek is dit duidelik dat kinders baie waarde heg aan 'n verhaal waarin
die fokus op gebeure eerder as karaktertekening val. Hulle lees om te sien wat
gaan gebeur. Goeie karaktertekening is egter 'n bonus.
Soos in die boeke van die gewilde Roald Dahl, is die verteller uit en uit aan
die kant van die kinderleser. Oneerlike, pretensieuse en onsimpatieke grootmense
wat deel van die Britse establishment uitmaak, word genadeloos in die Harry Potter-reeks
ontbloot en bespotlik voorgestel. Dahl se boeke is om dié rede al deur sommige
literators as ongewens beskou. Hoe
dit ook al sy, dit is duidelik dat dié werkswyse byval by kinders vind en dat
hulle dit geniet. (Vergelyk in dié verband ook Janie Oosthuysen se boeke, veral
Juffrou Luisenbosch en die breinwassers.) Dit
is egter belangrik om in dieselfde asem te noem dat daar in Harry se węreld wel
volwassenes is waarop die kinders kan staatmaak en waarmee hulle kan identifiseer
en simpatiseer. Die intrige in Harry Potter and the Prisoner of Azkaban
moedig juis die jong leser aan om mense, en dit sluit grootmense in, nie op hul
baadjie te takseer nie. Wanneer
'n outeur daarin slaag om die skynheiligheid van die grootmenswęreld op so 'n
wyse bloot te lę dat dit die kinderleser laat lag, lyk dit vir my na 'n suksesresep.
In die Harry Potter-reeks word 'n fantasiewęreld geskep 'n totale nuut geskepte
verbeeldingswęreld wat bou op 'n węreld wat aan alle kinders bekend is. Hogwarths
is 'n skool net soos enige ander (behalwe dat ons terug is by die kosskool van
ouer, bekende reeksboeke!), maar ook heeltemal anders as alle ander skole.
Die oorgang tussen fantasie en werklikheid vind in die Harry Potter-boeke gemaklik
en heeltemal geloofwaardig plaas. Vergelyk byvoorbeeld die episode met die bus
in The Prisoner of Azkaban. Die
reeks versterk ook die gedagte aan 'n herlewing van die fantasieverhaal, veral
in jeugboeke. Daar is natuurlik fantasie in Dahl se tekste en hier ter plaatse
in Oosthuysen s'n, maar die gewilde gru-verhale soos die Goosebumps-reeks is in
wese ook fantasie. As
Harry Potter egter iets belangriks gedoen het, was dit om die doemprofete wat
twyfel aan die bestaansreg van die jeugboek, 'n bietjie in die bek te ruk. Daar
is kinders wat wil lees, mits die boeke wat aan hulle beskikbaar gestel word,
hul verbeelding aangryp. Hoewel
dit so is dat Harry Potter aanvanklik hoofsaaklik deur word of mouth bekend geword
het, is dit sekerlik ook waar dat die ophef wat daarvan in die pers gemaak word,
bydra tot die volgehoue verkope van die boek. Daarom
wil 'n mens hier 'n lansie breek vir Janie Oosthuysen se boeke wat in vele opsigte
groot ooreenkomste met die Harry Potter-reeks toon. Oosthuysen
het pas die C.P. Hoogenhout-prys vir jeugliteratuur gewen, en beter bemarking
van haar werk sal help dat die Afrikaanse kind nie die vreugde van hierdie uitstekende
tekste ontsę word nie. Die
artikel het oorspronklik verskyn in Boekebeeld (27 Maart 2000) |