Wie
het nie al skuldig gevoel as jy in 'n storie huil, maar by 'n begrafnis droogoog
staan? As jy 'n knop in die keel moet wegsluk as 'n heldin verkeerd verstaan word,
maar onaangeraak kyk na die werklikheid van TV-nuus? Dan het jy die toorkrag van
die storiewêreld ervaar. Het jy op 'n manier déél daarvan geword.
Daar is vandag baie oor stories en boeke gepraat - gesprekke wat mens moontlik
aan eie leeservaringe as kind laat dink het. Kom, speel bietjie saam en dink aan
'n boek wat as kind 'n groot indruk op jou gemaak het… êrens moet 'n boek of twee/drie
gewees het… dink bietjie terug… Wat
was dié boek? Waarom onthou jy dit nou nog? Was daar dalk 'n karakter wat 'n groot
indruk gemaak het? Hoe oud was jy ongeveer? Is daar moontlik 'n soort ooreenkoms
tussen die kind wat jy was, en dié spesifieke storie? Dié
inleef in 'n storie, storiewêreld hou dikwels verband met 'n mate van identifisering
met 'n karakter. Navorsing bevind dat in gewilde verhale daar deurgaans 'n karakter
is met wie die jong leser hom/haar graag mee wil identifiseer. Dis die onderwerp
waaroor ek wil gesels en by die tema aansluit.
Ek gaan kortliks aandag aan die volgende gee:
- Die
wyses waarop jong lesers lees en vlakke van betrokkenheid by 'n verhaal.
-
Vorme van identifisering ·
- Aspekte
wat identifisering (en dus leesgenot) bevorder ·
- Wát
sê dit oor die tema onder bespreking, naamlik of kinder- en jeugboeke bestaansreg
het.
Die wyses waarop jong lesers lees en vlakke van betrokkenheid
by 'n verhaal. Alhoewel
die leesproses 'n individuele ervaring is, bevind verskeie studies 'n sterk verband
tussen ontwikkelingsfase en leesrespons. Volwassenes en kinders lees nou eenmaal
nie verhale op dieselfde manier nie. Dillon*
(1982:77-88) onderskei tussen drie basiese leesstyle (wyses
van lees) naamlik die karakter-aksie moraal styl, die delf na geheime en antropologiese
styl. Jong lesers maak hoofsaaklik van eersgenoemde gebruik. Hiervolgens word
karakters word as werklike mense beskou, terwyl hul ervaring as die van dié leser
self herken, en soos die eie verstaan en beskryf kan word. Waar volwassenes 'n
werk objektief kan ontleed, is 'n kind meer subjektief betrokke by die karakter
en gebeure. Dié afstand/ betrokkenheid wissel tussen totale verdieping in die
storie tot relatiewe verwydering en kritiese lees.
-
Projeksie in 'n karakter
hou in dat die leser as't ware die karakter word en die ervarings en gevoelens
van die karakter deel.
- Projeksie
in 'n situasie behels dat die leser saam met die karakters in die boek is,
maar nie met een van hulle identifiseer nie. Dié leser sien homself as toeskouer
of vriend van die karakter wat wel emosioneel betrokke is, maar nie die gebeure
kan beïnvloed nie.
-
Met assosiasie tussen boek en leser verbind die leser sigself en die werklikheid
met die karakter en situasies in die verhaal. Die beweging vind na beide kante
plaas: die boek word in terme van die eie wêreld gevisualiseer en die leser dink
hom/haarself in wat sy/haar optrede in 'n soortgelyke situasie as dié van die
karakter sou wees.
- Verwyderde
toeskouer geld wanneer 'n leser se ervaring beskryf word asof "bo" die karakters.
Alhoewel die leser emosioneel betrokke is en graag die uitkoms van gebeure wil
beïnvloed, staan hy/sy buite die gebeure.
- Verwyderde
evaluasie
is ter sprake wanneer 'n leser begrip vir karakters se emosies toon eerder as
om dit te ervaar. (Protherough, 1983:21-22*)
Alhoewel 'n direkte verband tussen ouderdom en leesresultaat nie bestaan nie,
kan tendense wel aangetoon word. Jonger kinders van 11-12 is meer geneig om wyses
1 en 2 te gebruik, terwyl modes 4 en 5 deur ouer respondente (14 jaar +) gebruik
word. Die ouderdomsgroep 13/14 kan in elke van die vyf kategorieë verteenwoordig
wees. Die vermoë om van 'n volgende modus van lees gebruik te maak, beteken nie
noodwendig dat die ander nie meer gebruik word nie, maar dat die leser nou meer
leesmoontlikhede tot beskikking het. Hierdie meerdere vermoë hou ook in dat 'n
leser tydens die leesproses ten volle by 'n karakter of in die storie betrokke
kan wees, maar daarná tot onbetrokke evaluasie in staat is. Die tendens van toenemende
distansiëring.
Vorme van identifisering
'n Leser identifiseer nie noodwendig met alle karakters op dieselfde manier of
met dieselfde mate van intensiteit nie. Jauss*
onderskei tussen verskillende vorme van identifikasie:
-
Assosiatiewe identifikasie:
In dié vorm van identifikasie verplaas die leser hom in die rol van die karakter
en word só 'n deelnemer aan die spel. (Dié interaksie kan 'n sterk sosialiserende
invloed hê.)
-
Bewonderende identifikasie:
Die karakter word as gevolg van sy/haar volkomenheid bewonder deurdat dit 'n besondere
heilige of wyse personasie is. (Hierdie identifikasie kan veranderinge in die
persoonlike of maatskaplike gedrag van die leser bewerkstellig.)
-
Simpatieke identifikasie:
In teenstelling met die volmaakte/heilige karakter het die held in hierdie geval
ook menslike swakhede. (Deur medelye met dié swakhede, vereenselwig die leser
hom/haarself met die held en kan in dié proses eie moontlikhede leer ken en insig
in die menslike situasie kry.)
- Katartiese
identifikasie:
Die held wat hier ter sprake is die lydende en humoristiese karakter (tragedie/
komedie). Die leser verplaas hom/haarself in die lydende held of die karakter
wat homself in 'n netelige situasie bevind. (Deur identifikasie word die leser
bevry van die spanning van die daaglikse bestaan en kom tot 'n selfstandige morele
oordeel.)
-
Ironiese identifikasie:
Dié identifikasie hou verband met die normdeurbrekende funksie van literatuur.
Die karakter is tipies 'n anti-held en lei tot vervreemding van die leser. Die
verskillende tipes identifikasie kan met genres verband hou. Waar die bewonderende
identifikasie in avontuurverhale geld, vra die realistiese probleemverhaal meer
'n simpatieke identifikasie.
Aspekte wat identifisering (en dus leesgenot) bevorder Hier
kan onderskei word tussen die aspekte wat veral met die teks, karakter of leser
te doen het. Die
teks:
Triviale/maklike teks lees makliker as meer literêre teks waarin die afstand tussen
die leser en teks groter is. Eersgenoemde moedig dus identifisering aan. 'n Teks
wat aandag op sigself vestig, verg gewis ander vaardighede van lesers as dié waarin
die klem op die storie en karakter is. Subgenres stel verskillende eise. 'n Speurverhaal
vereis meer aan denkvernuf en ontrafeling van 'n misdaad/geheim, as wat dit om
emosionele betrokkenheid by die karakter gaan. Die sukses van 'n rillers hierteenoor
steun sterk op die identifisering van die leser met die slagoffer vir opbou van
spanning. Dit blyk ook dat lesers, ongeag die tipe teks, herken- en identifiseerbare
karakters verkies.
Die leser: Ooreenkomste
tussen leser en karakter.
Ooreenkoms tussen karakter en leser 'n beter begrip en 'n groter mate van waardering
van die teks en karakter bewerkstellig, en tot identifikasie (bewondering, nabootsing)
lei. Dié ooreenkomste kan ooglopend wees, maar dit is nie noodwendig die geval
nie. Alhoewel ooreenkoms tussen leser en karakter tot identifisering kan bydra,
sluit verskille tussen leser en karakter dit nie uit nie. Ooreenkoms
ten opsigte van geslag; ouderdom; etnisiteit; ervaring-, leef- en beleweniswêreld.
-
Ooreenkoms ten opsigte van geslag. Jong lesers verkies dikwels verhale
waarin die sentrale karakter van die ooreenkomstige geslag is. Hierdie voorkeur
dui alreeds op 'n gewilligheid om met dié betrokke karakter te identifiseer. Die
waarneming word dikwels gemaak dat seuns nie graag "meisieboeke" lees nie; maar
dat meisies geredeliker boeke waarin manlike karakters figureer, lees. Waarskynlik
kan dié leesvoorkeure benewens die geslag van karakters ook toegeskryf word aan
die inhoud van die verhale, sowel as die ontwikkelingsfase van lesers. "Seunsboeke"
bevat gewoonlik meer aksie, uiterlike gebeure en avontuurelemente - aspekte waarby
meer lesers aanklank vind. Skrywers gebruik soms doelbewus beide geslagte as karakters
om sodoende meer lesers te betrek. Geslagsverskille blyk ook uit die neiging tot,
en proses van identifisering. Seuns geneig om van enige gevoel weg te skram -
ook in boeke. Meisies beskou identifikasie oor die algemeen belangriker as seuns;
is meer betrokke voel by die sentrale karakters; en ervaar 'n meer empaties-affektiewe
verhouding met die karakter.
-
Ooreenkoms ten opsigte van ouderdom. Kinder- en jeugverhale maak grootliks
van jeugdige sentrale karakters gebruik. Die veronderstelling is dat jong lesers
eerder met jong karakters sal identifiseer. Dié siening word nie deur alle skrywers
gedeel nie. Jeugdiges voel aangetrokke tot verhale waarin karakters van eie ouderdom,
of effens ouer, voorkom. Die voorkeur aan ouer karakters kan moontlik verband
hou met bewonderende identifikasie en wensvervulling. 'n Jong karakter waarborg
nie identifisering deur die jong leser nie. Die genre en diskoers (aard van die
teks) speel waarskynlik hier 'n groot rol. In 'n verhaal waar patrone en strukture
redelik bekend en karakterdoelwitte duidelik en herkenbaar is, kan die jong leser
hom/haarself maklik met 'n volwasse karakter vereenselwig Waar kinders en volwassenes
beide belangrike rolle in 'n verhaal vertolk, sal die jeugdige leser hom eerder
met die jonger karakter vereenselwig. Whitehead*
(1978:215) haal die studie van Wolfenstein aan wat ten opsigte van die storie
Sally and the Baby and the Rampatan, opvallende verskille in die identifikasiepatrone
van moeders en kinders bevind. Die moeders het hul met die swanger karakter geïdentifiseer,
en die kinders (4jr) hulself hul met Sally en die Rampatan-element vereenselwig.
- Ooreenkoms
ten opsigte van etnisiteit/ras.
Etniese en kulturele ooreenstemming as sulks lei nie noodwendig tot identifisering
nie. Of rasooreenkoms tussen leser en karakter identifisering gaan beïnvloed,
hang benewens die vertelstandpunt, saam met die betrokke verhaal en die eienskappe
en rol van die karakter; asook met die kulturele agtergrond en opvoeding van die
leser.
-
Ooreenkoms ten opsigte ervaring, leef- en beleweniswêrelde.
Daar bestaan nie eenstemmigheid daaroor of 'n gedeelde leefwêreld tot identifisering
kan bydra nie. Voorstanders van verhale waarin die kinders se leefwêreld (byvoorbeeld
myndorp/woonstelblok/landelike omgewing) uitgebeeld word, voer onder andere aan
dat kinders hulself en omstandighede in 'n verhaal moet kan vind en dat sodanige
verhale met meer begrip gelees en meer waardeer sal word (Radebe, 1996:187*).
Hierteenoor word die mening gehuldig dat ander lande, tye, omstandighede as dié
van die leser nie beperkend is ten opsigte van identifikasie nie. Whitehead*
(1978:252) ag die emosionele inhoud
belangriker as die ruimte van 'n verhaal. Instinktiewe bevrediging vind plaas
wanneer die emosionele behoeftes, vrese en konflik mees kenmerkend van 'n leser
se ouderdom en ontwikkelingsfase, aangespreek word.
Die
ooreenkoms tussen leser en karakter hoef dus nie 'n gedeelde ruimte of leefwêreld
te wees nie. Die gewildheid van sekere reeksboeke kan toegeskryf word daaraan
dat die leser 'n eietydse leefwêreld herken. Daar kan aangeneem word dat die leser
met makliker met sodanige karakters kan vereenselwig, aangesien dit voel asof
dit oor mense en omstandighede gaan wat hy/sy ken. **
Indien 'n karakter vreemd aan 'n leser is; vaag voorgestel word; en motiewe onduidelik
of onbegryplik is, word identifisering nie aangemoedig nie. Wanneer karakters
gekies word wat ooreenkoms met die waarskynlike leser toon - byvoorbeeld ouderdom,
geslag, etnisiteit, leef- en beleweniswêreld - is die karakter meer herkenbaar
en word identifisering makliker. Ooreenkomste maak nie altyd opwindende leesstof
nie: "It's strangeness, not familiarity, that excites our curiosity. It's hard
to imagine a blander character than one who is exactly typical of a certain group."
(Card:1988:79*).
Teks:
Vertelstrategie
-
Gesigspuntkarakter/ enkel fokalisator. Die verhouding wat deur die vertelstrategie
tussen leser en teks opgebou word, vestig reeds identifikasiemoontlikhede. Die
konstantheid van vertelstrategie beïnvloed ook die identifisering. Sommige subgenres
steun sterk op die leser se identifisering met die protagonis. Die sukses van
heelwat speur en avontuurverhale kan byvoorbeeld toegeskryf word aan die vrees
wat opgewek word deur gevaar asof deur eie oë te beleef.
-
Verteltegnieke.
Om 'n karakter van binne te ken, bevorder identifikasie. Tegnieke waardeur 'n
karakter van binne (gedagte- en gevoelslewe) geleer ken word, is benewens die
vertelstandpunt, ook verteltegnieke soos selfopenbaring, vrye indirekte rede en
bewussynstroomtegniek. Die gebruik van briewe, dagboekframente en die kwasi-onthullende
karakter van die ek-vorm kan tot sterker identifisering bydra.
-
Struktuur van die teks. Identifisering word aangemoedig indien die sentrale
karakter reeds vroeg in die verhaal bekend gestel word, en by aksie, dialoog of
denke betrokke is. Die karakter moet ook by die belangrikste gebeure sowel as
by die ontknoping, optree.
Eienskappe
van 'n karakter
Die eienskappe waarmee 'n karakter toegerus word en die wyse waarop dit meegedeel
word (persoonsbeskrywing), kan die leser se repons ten opsigte van 'n karakter
rig/manipuleer. Lesers identifiseer graag met positiewe karakters. Aantreklike
persoonseienskappe en voorkoms kan tot simpatie bydra mits dit nie oordrewe is.
'n Eensydige goeie/ aantreklike karakter wat te perfek, te goed, slim of mooi
is, kan die leser ontoereikend laat voel. 'n Karakter wat in 'n moeilike of onbenydenswaardige
situasie verkeer, wek simpatie en verhoog lesersbetrokkenheid. Behoeftes, begeertes
en drome wat die leser verstaan, dra by tot begrip vir die karakter se optrede
en kan identifikasie bevorder. "Once we're caught up in a character's plans and
dreams we're on her side almost without limit. (…) As a general rule, audience
sympathy increases with the importance of the character's dream and the amount
of effort the character has already expended to try to fulfill i." (Card, 1988:82*).
Lesers
verkies karakters wat 'n duidelike doel voor oë het, en nie bloot op gebeure reageer
nie. Identifisering vind eerder plaas met die karakter wat ten spyte van terugslae
oorwin, as met die verloorder. Karakters wat waagmoed aan die dag lê, regverdig
optree, 'n positiewe houding teenoor ander en die lewe het, as vrywilliger optree,
betroubaar en inoverend is, en menslike swakhede openbaar, wek meer simpatie.
Lyding, opoffering, dreigende gevaar, seksuele spanning, tekens en voorbodes (byvoorbeeld
natuurverwysings) dra by tot betrokkenheid by die karakter en besorgdheid oor
die uitkomste. **
Alhoewel die spanning wat 'n leser ervaar afhanklik is van die emosionele gesteldheid,
verbeelding en vaardigheid van die leser, is die keuses van die skrywer ook baie
belangrik. Wanneer 'n leser besorg is oor karakters en hul wel en weë, word deelname
by die verhaal en besorgdheid oor verhaaluitkoms verhoog. Die
skrywer kan deur die karakterkeuse, -toerusting, -beskrywing, en -handeling; die
keuse van ruimte en situasie; asook deur verhaalgebeure, die afstand tussen leser
en karakter beïnvloed. Identifisering met 'n karakter word sodoende aan- of ontmoedig.
Die aard van identifikasie -- assosiatiewe, bewonderende, simpatieke, katartiese
en ironiese identifikasie - sal waarskynlik sterk verband hou met die keuse, eienskappe
en optrede van die karakter in die verhaalgebeure. Wát
sê dit oor die tema onder bespreking?
Dit is waar dat jeugdiges dikwels boeke lees wat vir volwassenes bedoel is - soos
beweer is. Waneer 'n mens nagaan watter boeke dit is, blyk dit dat grootliks die
gewilde verhale is wat van relatief vaste patrone gebruik maak - en gewoonlik
'n karakter het met wie die leser gou kan identifiseer, wie se doelwitte duidelik
en verstaanbaar is - die leser raak geinteresseerd daarin of dié karakter in sy/haar
doel gaan slaag. Dit is 'n eng beskouing om dié leser sy leesplesier te ontneem
- nét soos dit is om 'n jong leser wat graag met jeugdige karakters wie se ervaringe
vir hom begryplik is, met wie se doelstellings hy/sy hom/haar kan vereenselwig;
met wie avonture gedeel kan word - dié ervaring te misgun.
Ek sluit met 'n opmerking van Leeson: "To survive, a literature needs books
of all kinds, and it needs readers of all kinds, and above all it needs more of
every kind" (Leeson, 1985:186*).
(Voordrag
gelewer op 10 September 1999 by 'n seminaar oor die jeugboek en die tiener
as leser/nie-leser aangebied deur die Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur,
Unisa. Die seminaartema was: Die Jeugboek: 'n Kunsmatige Genre geskep deur Bibliotekaresses?)
-
Verwysings
-
- CARD,
O.S. 1988.
- Characters
and viewpoint. Cincinnati, OH: Writer's Digest Books. 182 p.
-
DILLON, G. L. 1982.
- Styles
of reading. Poetics Today, 3(2):77-88.
- JAUSS,
H.R. 1977.
- Ästhetische
Erfahrung und literarische Hermeneutik 1. München: Wilhelm Fink. 382 p.
- LEESON,
R. 1985.
- Reading and
righting. London: William Collins. 193 p.
- PROTHEROUGH,
R. 1983a.
- Developing
response to fiction. Milton Keynes: Open University Press. 212 p.
- RADEBE,
T. 1996.
- Context and
culture as a factor in black children's responses to books. (In Machet, M., Olën,
S. & Van der Walt, T. eds. Other worlds other lives: children's literature
experiences. Pretoria: Unisa Press. 1:184-202.)
-
WHITEHEAD,
F., CAPEY, A.C., MADDREN, W. & WELLINGS, A. 1978.
-
Children and their books. Hampshire: Macmillan Education Ltd. 335 p. (Schools
Council Research Studies.)
|