Die
wenboeke van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2000 pryk elk met die soort omslag
wat aandag trek, begeerte wek en aanspoor tot die daad. IZAK DE VRIES het gaan
inloer by dié kunstenaar wat almal aan die praat het met die byderwetse,
nieu-retro gevoel van dié boeke. Tertia
du Toit woon in 'n blou huis en haar klere is so helder soos die son. Die byklanke
in haar huis vertel amper meer as die gesprek: Drie woelwaterseuns wat koeksisters
bedel en speelgoedmotortjies aan hul ma kom wys, haar onderwyser-man se opregte
belangstelling in haar werk... Sonder pretensie borrel die lewe voort om haar
skilderye wat oral in die huis hang. "Hoe
skep jy 'n voorblad?" wil ek weet. Sy
lees die manuskrip deeglik, op soek na elemente wat haar opval. Daarna werk sy
ook deur die uitgewers se flaptekste - dit wat vir hlle verkoopbaar is.
"Ek fokus gewoonlik op die hoofkarakter en van daar probeer ek om die atmosfeer
van die boek vas te vang." Mense
is vir haar belangrik. Tog onderdruk sy haar eie beelde oor die karakters genoegsaam
om universele figure te probeer skep. Lesers vorm hul eie prentjie van die karakters
en wil nie oordonder word deur die kunstenaar nie. "Ek is eintlik 'n skilder,
en benader voorblaaie baie soos my portrette. Dis merendeels my mening oor 'n
boek wat ek deur 'n klein, kommersiële skilderytjie probeer oordra. Dit is
natuurlik so dat hoe meer vryheid 'n kunstenaar gegun word, hoe meer skeppend
kan jy te werk gaan. Louise Steyn van Tafelberg het my die ruimte gegee om nie
bloot 'n hard-sell, kommersiële aanslag te gebruik nie, maar om my eie vertolkings
te doen - en dit het letterlik vir my 'n nuwe medium geword waarin ek my volledig
kon uitleef, dieselfde gevoelens kon oordra as in my skilderye." In
die geval van The worst year of my life - so far kon sy gou met die hoofkarakter
identifiseer. Dit gaan egter nie altyd so maklik nie. Geraamtes dra nie klere
nie was 'n baie moeiliker boek. Sy het die meisie in die verhaal heeltemal
te jammer gekry... Uiteindelik is die geraamte as hooffiguur uitgebeeld, maar
die grusaamheid daarvan is verlig deur dit as 'n tipe kaleidoskoop te benader.
In Die somervakansie wat te lank was is 'n seun se gebrek weer verwerk om die
fantasie-elemente in die verhaal op die voorblad uit te lig. Hoe word 'n pigmentgebrek
oorgedra? Because pula means rain spog met 'n warm, sonnige voorblad en
'n hoed wat die draer se gesig afskerm. "Die element van lig en iets wat
skyn, is die hoofelement in al my skilderye. Vir my is dit 'n geestelike lig,
maar of dit uiterlik of innerlik manifesteer, hang van die tipe boek of figuur
af. Kleur is ook belangrik, maar vir my gaan dit om die lig." Njeng
manong fa ke sule! se aasvoëls (manong) word ook pósitief uitgebeeld
deur warm kleure op hul kragtige vlerke te konsentreer. Met Isahluko sokugqibela
se voorblad wou sy die outeur se Afrika-trots verbeeld. Pla dit haar nie dat sy
nou haar kuns kommersieel moet verpak nie, wil ek weet. "Ag,
dis gelukkig 'n issue wat ek lankal deurgewerk het," antwoord sy onmiddellik.
"Iemand wat binne grense nog steeds goeie goed kan lewer... dis juis nice!
En, belangrik, kommersieel beteken nie noodwendig 'minder' nie, eerder meer. Om
tien van dieselfde kunswerk te maak sou vreeslik wees, maar om een te skep en
te sien hoe dit in duisende versprei word, is 'n great voorreg." Tertia
was 'n hele ruk verbonde aan die Open Window Art Academy waar sy eers as dosent
en toe bestuurder ander opgelei het. Maar die rotteren was te veel vir die kinders.
Hulle het Kaap toe getrek om saam meer tyd as gesin deur te bring - en ook hier
druk sy haar stempel af, nie net as ontwerper van boekomslae nie... Die agentskap
wat Douglas Green se wyn bemark, het onlangs die International Wine Awards gewen
met hulle etikette en is nou 'n finalis in die London Awards. Dis
Tertia du Toit se kleurvolle skilderye wat op daardie etikette pryk. Izak
de Vries is die redaksionele bestuurder van LitNet en die skrywer van Kom
slag 'n bees. |