|
"Tien jaar van nou af, gaan ek die produk wees van die
mense wat ek ontmoet het, die keuses wat ek gemaak het en die boeke
wat ek gelees het."
Lees is die enkele grootste faktor wat hoërskoolleerders se
prestasie beïnvloed. Daar is 'n direkte verhouding tussen leesvlak
en akademiese prestasie.
Hoe maak ek van my kind 'n leser?
Begin met VOORLEES!
Wat is voorlees: dit is om saam-saam 'n boekie deur te blaai en
op die vlak van die kind te lees, te kyk, uit te wys of saam te
lees.
Wanneer begin mens?
- Van so vroeg as drie maande, sodra die baba reeds op die
skoot kan sit. Badboekies, vat en voel boekies, bladsye met
eenvoudige helder prente. Taal is NB, so ook die gevoel van
geborgenheid en opwinding.
- 2 - 4 jaar: prenteboeke steeds NB, prente kan al meer kompleks
wees. Eenvoudige verhaaltjies. Voorspellings elemente NB...
wat gaan nou gebeur? Otto boeke! Enige boeke met flappe wat
oplig, interessante prente en teks. Teks wat rym raak vir die
kinders al lekkerder!
- Vanaf 5 jaar: verhale raak meer kompleks, kind aktiewe meeleser.
Rym raak nou ook baie belangrik: dit leer die kind voorspel.
Dis ook krities vir sy pre-leesvaardighede om die beginsel van
eindklanke wat rym, te verstaan en te geniet.
- Vanaf 7 + : selfs 'n kind wat al self kan lees, baat by voorlees...
selfs 70 jariges hou van voorlees!
NB: waar daar meer as een taal in die huis gepraat word, is die
goue reël: een gesig, een taal! Ma en pa kan in hul eie tale
aan die kinders voorlees. Maak net seker die ankertaal is goed gevestig.
Waarom voorlees?
- dis 'n intieme ouer-kind geleentheid (of ouma/oupa/stiefma...)
- vergroot woordeskat
- dra by tot taalgevoel en taalbegrip
- prikkel fantasie
- oefen luistervaardighede en konsentrasievermoë
- sitmuleer emosionele en sosiale vaardighede ... terapeutiese
lees, vir spesifieke situasies, soos dood, vriendskappe, egskeiding,
maatjies, boelies, gestremdheide... (Vita Stories)
- motiveer die kind om self te lees
- stimuleer oogbeweging van links na regs
- stimuleer fynmotoriek en lateraliteit
- stimuleer intellek: ouer kinders word geprikkel om uit te
vind hoe dinge werk, self verder te lees.
INTERAKTIEWE VOORLEES! JY KAN! 10 TIPS
OM 'N KAMPIOENVOORLESER TE WORD.
- Keuse: weet wat jy gaan lees! Kyk eers self na die boekie:
jy moet self daarvan hou. Wees opgewonde oor jou keuse! Lees
met entoesiasme.
- Soms is dit goed om saam met die kind 'n boek uit te soek.
- Julle eie voorleesritueel: maak dit 'n daaglikse roetiene
- 'n vaste plek soos 'n leunstoel, in die bed, ens. Slaaptyd
kan 'n baie goeie plek en tyd wees.
- Laat die kind saamgesels. Vra sy opinie. Reageer op sy kommentaar.
- Rollespel, soos in Gouelokkies.
- Speel op sy reaksies, brei uit as hy na iets verwys.
- Voorspel saam die verhaal. Wat dink jy gaan nou gebeur?
- Woordeskat: verduidelik nuwe woorde.
- Maak dit lewendig! Bv geluide van diere, karakters se stemme,
ens.
- Moedig die kind aan om die storie oor te vertel, al is dit
aan sy speelgoed, bababoetie of pa!
- Herhaling: lees die boek 'n paar keer. Kinders kry groot
geborgenheid uit die herhaalde voorlees van boeke. Dit voel
of hulle beheer het oor die storie.
(Peuter place, www.peuterplace.nl)
Wat moet ek lees/voorlees?
Lapa, NB, Protea, Leserskring of ander uitgewers se boekelyste
gee 'n goeie idee van wat beskikbaar is.
Waarom nog steeds feëverhale? Feëverhale (sprokies) soos
Rooikappie is vir eeue al mondelings oorgedra: dit moes dien as
"bangmaakstories" om dogters teen mans te waarsku. Broers
Grimm het in die 18e eeu die volksverhale begin opskryf en geromantiseer.
Begin met Gouelokkies en die drie bere, Die drie varkies: baie herhalende
elemente. Sneeuwitjie, Doringrosie, Jan en die Boontjierank, Rooikappie,
Aladdin: verhale word meer kompleks.
Eietydse verhale soos Babalela, Otto, ens.
Feëverhale (sprokies) bied:
- gedeelde verwysingsraamwerk
- heldedade, gevolge van ongehoorsaamheid,
- goed en kwaad word altyd duidelik omlyn
- towerwêreld - fantasie
- lewenslesse uit fabels: triomf van gesonde verstand, goed
oorwin kwaad
- daar is altyd 'n oplossing, 'n happily ever after.
Fabels: die ou fabels van La Fontaine, Afrika fabels of eietydse
fabels. Dit is in essensie 'n storie met 'n les, wat deur diere
vertel word.
Jakkals en die kraai, Die leeu en die muis; Die mier en die sprinkaan;
Die stadsmuis en die plaasmuis; Die padda en die bees. Fabels leer
kinders speel-speel lewenslesse, bv Wees tevrede met wat jy het;
jy hoef nie sterk te wees om slim te wees nie; oppas vir mooipraatjies!
NOG 'n PAAR GEDAGTES:
Lesers kweek lesers! Beperk asseblief TV kyk en rekenaarspeletjies
- nie net vir die kinders nie, vir ouers ook! Kinders is groot na-apers
- hulle doen wat ma en pa doen.
Sluit by 'n biblioteek aan. Die lekker van saam boeke uitsoek, is
blywend!
'n Boek is 'n baie cool geskenk! Maak jou kind opgewonde daaroor
om boeke as geskenke te gee en te ontvang.
Tot tyd en wyl almal met 'n Ipad rondloop, geniet dit om boeke te
BLAAI. 'n Boek se battery kan nie pap word nie!
|