|
Jongmense
aan die woord oor die invloed wat biblioteke en onderwysers op hul liefde vir
boeke en lees gehad het. "In die kleuterskool het ons altyd
'n leesuur gehad waarin die onderwyser vir ons 'n storie voorgelees het. Ons kon
rustig op kussing ontspan, vergeet van klas en jou verbeelding kon weghardloop
met jou. Daarna kon jy vir jou 'n boek uitsoek wat jy kon lees tot die res van
die uur verby is. Dit was seker die lekkerste tyd van klas!" (Ellanie Smit) "Maandae
is ons biblioteek toe en het teruggekom met soveel boeke as wat ons mag uitneem.
Dit was die hoogtepunt van my week." (Carien Roberts) "Die lekkerste
leestye was toe ons biblioteek toe gegaan het en Daantjie Kat vir ons kom kuier
het en Vrydagmiddae se storietyd by ons biblioteek. Ons het gereeld gegaan en
gaan luister. Daar was altyd oulike uitbeeldings waar die bibliotekaresse haar
kreatiwiteit rondom die storie uitgeleef het deur tematies aan te trek, of 'n
poppekasvertoning aanmekaar te slaan." (Dirkie Steyn) "My ma het
ons kinders gereeld na die dorp se biblioteek geneem waar ek twee boeke kon uitneem
omdat ek nog 'n kleuter was. Daar het sy my gelos in my "spesiale" afdeling
waar al die kinderboeke is en kon ek rustig op my eie 'n boek vir myself uitkies.
Ek kon toe nog nie lees nie, maar die prente in die boeke was altyd so kleurvol
en mooi dat ek die storie kon aflei sonder dat iemand dit vir my moes voorlees."
(M Laas) "Ek was bevoorreg om in 'n huis groot te word waar ons boeke
respekteer. My ouers het van kleins af vir my stories gelees en ek het my eerste
biblioteekkaartjies gekry die dag nadat ek twee geword het. Ek kon eenvoudige
boekies lees toe ek so vier, vyf jaar oud was. Toe het my ervaring en waardering
van stories eers werklik posgevat. Elke Donderdagoggend het my ma ons biblioteek
toe geneem waar ons na die poppekas in die kinderbiblioteek gekyk het. Gedurende
skoolvakansies het ons die lekker program in die biblioteek se teatertjie geniet.
Stories het my verbeelding aangegryp en ek kon ure speel en stories by myself
opmaak." (Marizanne Pretorius) "Ek onthou nog die eerste vakansie
toe my ma vir my en my sussie biblioteek toe gevat het. Dit voel nog soos gister
wat ek nog tussen die rakke deur gesoek het vir 'n lekker boek om die vakansie
te lees. Ek het nooit regtig die gepaste boeke vir my gekies het. Ek het altyd
die boek gevat wat die kleurvolste en mooiste buiteblad gehad het." (Mia
Lindeque) "Ek was gek oor lees, en het reeds op 'n jong ouderdom by
die biblioteek aangesluit. Ek onthou nog hoe ek op 'n Saterdagoggend ure in daardie
biblioteek kon spandeer." (Gerda de Klerk) "In graad een of twee
het die onderwyseres 'n boekrak gehad wat propvol kinderboeke was. Ons moes ten
minste een boek elke week of twee weke gelees het. Ek het omtrent drie boeke 'n
week gelees. Dit was vir my 'n fees! Ek was mal oor lees en sou dit veel eerder
doen as om met poppe te speel." (Mandy Engelbrecht) "Ek kan onthou
toe my standerd een Juffrou vir ons voorgelees het uit Saartjie en Trompie. Wanneer
ons huiswerk klaar was vir die dag, sou ons almal op die mat gaan sit het en sy
sou vir ons gelees het. Die meisies het mekaar se hare gevleg en die meeste seuns
het op hul mae gelê en luister. Dit was die beste tyd van die dag. Ons het
almal so uitgesien daarna, ons wou so graag hoor wat verder gaan gebeur."
(Corneli du Plessis) "In graad drie het my onderwyseres 'n kompetisie
aan die begin van die jaar begin wat regdeur die jaar sou plaasvind. Sy het 'n
groot versameling leesboekies gehad en ons moes soveel die jaar lees as wat ons
kon. Wanneer jy 'n boekie klaar gelees het, moes jy 'n begripstoets daaroor doen,
en dan het jy 'n lekkertjie gekry. Omdat ek so 'n groot passie vir lees gehad
het, het ek die boeke verslind. Aan die einde van jaar het ek die prys gewen vir
die oulikste boekwurm, en het ek die meeste boeke gelees. Dit was vir my
'n groot eer." (Alzaan Sobiech) "My liefde vir lees het geleidelik
begin ontwikkel toe ek agt geword het. My juffrou het 'n stelsel geskep waarmee
jy 'n goue sterretjie kry vir elke boek wat jy klaar gelees het. Dit het vir my
so kompeterend geraak dat ek al die boeke in die sillabus verslind het en ek moes
aanbeweeg na standerd twee boeke!" (Carine du Preez) "Omdat ek
in 'n plattelandse dorpie grootgeword het en aan minder dinge blootgestel was,
was 'n boek altyd vir my 'n wonderlike ervaring. Ek onthou toe ek in graad een
was, dat ons die Boet en Saartjieverhaal altyd gelees het. Dit was net vir my
wonderlik om hulle ervaringe mee te maak. Boeke het my ontvlugting gebied na 'n
wêreld anders as my eie. Met die koms van 'n bibliotekie by ons skool, was
ek baie opgewonde. Ek en my maats het sommer pouses daar gaan deurbring. Toe het
ek nog gehou van kleurvol geïllustreerde boeke. Toe ek nog nie Engels verstaan
het nie, het ek graag Engelse boeke met kleurvolle prentjies gelees en my verbeelding
laat gaan. Boeke bied my nog steeds daardie magiese ontvlugting..." (Dennise
Kordom) |