"Danksy
my ouma het my liefde vir lees ontwikkel en ek sal haar ewig dankbaar wees daarvoor!"
Stephan
Fanoy en ander jongmense vertel van die invloed wat 'n oupa of ouma op hul belangstelling
in stories en lees gehad het. "Ek het op Dordrecht groot geword,
en omdat die meeste van my maats op plase gebly het, was dit moeilik vir my ma-hulle
om my die hele tyd na 'n plaas toe te ry. Die kleuterskool wat ons daar gehad
het, was ook net op Maandae en Vrydae oop gewees, so ek het maar die meeste van
my tyd voor ek laerskool toe was by my Ouma-hulle op Warmbad spandeer.
Elke aand, as my oupa-hulle en ek nou klaar gebad het en ons klaargemaak het om
te gaan slaap, het my ouma vir my stories gelees. Sy het so dik storieboek gehad,
maar nie met al die bekende stories soos Rooikappie ens. daarin nie. Nee, die
storieboek het stories gehad soos: Katinka Kuiken se Vakansie (wat ook
my gunsteling storie in die boek was). Elke aand het dieselfde begin. My
ouma het gesê dat sy net een storie gaan lees en ek het gesê dit is
reg. Na die eerste storie klaar was het ek haar gesmeek om asseblief tog net die
volgende storie te begin lees. En na die storie het ek gesmeek om nog net een
te hoor en so het dit aangegaan, totdat ons die hele boek deurgelees het.
En omdat ek elke aand die stories gehoor het, het ek hulle naderhand heeltemal
uit my kop geken. As my ouma dit dan durf waag om 'n woord verkeerd te lees of
om woorde om te ruil, het ek haar reggehelp. Dit het my oupa altyd laat lag.
Elke keer as my ouma dan agterkom dat ek die boek uit my kop ken, het sy 'n nuwe
boek gekoop, sodat sy elke aand in vrede kon lees, sonder om deur 'n bogsnuiter
reggehelp te word. Een van my ander gunstelinge wat my ouma toe gekoop het was
Tjoeke-tjoek, die Babatrein. En ek het naderhand almal in die familie na
'n trein wat in die boek voorkom vernoem. Later, toe ek so vyf jaar oud
was, het my ouma toe vir my Storieman gekoop. Met die eerste uitgawe het
hulle eers net die boek gestuur en my ouma het vir my daaruit begin voorlees,
en ek het dadelik daarvan begin hou. Ek het die kasset eers gekry toe ek weer
huis toe is en ek het dit oor en oor geluister tot my broer wou mal word daarvan!
(Ons het toe nog 'n kamer gedeel.) Elke keer kon ek nie wag tot die volgende
boekies en kassette gestuur word nie. En as dit gekom het, het ek eers die boeke
deurgeblaai en my verwonder aan die pragtige prentjies, van die sinne gelees en
dan het ek na die kassette begin luister. Danksy my ouma het my liefde
vir lees ontwikkel en ek sal haar ewig dankbaar wees daarvoor!" (Stephan
Fanoy, 18) 
"'n
Ervaring wat ek onthou van lees toe ek klein was is as my ouma by ons kom kuier
het en ek in die oggend wakker geraak het, het ek by haar gaan inkruip met 'n
boek. Sy het dan vir my elke oggend 'n stukkie uit die boek gelees en ek kon nie
wag tot die volgende oggend om te hoor wat verder gaan gebeur nie. Ek dink my
liefde vir lees het daar begin ontwikkel." (Ellanie Smit) "Toe
ek omtrent drie jaar oud was, het my ouma probeer om my te leer lees deur 'n kinderboek
te vat en vir my dit voor te lees en dan moet ek dit lees. Alhoewel ek nie die
swart goed op die papier verstaan het nie, het ek my ouma se woorde met die prentjies
geassosieer." (Jacques du Toit) "Die lekkerste leeservarings wat
ek as kind gehad het, was dié op my oupa en ouma se plaas, Drieklip, net
buite Bothaville. Wanneer ek as kind by hulle op die plaas gaan kuier het, het
ons elke oggend in die sonkamer gaan sit en lees. Ek kon die boek kies, en saam-saam
het ons dan die storie gelees. My ojma kon die stories so werklik en wesenlik
maak, dat dit my elke slag verstom het. My ouma het gepaste stemme vir elke karakter
gehad. Die wolkf het 'n diep basstem gehad en het selfs gegrom, terwyl die oumatjie
se stem gebewe het van ouderdom. Ek sal altyd die ervarings koester." (Marizanne
Pretorius) "My ouma-plaas het altyd vir my en my sussie die groot sprokies
gelees en ek kan nog duidelik onthou hoe sy altyd gehuil het wanneer Heidi weer
by haar oupa uitkom." (Febé-Marié Potgieter) "My
ouma het altyd hope storieboeke gehad. Sy het altyd in die midde op haar bed gaan
lê en storieboek lees. Ek het eers net by haar gaan lê, maar ouma
wou nie gesels nie - toe begin ek maar lees. Hulle sê mos: "if you
can't beat them, join them". Dit was naderhand soos 'n reël: jy gaan
lê nie langs ouma sonder 'n storieboek in jou hand nie." (Marlie Grove) "Leeservarings
wat my vir altyd sal bybly is dié van Alba Bouwer. My ouma het my aan haar
boeke voorgestel, en as ek die dag nostalgies voel, lees ek gereeld nog die betowerende
stories van Alie, Lulu en ou Meliete. Die stories wat my ouma aan ons vertel het,
het my op die wonderlikste verbeeldingsvlugte gevat. Ons sou destyds net 'n paar
goed noem wat ons in die storie wou hoor, en dan wou sy daar en dan vir ons ons
eie storie opmaak." (Rolien Bisschoff) "Van my mooiste herinneringe
as kind, kom van die storieboeke wat ek gelees het die die mense saam met wie
ek dit gedoen het. Ek onthou nog hoe ek op my oupa se skoot gesit het, en hoe
hy altyd vir my die stories vertel het. Hoe hy vir my al die moeilike woorde,
wat ek nie verstaan het nie, verduidelik het. En hoe hy my geleer het hoe om Engels
te lees. Dit is seker herinneringe wat my sal bybly tot die dag wat ek doodgaan."
(Anton Coetzee) |