|
"Om 'n kind te wees is nie dieselfde
as jy nie boeke het nie. Boeke het my gevul met vreugde en my verbeelding verryk.
Van my mooiste herinneringe as kind, kom van die storieboeke wat ek gelees het
en die mense saam met wie ek dit gedoen het." (Anton Coetzee)
Jongmense vertel van die rol wat hul ouers en gesinslede in hul liefde
vir lees gespeel het. "Ek was mal daaroor om kinderstories
te hoor, maar het glad nie daarvan gehou om dit self te lees nie. Ek het altyd
my ma gekry om dit vir my te lees of soms my pa. Wanneer my pa vir my 'n storie
gelees het, het hy weg gedwaal van die regte storie en sy eie storie vir my vertel.
Elke aand was 'n vervolging van die vorige aand." (Mia Lindeque) "Ek
het so ver nog net goeie herinneringe van lees. Vandat ek kan onthou gaan my ma
gereeld biblioteek toe. My ma-hulle het ook elke aand vir ons stories gelees of
vertel voordat ons gaan slaap het. My pa het meestal natuurverhale vir ons gelees
soos Kees en Kloes en Buks deur die Hobson-broers. My ma het vir
ons Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas gelees. My ma het toe ek klein
was vir ons 'n plakboek gemaak met al ons troeteldiere en familie se foto's, en
'n rympie daarby. Dis waar my belangstelling in gedigte begin het. Ons hele gesin
hou gelukkig van lees en dit sal nie snaaks wees om in die sitkamer in te stap
en elkeen met 'n boek in die hand aan te tref nie." (Lizelda Marais) "Ek
onthou die groot Afrikaanse kinderverhaalboek. Daar was verskeie stories
in wat my ma in die aande vir my gelees het voor ek gaan slaap het. Ek onthou
ek het partymaal by haar in die bed gelê om die mooi prentjies te kon sien
omdat die boek te swaar was om vir my alleen vas te hou." (Yolande de Jager) "Die
lekkerste lekker was om my ma in die bed te betrap met 'n boek: dan kon ek langs
haar inwurm en ook lees tot my pa kom slaap het. Biblioteek toe gaan was ook heerlik.
Toe ek al in die skool was, onthou ek veral wintersmiddae wat ek en my ma soontoe
stap, en dan later in die laatmiddagson sit en lees en lemoene eet terwyl sop
op die stoof prut." (Joanette van der Merwe) "My eerste ervaring
van 'n boek was toe ek min of meer pasgebore was, so ek kan dit nie regtig onthou
nie. My ma vertel my dat sy vir my al stories gelees het (terwyl sy met haar vinger
die woorde volg) toe ek self nog 'n pap babatjie was. Ek kon op 'n baie vroeë
ouderdom (drie) al self 'n storie lees en het boeke verslind omdat die liefde
daarvoor van babadae af al by my gekweek was." (Ronel Rossouw) "My
eerste ondervinding met boeke en stories was van kleintyd af as my ma vir ons
stories gelees het. My ma is 'n bibliotekaresse wat al baie lank haar eie biblioteek
het. Sy het ons van jongs af gedwing om te lees totdat dit later lekker was. Vandag
is ek nie spyt daaroor nie, aangesien my leervaardighede in graad een al beter
was as van die kinders s'n en my juffrou vir my die standerd eens se boeke gegee
het om te lees." (Eretha Pienaar) "My ma het vir elke kind gereeld
nuwe leesboekies gekoop. Die besondere keer was dit Storieman-boekies.
Ek en my suster het ons self ure lank vermaak met die verhale. Ons het selfs vir
elke karakter 'n ander stem uitgedink. Natuurlik was om die verhale net te lees
later nie meer goed genoeg vir ons nie en ons het dit toe begin opvoer. Ek onthou
hoe moedeloos my ma kon raak, want sodra sy begin besig raak met iets moes sy
eers alles los om eers na ons opvoerinkie te kyk." (Elmien du Preez) "Ek
onthou nog hoe my twee ouer sussies saam met gesit het in die middae as hulle
van die skool afgekom het, hoe hulle my gehelp het on te lees, en hoe hulle gewillig
was on te luister as ek vir hulle 'n storie wou lees." (Anton Coetzee) "Toe
ek skool toe is, het ek elke tweede Woensdag saam met my oudste suster na die
Reisende Biblioteek gestap waar sy vir my allerhande interessante boeke uitgeneem
het. Alles van ou wetenskap handboeke tot speurverhale." (M Williams) "Ek
was mal oor lees, my ma het gedurig vir my boeke gekoop en omdat ek in 'n Franse
skool was, moes hul my self leer hoe om Afrikaans te lees. Ek kan nie regtig onthou
watter stories my ouers vir my gelees het nie, want hulle was selde by die huis,
maar ek onthou my sussie het vir my stories as kind gelees." (Inelda Biela) "My
broers (wat tien en nege jaar ouer as ek is) het my die alfabet geleer, en toe
ek eers die klanke van my ma se lesery kon volg, het my broers my gou gehelp om
te lees." (Joanette van der Merwe) "Fiela se kind het ek gelees
toe ek in die laerskool was - dit was my ouer broer se skoolboek en ek was nuuskierig
toe hy vertel hoe hulle daarin vloek. Ek het die boek gelees en emosioneel betrokke
geraak. Die storie was baie treffend. Die dinge wat ek nie verstaan het nie het
my broer vir my vertel." (Lerisha Labuschagne) "Storietyd was
my gunsteling tyd by die huis en selfs die kleuterskool. Ek kon my vergaap aan
hoe die stories vertel is, hetsy deur my ma of die juffrou wat dit vir my vertel
het, of deur die kasette wat toe nog daardie tyd op radio gespeel het. Ook die
stories oor hasies, skoenlappers en dogtertjies met wit rokkies in blommetuine
wat vir my vertel is net voor slaaptyd, sou ek nooit kon verruil vir enige lekkerder
ding nie. My verbeelding kon soms ver draaie met my hardloop en later in my lewe
het stories en boeke vir my 'n ontvlugting geword." (Louise-Marié
Botha) "Die vroegste ervaring van stories wat ek kan onthou is toe
ek vier was. My ma het so pas terug gekom van die hospitaal waar sy 'n oogoperasie
gehad het, en ons kinders was letterlik in trane. Ek kan nog onthou dat my pa
by ons kom sit het en die hele aand het hy dieselfde paar stories oor en oor gelees.
Hy het vir ons gelees selfs 'n halfuur na ons bedtyd. (Wat in ons huis 'n groot
ding was.) Deur daardie spesiale gebeurtenis in my lewe het ek geleer dat stories
ontvlugting kan bring. Dit was 'n wonderlike fantasiewêreld waar alles altyd
goed eindig en almal - of wel die goeie karakters - gelukkig is. Jy bly nog steeds
in dieselfde situasie, met dieselfde mense in jou lewe, maar nadat jy 'n storie
gelees het, dit ervaar en gelewe het, lyk die regte lewe nie meer so erg nie.
Ek dink my liefde vir boeke en stories het in daardie aand 'n vesting in my lewe
geword. Tot vandag toe nog sal ek op die swartste dae en oomblikke in my lewe
myself na boeke toe draai om net eers rustig en kalm te word. Dan sal ek die lewe
by die horings pak." (Elzere Cox) |