2013-01


grootmense

dinkskrum

Boekreekse is 'n ervaring, 'n reis, 'n verslawing...

Tweedejaar Skryfkunsstudente, Noordwes-Universiteit

Jongmense aan die woord oor die invloed wat reeksboeke op hul liefde vir boeke en lees gehad het.

reeksboeke  

“Ek was omtrent 9 jaar oud toe ek en Saartjie vriendinne geword het. Ons het meestal in vakansies gekuier, maar ook sommige middae na skool as ek my huiswerk en buitemuurse aktiwiteite voltooi het. Om dié boeke te lees as graad 3 leerling was 'n ongelooflike ervaring. Ek het gereeld my skoolmaats vertel van Saartjie se avonture en ons het soms probeer om soortgelyke avonture te hê, al was ons uitkomstes nie altyd so suksesvol soos Saartjie s’n nie.

Om die reeks te lees het my as jong meisie na 'n ander wêreld geneem… 'n Wêreld waar jy nog na skool na jou vriendin se huis gestap het, in die aande – as moeder en vader by die stadsraadvergaderings was – die skoolseuns 'n poets gebak het en die hele dorp mekaar geken het.” (Ilza van Zyl)

“In my tienerjare het ek Harry Potter ontdek. Ek het die boeke verslind en het nou onlangs die 7de een gelees as afsluiting. Ek het hom gelees met ʼn gevoel van nostalgie. Op hierdie stadium het ek meer in die volwasse afdeling begin uitneem maar soms van my klein boetie(s) se boeke skelm gelees omdat dit vir my op daardie stadium gevoel het asof dit nie ‘betaamlik’ is vir tieners om kinderboeke te lees nie. Hoe verkeerd kan ʼn mens wees?” (Jaco Lubbe)

“Op die ouderdom van twaalf het ek my volgende gunsteling boek, of eerder reeks, ontdek. Teen die tyd het ek my Afrikaanse leesstof swaar afgeskeep en eerder myself gehou by Engelse boeke. My ma, self 'n groot ondersteuner van Engelse literatuur, het my ook heeltemal ondersteun in die gewoonte. My tannie het toe besluit om in te gryp. In die poging om my te kry om Afrikaans te lees het sy vir my die eerste Maasdorp boek gekoop – met die eerste bladsy was ek verslaaf. Oor die volgende vier jaar het ek elke Maasdorpboek in die reeks gesoek, gekoop en gelees. Nog nooit van tevore het ʼn boek my so geboei nie en die dag toe ek die laaste boek in die reeks het, was ʼn baie hartseer dag. Die verhaal van Kobie Malan, haar maats en hulle mal kaskenades op hoërskool was uitstekend. Die reeks het aan vertel van die jare na hoërskool en haar uiteindelike huwelik met haar musiekonderwyser. Die reeks het geëindig by die volgende generasie – Kobie en haar vriende se kinders, ook Maasdorpers.” (Monique Louw)

“Hierdie boeke kon ek nie sommer neersit as ek eers begin het nie. Ek het uit hulle gelees met elke kansie wat ek gehad het. Dis natuurlik die Harry Potter reeks van J.K. Rowling en die Spud reeks van die Suid Afrikaner John van der Ruit.” (Danielle Versteeg)

“Ek onthou dat ek op laerskool al die tienerrak wat by die biblioteek staan, interessant gevind het. Boeke soos Liefde laat rice-krispies anders proe en veral die Reënboogrant-tiener reeks het my bekoor. Ek het vir Shani en haar gesin al persoonlik geken na ek die hele reeks gelees het.” (Elizna Jansen van Rensburg)

“Ek het ook speurverhale begin lees asook die Thomas@reeks. Dié reeks was van die min Afrikaanse boeke wat ek op daardie stadium gelees, maar het die moderne en jeugdige taalgebruik en realistiese verhale geniet met ʼn bietjie romanse in. In my hoërskooljare het ek steeds romantiese boeke, speurverhale en fantasieboeke gelees. Ek het die hele Harry Potter reeks gelees asook die Twilight reeks.” (Eske Cilliers)

“As ek moet terugdink aan my kinderdae het ek altyd 'n goeie strokiesprent geniet soos die avonture van Tintin maar daar was altyd een strokiesprent boek wat my vasgevang het en altyd laat lag het, dit was The Adventures of Asterix and Obelix. Daar was nie ʼn boek van my twee helde wat ek nog nie gelees het nie en soms, tot vandag toe, sal ek 'n Asterix and Obelix boek geniet.” (Jonty Fouche’)

“Sprokies fassineer my vandat ek baie jonk is, daarom is dit die eerste boeke wat ek gelees het. My ouers het vir my alles gekoop van Rooikappie tot Aspoestertjie. Die boeke het in 'n reeks uitgekom, almal dieselfde grootte, maar met verskillende rand kleur. 'n Groot gunsteling was die Storiemuisboekies wat gelees word saam met die kasset – 'n vrou lees elke bladsy op die kasset en jy volg in die boekie saam, en na elke bladsy wat omgeblaai word, lui ʼn klokkie. Ek was baie lief vir Die wolf en die sewe bokkies.” (Tanya Heydenrych)

“Ek het in ʼn huis groot geword waar lees 'n móét was. Dit was vir my lekker om te lees of self om voor gelees te word. Ek het 'n reeks van Otto boeke gehad. Dit was definitief van my gunsteling boeke. ʼn Ander boek wat ek ook geniet het, was My heel eerste kinderbybel. Dit was een van die eerste boeke wat ek by my ouers ontvang het, wat werklik myne was. Dit was nie die huis s’n nie, dit was nie my ouer broer sin nie, dit was werklik mýne.” (Tammy Nicholson)

“Ek het baie van die Maasdorp-reeks gehou, ons het die boeke so onder mekaar uitgeleen by die skool. Ons kon gewoonlik nie wag om die volgende boek te lees, om te sien wat Kobie-hulle gaan aanvang nie. Ek het ook Saartjie-, Trompie-, Nancy Drew boeke en die Kasper-reeks gelees.” (Carina Bester)

“As tiener, op hoërskool, het my moeder my aangesluit by Leserskring waar ek elke maand vir my ʼn boek kon bestel. My gunsteling boek was Redeeming love van Francine Rivers en Die merk van die leeu reeks ook van haar. Ek het tydens die tydperk ook verlief geraak op Irma Joubert se boeke, my gunsteling een van haar was egter Tussen Stasies.” (Alicia Ehlers)

“Soos ek ouer geword hê, het ek steeds bly lees en het ek vinnig my pad deur die kinderafdeling van die biblioteek gewerk. Die Trompie, Saartjie, Uile, Keurboslaan, Maasdorp, Reënboogrant, Saddle Club, Groenheuwels, Heartland, Fritz Deelman en Die Swart kat reekse was my gunstelinge.” (Petronell Vorster)

“In my tienerjare het my keuse van boeke verskil van my kinderjare. Ek het die hele Reënboograntreeks gelees en ek het dit baie geniet. Ek kan sê dat dit my i n'n mate deur die dramas van my tienerjare gehelp het en dit my laat besef dat ek nie al een is wat probleme het in my tienerjare nie. As iemand 'n boek daaroor kon skryf, moet daar sekerlik nog tieners wees met ‘issues’. Die feit dat ek daarmee kon identifiseer was ʼn groot rede waarom ek dit gelees het.” (M.C. Botha)

Tweedejaarstudente in Skryfkuns, Noordwes-Universiteit. Julie 2012.
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012