"Growing
up without books is growing up deprived and with a deprivation that puts one at
risk for failure. If we want our children to grow up reading, we have to do everything
possible, and we have to do it as early as possible." Dr. Perri Klass, Assistant
Professor of Pediatrics, Boston University School of Medicine.
Dit is nooit te vroeg om jou baba aan die wonderlike wêreld van boeke bekend
te stel nie. Alhoewel jou baba moontlik geen belangstelling in boeke sal toon
tot op die ouderdom van ses of nege maande of selfs later nie, moet jy steeds
aanhou om vir jou baba te lees. Deur stories en boeke met jou baba te deel, versterk
jy nie slegs die emosionele band tussen jou en jou baba nie, maar stimuleer jy
ook die ontwikkeling van jou baba se brein. Navorsing toon dat kinders aan wie
daar voorgelees is vandat hulle babas is, nie slegs 'n groter waardering vir lees
en boeke het nie, maar ook beter vaar op skool as kinders aan wie daar nie voorgelees
is nie. Boeke van
lap, plastiek en karton is ideaal vir babas. Die boeke moet verkieslik ronde hoeke
hê, aangesien babas waarskynlik die boek sal kou, skud en probeer opfrommel.
Kies boeke met min, ritmiese teks en groot, eenvoudige en kleurvolle illustrasies.
Wees op die uitkyk vir boeke waardeur ander sintuie behalwe sig gestimuleer kan
word. Daar is deesdae byvoorbeeld verskeie boekies beskikbaar wat illustrasies
het waarop daar materiaalstukkies aangebring is sodat die baba die verskillende
teksture kan verken. Hier
is 'n paar wenke vir wanneer jy vir jou baba lees: -
Laat jou baba die pas bepaal. Jou baba weet nie of jy elke woord van die storie
lees of nie. Laat haar dus toe om na die volgende bladsy te blaai as sy wil. Moet
haar ook nie dwing om aan te hou lees as sy eerder iets anders wil doen nie. Vir
ten minste die eerste jaar sal jou baba waarskynlik die boek gryp, skud, kou en
die bladsye so vinnig as moontlik omblaai. Dit beteken egter nie dat jy besig
is om jou tyd te mors deur vir jou baba te lees nie. Jou baba is gefassineerd
deur haar eie behendigheid en toets dit uit waar en wanneer sy kan. As sy vir
'n rukkie by 'n bladsy vertoef, hoef jy nie die presiese teks te lees nie. Jy
kan bloot sê: "O, wat 'n pragtige blom is dit nie!" Geleidelik
sal sy begin om die boek bladsy vir bladsy te bestudeer en op 'n dag sal sy na
die blom in die illustrasie wys en sê: "Blom!"
-
Praat duidelik en stadig en wys na prentjies terwyl jy lees. Prentjies behoort
20 tot 30cm van die baba se gesig af gehou te word. Soos wat jou baba ouer word
sal sy self prentjies begin uitwys en benoem.
-
Wees entoesiasties! Lees moet vir jou baba 'n vreugdevolle, positiewe ervaring
wees.
- Varieer
jou stemtoon en dramatiseer die storie. Lees "aksie-belaaide" boeke
sodat jy jou hele lyf kan gebruik terwyl jy lees.
-
Verander die naam van een van die karakters in die storie na jou baba se naam.
-
Lees die boek soveel keer as wat jou baba dit wil hoor. Babas het nodig om stories
weer en weer te hoor. Deur herhaling fokus die baba elke keer op 'n ander aspek
in die storie en word sy sodoende bewus van nuwe detail. Herhaling is ook bevordelik
vir die internalisering van taal en struktuur.
-
Laat jou baba toe om die boek na willekeur te hanteer en daarmee te "speel".
-
Hou leessessies kort.
-
Lees boeke waarin daar mense, voorwerpe en diere voorkom waarmee jou baba bekend
is.
- Lees boeke
wat jy ook geniet.
-
En laaste maar nie die minste nie, stel 'n goeie voorbeeld vir jou baba en lees
self. Dit moet vir jou baba duidelik wees dat jy lees as belangrik ag.
Die
artikel het oorspronklik verskyn in Ek en my kind |
|
Miemie
du Plessis is die kinder- en jeugboekuitgewer by LAPA Uitgewers (wat sedert 1996
aan die ATKV behoort) Een
van haar take is om die lees van kinder- en jeugboeke te bevorder. Sy praat gereeld
met ouers/onderwysers/bibliotekarisse oor die belangrikheid van lees en hoe kinders
se belangstelling in lees geprikkel kan word. Sy bring hulle ook op hoogte van
die beste kinder- en jeugboeke wat tans op die mark beskikbaar is en voorsien
hulle van leeslyste vir spesifieke ouderdomsgroepe. Miemie is beskikbaar om as
spreker op te tree by ouerleidinggroepe in Pretoria, Johannesburg en enige ander
plekke in en rondom Gauteng. Kontak vir Miemie by (012) 325-2100/0824726729 e-pos:
miemied@atkv.org.za |