Prentenboek
of leesboek, het zal me een zorg zijn, iedere liefhebber van literatuur of beeldende
kunst heeft wel een werkje op de plank staan dat hij ondanks zijn uitnemende literaire
smaak, zijn groot inzicht in het beeldende, verkiest boven alle meesterwerken
uit de letterkunde of de illustratiekunst, die hij behoort te bewonderen.
Dit
staan in elke huis. Prominent uitgestal vir die moontlike skerp blik van 'n nuuskierige
kuiergas. Daardie werke wat beloof om die kennis van die heelal met ons te deel,
'n arsenaal diepsinnighede te verskaf, die etiket "intellektueel" om
ons nek te hang. Die "must reads". (Dit lyk immers dêm indrukwekkend
om die ouevres van Leroux, Sarte, Schoeman, Dante, Hemingway en 'n faksimileekopie
van Di Koningin fan Skeba op jou rak te hê.)
Dit is egter die boeke wat tussen-in staan wat my interesseer. Die ruggraatlose,
sonverbleikte, voosgeblaaide eks-minaars wat nou buite sig weggebêre word.
Die Nederlandse skrywer, Dirkje Kuik, is reg: of dit nou 'n prenteboek of 'n leesboek
is, iewers staan die boek wat beter gelyk het as enige ander, wat lekkerder gelees
het as sy rakmaats, wat anders gevoel het as die res.
So 'n boek is Verna Vels se Liewe Heksie.
Dit is nou al 41 jaar lank wat kinders geboei word deur Heksie, oftewel Levinia
Heks, Karel Kat, Kwaaitjie en Blommie Kabouter, Koning Rosekrans, Matewis, Griet
en natuurlik die nare Gifappeltjies en hulle ewe nare Geel Heks. Die verhale
is oorspronklik vir die radio geskryf, maar later het nagenoeg veertien Liewe
Heksie-boeke verskyn. Die verhale is ook vir televisie verwerk en boonop op langspeelplaat,
kasset, CD én video uitgereik.
Maar hoekom so suksesvol?
Verna Vels voel die sukses kan toegeskryf word aan die feit dat Liewe Heksie 'n
karakter is waarmee kinders kan identifiseer. Ook Liewe Heksie se onbewuste en
eksentrieke humor staan vir haar uit.
Thomas van der Walt van die Eenheid van Navorsing in Kinderlektuur aan Unisa meen
Vels vervul dekades al 'n groot behoefte aan fantasie en humor in Afrikaanse kinderboeke.
"Die waarde van humor word dikwels onderskat, maar dit dien as 'n baie belangrike
brug na literêre waardering by kinders. Oor die waarde van fantasie hoef
niks meer gesê te word nie as dat dit noodsaaklik vir die ontwikkeling van
kreatiewe denke is. Humor en fantasie is die hoekstene van die Liewe Heksie-stories
en die belangrike rol wat Liewe Heksie nou al so lank speel, kan dus nie genoeg
beklemtoon word nie."
Ja, in die tagtigerjare het 'n paar kerkdames gekla oor "bose invloed"
van die niksvermoedende Levinia. Maar sy is in goeie geselskap. Ook Pokémon,
Noddy, die Telletubbies en Harry Potter moes al soorgelyke onsinnighede aanhoor.
En soos 'n wafferse
Madonna-cum-Sonja Heroldt, kan Liewe Heksie haarself re-invent. In 1965 gee Dorothy
Hill aan haar gestalte en sy kuier by ons aan huis met "Liewe Heksie kry
'n verjaardag" en "Liewe Heksie en die donkie". Die Russe en die
Amerikaners baklei oor die buitenste ruimte en Liewe Heksie spring in met "Liewe
Heksie gaan maan toe" en "Liewe Heksie en die vlieënde piering".
In die 1980's laat vlie Naas Botha die balle tussen die pale deur en Heksie is
'n kortkop agter en "Liewe Heksie en die rugbywedstryd" volg - dié
keer deur Nikki Jones getooi. In 1999 gee Piet Grobler vir haar 'n make-over en
sy skuif agter die rekenaar in vir "Liewe Heksie en die rekenaar".
Hierdie week het Liewe Heksie haar vere-boa aangetrek en by die Klein Karoo Nasionale
Kunstefees gekuier waar sy haar 300-bladsy magnum opus bekendgestel het: Die Liewe
Heksie-omnibus (Human & Rousseau). Die omnibus bestaan uit 35 verhale, inhoudelik
onveranderd (behalwe vir 'n paar woord- en kronologie-aanpassings) en met Piet
Grobler se nuwe illustrasies is dit 'n ou bekende wat kom kuier met splinternuwe,
sexy swart nommertjie, punthoed effe skeef op die kop en 'n roos tussen die tande.
Welkom terug, liewe, Liewe Heksie. |