Vanjaar
is Stella Owen, beter bekend as Stella Blakemore, reeds tien jaar dood, maar hoewel
baie min oor die skrywer bekend is, is haar nalatenskap nog lank nie vergete nie.
Jomarié Dick, Susan en Hannelie Booyens het gaan ondersoek instel na die
onbeskaamde nostalgie vir Blakemore se jeugreekse. "Ek
het gedink mans móét stil en donker en diep wees. Nooit praat nie.
'n Spiertjie hê wat teen die slape spring. 'n Geheimsinnige verlede."
Roelof Serfontein het haar die knak van haar lewe gegee, sê die joernalis
Annemarie Marais. Kobie
Malan. Dr. Roelof Serfontein. Maasdorp. Keurboslaan. Noem dié vier name
en jy kry 'n gewaarborgde reaksie van mense wat in hul prille jeug die een ná
die ander boek uit Stella Blakemore se gewilde reekse verslind het. Min
dinge vervul 'n mens met soveel nostalgie as die herinnering aan jeugboeke. Naas
Topsy Smith se Trompie- en Saartjie-reeks, Cor Dirks se Uile-boeke en enkele ander
beklee Stella Blakemore se Maasdorp- en Keurboslaan-boeke (laasgenoemde onder
die skuilnaam Theunis Krogh) 'n baie spesiale plek in Afrikaanse lesers se kindertydherhinneringe.
Sedert die eerste
boek in die Maasdorp-reeks in 1932 verskyn het, het vier geslagte Afrikaanse lesers
Blakemore se karakters intiem leer ken en liefkry. Só gewild het die twee
reekse oor die jare gebly dat die jongste heruitgawes (as omnibusse van 'n seleksie
van die verhale) so onlangs as 1997 verskyn het. Vra
mense uit oor hul herinneringe aan dié boeke en belydenisse word gemaak:
Ja, dit was verslawend. Chris Louw sê hy het as kind so lank en aanhoudend
gelees dat 'n dokter hom vir 'n week moes afboek weens uitputting. Acáma
Fick, Elna van der Merwe, Solet Scheeres, Franci Greyling, Erika Murray-Theron
en Wynand Dryer is nie skaam om te erken dat hulle vandag nog skelm "terugsluip"
na die Keurboslaan- en Maasdorpwêreld nie. "Op
'n oggend word ek wakker en weet dat dit Kobie Regeer-dag is. Skaamteloos lê
ek op my maag op die bed en lees die hele boek in een lê-ing deur,"
sê dr. Dione Prinsloo. Eleanor
Baker, Dawid van Lill en Elise van Wyk verkies om hul jeugherinnering aan die
boek te koester, bang dat hulle nou dalk te krities sal wees en "herlees
bedonner die nostalgie" glo Baker. Of
hulle steeds die boeke lees of nie, 'n gesprek tussen Maasdorp- en Keurboslaanverslaafdes
loop altyd dieselfde draai: "Onthou jy hoe ons voor die spieël geoefen
het om soos Dr. Serfontein een wenkbrou op te lig? Het jy ook gewonder waar Maasdorp
en Keurboslaan is? Wou jy ook so graag kosskool toe gaan? Het jy jouself ook verbeel
dat jy Kobie of Breggie is? Dink jy nie die wonderlike Dr. Serfontein moes 'n
absolute pyn gewees het as 'n eggenoot nie?" Die
puriste mor oor die latere uitgawes en ook hoe die verkorte omnibusse net nie
dieselfde as die oorspronklikes is nie. En het Blakemore haar onvergeetlike karakters
dalk op werklike mense gegrond? Oor een ding is almal dit eens: Keurboslaan en
Maasdorp het hulle lief gemaak vir lees. Chris Louw sê onder meer Blakemore
se boeke het hom "vir ewig met 'n onhaalbare nostalgie vir Afrikaans besmet".
Vir Irma du Plessis,
wat tans besig is met 'n meestersgraad oor Afrikaanse jeugreekse, het Blakemore
se boeke " 'n wêreld van filosofie, groot skrywers, opera, wêreldliteratuur,
navorsing en doktorate" aan haar voorgestel. Baie
lesers is vandag nog nuuskierig oor die skrywer wat hulle soveel ure geboei het.
Was sy self 'n onderwyser? Dalk by 'n kosskool? Ander was teleurgesteld om vas
te stel dat Blakemore onder die skuilnaam Theunis Krogh ook die Keurboslaan-reeks
geskryf het. Sommige vind dit fassinerend dat 'n vrou so geloofwaardig oor 'n
seunswêreld kon skryf. Dit
kos 'n behoorlike speurtog om meer te wete te kom oor Blakemore, wat in 1991 op
85 oorlede is. By die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
(NALN) in Bloemfontein word waardevolle inligting, veral korrespondensie tussen
Blakemore en haar uitgewer, die Van Schaiks, bewaar. Stella
Blakemore was 'n wêreldburger by uitstek en haar lewe was interessant genoeg
om self 'n boek of twee vol te skryf. Dit is betekenisvol dat 'n vrou wat só
'n impak op Afrikaanse lesers gehad het, die grootste deel van haar lewe in die
buiteland gewoon het. Blakemore
is op 13 April 1906 in 'n "hensopper-tentjie" naby Lindley in die Vrystaat
gebore. Haar ma was 'n musiekonderwyser en Boeremeisie, haar pa kapt. Percy Blakemore,
'n offisier in die Britse leër. Hy verlaat sy vrou en kind vroeg om 'n beroepskaartspeler
in Engeland te word. Haar bekendste skuilnaam, Theunis Krogh, is ontleen aan haar
oupa aan moederskant - Theunis Johannes Krogh, ondersekretaris van die Republikeinse
administrasie van President Paul Kruger. Sy
was van jongs af op kosskool in Natal, maar tog het sy nie positiewe herinnerings
daaraan nie, al laat sy die kosskoollewe in haar boeke idillies klink. In 'n brief
aan Van Schaik sê sy dat haar kinderjare "dreary" was. "Ek
hou altyd daarvan om oor lekker kinderjare te skryf, waarskynlik omdat my eie
so mistroostig was. My ma het alles op aarde vir my gedoen, behalwe om 'n tuiste
vir my te gee. Sy het 'n ding gehad oor kosskole en 'n meer skrikwekkende bestaan
vir 'n kind is daar nie." Ná
haar skoolopleiding verwerf sy 'n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal
Academy of Music, sy studeer opera in Duitsland en gee 'n tyd lank onderrig in
Johannesburg en Pretoria. In 1933 trou sy in Londen met die Wallieser David Owen,
'n siviele ingenieur, en saam reis hulle die wêreld deur. Hulle woon onder
meer in Ghana, Ivoorkus, Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland
en Ierland. Sy het in die jare twintig in Duitsland begin skryf en haar eerste
werk was 'n toneelstukkie, Die Goue Sleutel. Tog
het sy in Afrikaans aanhou skryf en was sy tot met haar dood in Noord-Ierland
baie verknog aan haar Afrikaanse wortels. Baie van haar briewe sluit sy af met
'n belydenis dat sy "homesick beyond words" is. Die
Meisies van Maasdorp het in 1932 die eerste keer verskyn toe Blakemore 26 was.
Nog 15 boeke het gevolg wat in 'n nuwe reeks in 12 boeke vervat is. Haar Afrikaans
was iets waaroor die Engelssprekende (maar goed tweetalige) Blakemore baie sensitief
was. In die vroeë jare het resensente hul mes ingehad vir die anglisistiese
taal in die boeke. In 1968 skryf haar uitgewer, Jan Van Schaik, "Your Afrikaans
is not what it should be, but we always get someone to improve it according to
the latest rules of the 'Akademie'." Omtrent
al die korrespondensie tussen haar en die Van Schaiks is in Engels gevoer. Sy
was egter onversetlik daaroor dat daar nie getorring moet word aan die manier
hoe sy die karakters laat praat nie. In 'n brief in 1958 skryf sy: "In beide
die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse het ek probeer om mense te skep - dikwels
het hulle hulself geskep - wat elkeen op 'n unieke manier praat en optree."
Dit is ironies
dat Blakemore volgens haar nooit werklik waardering van haar uitgewers gekry het
nie. Dit was juis die voortdurende kritiek (spesifiek 'n negatiewe vergelyking
met die Van der Byl-reeks) wat haar aangespoor het om die Keurboslaan-reeks te
begin, skryf sy in 'n brief van 1958. "Dit is tragies om te erken dat die
reeks wat my soveel plesier gee, uit só 'n onwaardige motief gebore is."
(Die Keurboslaan-reeks het oorspronklik uit 20 titels bestaan, wat van 1973 af
heruitgegee is as die Nuwe Keurboslaan-reeks in 11 boeke.) Blakemore
het haar skryfwerk baie ernstig opgeneem. "Ek skaam my nie om my werk aan
die ernstige kant te beskou nie. Vir my is dit nie 'slegs' jeuglektuur nie; dit
is, nieteenstaande my swakhede en tekortkominge, die beste waartoe, ek persoonlik,
in staat is. Dit beteken vir my lesers ook iets." Blakemore het op 'n laat
ouderdom twee kinders aangeneem nadat sy twee miskrame gehad het. Peter en Salene
het by hul ouma in Engeland gebly wanneer Stella en David in eksotiese plekke
gebly het, maar as volwassenes het al twee tye in Suid-Afrika deurgebring. Wanneer
sy op 'n slag haar lot by Van Schaik bekla oor hulle "koppigheid", sê
sy ook "Dis jammer hulle kon nie almal ou mev. Malan in die Maasdorp-boeke
vir Ma hê nie!" Die
formidabele mev. Malan met haar kerkklokstem was een van die karakters wat sy
dalk "onbewus" op 'n werklike mens (ene mev. Gey van Pittius van Pretoria)
gegrond het, erken Blakemore. Dr. Serfontein, een van die mees enigmatiese karakters
in haar boeke, is dalk deels gegrond op haar Engelse matriekonderwyser, Paul Zorn,
skryf Blakemore. "Ek het gewoonlik oopmond na hom gestaar en wou al blosend
omtrent omval as hy vir my kyk. Maar Paul sou ligweg geamuseerd wees by die gedagte
dat hy my soveel boeke gegee het and that I myself get such a kick out of them."
(Interessant
genoeg dring Blakemore in een van haar briewe aan op 'n omslagillustrasie van
Dr. Serfontein wat geinspireer is deur 'n foto van die silwerdoekheld "Montgomery"
(waarskynlik Montgomery Clift), want "soos ek voorheen gesê het, dit
is die gesig wat al die ander boeke geïnspireer het.") Blakemore
was 'n getroue korrespondent wat al haar bewonderaars se briewe beantwoord het.
Sy het selfs, toe een van die bewonderaars, Karin Krimberg, wou weet wanneer "arme
Elsabe" nou gaan trou, verklaar dat sy uiteindelik 'n man vir haar gekry
het. Maar tog bygevoeg: "Why a handsome woman with a fine career should be
regarded as 'poor' because no wretched man has regarded her as desirable, I never
can understand, but that remains the general view, in spite of votes for woman
and what not!" Hierdie
siening blyk veral uit haar vrouekarakters in Maasdorp en Keurboslaan. Acáma
Fick verwys veral na dr. Serfontein se vrou, Helen: "Sy behou beslis haar
eie identiteit en idealisme. Wat my regtig verstom, is dat Blakemore in daardie
jare reeds so 'n byna geëmansipeerde vrou kon uitdink. Vir Christelle Feyt
is "die Maasdorp-reeks 'n indiepte erkenning van vroulike argetipes. Kobie
Malan was vir my een van die eerste vergestaltings van "women empowerment'."
Blakemore was
'n vrou van sterk menings en beginsels, maar met 'n sin vir humor wat ook in haar
korrespondensie deurgeskemer het. Briewe aan Van Schaik sluit sy altyd af met
'n gemoedelikheid soos "Alles van die beste, ou siel!" Toe sy lank nie
van haar seun in Suid-Afrika gehoor het nie, merk sy droog op: "Maybe a zebra
ate him. He is always hunting them." Cora
de Swardt, peetkind van Blakemore, onthou haar as 'n "innemende, dinamiese"
mens met wat baie lief was vir kinders. "Sy was avontuurlik en onverskrokke.
Op 'n goeie dag sou sy besluit die kinders moet 'n musiekspel opvoer en dan het
sy sommer Hansie en Grietjie uit Duits vertaal en ons dit laat opvoer." As
musiekonderwyser was Blakemore streng en sy het geglo in dissipline, "maar
sy was nooit onvriendelik nie". Die
blywende waarde van Blakemore se werk word dikwels oorskadu deur die nostalgie
waarmee dit omsluier is, maar dat dit 'n reuse-impak gemaak het, is onbetwisbaar.
"As ek soms wonder wie of wat ek nou eintlik wou word toe ek jonk was, dan
keer ek altyd terug na Maasdorp en Keurboslaan, en dan verskyn my groot lewensideale
en drome glashelder voor my - en skielik weet ek weer waarheen," sê
'n bekende joernalis. Vir
Martie Meiring is dit eenvoudig: "Dit was die enigste aspirational lektuur,
buiten die Bybel, wat ons jeugdige Afrikaners gehad het." Sommige
kritici beskou Blakemore se verhale egter as seksisties en patrioties - 'n bevestiging
van middelklas waardes wat uitgedien is. (Interessant genoeg, het godsdiens nie
'n groot rol in die boeke gespeel nie.) Ander meen weer Blakemore het nie net
die Afrikaanse kind oor jare vermaak nie, maar ook ingelig. Hierdie ambivalensie
oor Blakemore se reekse word treffend deur Madeleine Van Biljon verwoord as "
'n half ongesonde beheptheid met Keurboslaan wat deur hierdie leser gedeel word".
Erika Murray-Theron wonder ook hoe groot die invloed van dr. Serfontein se onbevraagtekende
"meerdere" wees die patriargale benadering van jong Suid-Afrikaners
teenoor swart mense gevoed het. "Om van Kobie en haar sussies se benadering
teenoor die 'meid' nie eens te praat nie..." Tog
kan 'n mens Blakemore nie van groter rassisme as haar wit tydgenote beskuldig
nie. In 1974 sê sy van haar verblyf in Afrika: "As swart en wit moet
saamwoon, kom hulle gewoonlik in die algemeen goed klaar. Ek het in Ghana (toe
nog die Goudkus) onder 'n swart skoolhoof gewerk. Hy was baie goed vir my as personeellid.
In Swaziland en Nigerië het ek presies dieselfde ondervinding gehad."
En natuurlik
loop die "lig van die Europese beskawing" soos 'n goue draad deur die
Keurboslaan- én Maasdorp-reeks, merk Irma du Plessis op. Ondanks
kritiek staan Stella Blakemore bekend as dié jeugboekouteur wat Afrikaanse
kinders laat lees het met ontvlugtingsleesstof van die hoogste gehalte. Een
ding is seker: As iemand ooit 'n tesis wil doen oor vroue wat verlief raak op
fiktiewe karakters, is daar ryke stof in die figuur van dr. Serfontein. Dit is
moeilik om aan 'n ander karakter in Afrikaanse fiksie te dink wat soveel intense
bewondering ontlok het. Eleanor
Baker noem hom die Mr Darcy van Afrikaanse letterkunde, 'n man wat vir haar tienersiel
die laaste woord in romantiese held was. Sy erken ook dat sy die karakter Charles
Ashton in haar boek Weerkaatsings op dr. Serfontein gegrond het. "Nie doelbewus
so geskryf nie, maar onbewustelik tog hy, juis omdat dr. Serfontein vir my die
argetipiese donker smeulende held was." Acáma
Fick is onbeskaamd oor haar crush: "Ek was sonder enige twyfel verlief op
die hoof van Keurboslaan. Vir jare lank en steeds met tussenposes! Dit was dalk
nie goed nie. Watter lewende man kan teen hom kers vashou?" Dr.
Serfontein is elke meisiekind se droom, sê Rita Gilfillan. "Ek het
hom kritiekloos bewonder, al het ek toe al geraai dat hy, soos James Bond, darem
te goed is om waar te wees." Prof.
Louise Viljoen was ook erg verlief op dr. Serfontein. "Nadat ek hom moes
afstaan aan daardie vrou met die groen oë en die geel hare en die wit rokke
was sy seun Richard 'n tweede beste." Die toneel waarin die weinig spraaksame
dr. Serfontein sy liefde verklaar aan die vrou met wie hy sou trou, beskou sy
steeds as een van die groot erotiese tonele in die Afrikaanse literatuur. Prof.
Maritha Snyman wat tans werk aan 'n boek oor Afrikaanse jeugliteratuur, voeg by:
"Ek bewonder Kobie vandag nog vir haar daadkragtigheid en is baie bly ek
is toe nie met dr. Serfontein getroud nie." Soos Solet Scheeres sê:
"Vandag weet ek dat daar lank nie meer sulke mense bestaan nie - maar 'n
mens kan seker maar bly hoop?" *
Baie dankie aan Erika Terblanche van NALN, prof. Maritha Snyman, departement inligtingkunde
aan die Universiteit van Pretoria, Jan van Schaik, oud-uitgewer vir waardevolle
hulp met die skryf van dié artikel. |