Daar
is 'n speletjie wat ek amper elke aand met my vyfjarige dogter speel, bloot omdat
dit min of meer die enigste manier is om haar uit die bad te kry. Sy is kamtig
'n meermin en ek 'n visser wat haar per ongeluk vang. Terwyl ek die meermin uit
die bad lig, sien ek sy lyk soos die dogtertjie wat ek altyd wou gehad het - of
my verlore dogtertjie wat deur 'n bose heks in die see gegooi is of deur koning
Poseidon betower is of wat ook al. Daar is verskeie weergawes, afhangend van hoe
haastig ek is om te gaan eet.
Terwyl ek dan dramaties ween - en as ek
dit nie met volle oorgawe doen nie, laat sy my aanhou tot ek dit regkry - swiep
sy skielik die handdoek van haar onderlyf af om my te wys dat haar meerminstert
verdwyn het. Sy het bene gekry, soos 'n regte dogtertjie, wat beteken ek hoef
haar nie terug te gooi in die see (of die bad) nie. Dan omhels ons mekaar vol
vreugde, en ek wys vir haar haar kamer, haar klere en haar speelgoed, en ek stel
haar voor aan haar pa en haar broers.
Dan eers kan ons gaan eet.
Dis taamlik uitputtend om elke aand oortuigend te ween (vra maar vir enige verhoogaktrise),
dus probeer ek gereeld 'n ander speletjie voorstel, maar my meermindogter weier
om aan enige ander aas te byt. Dis alles Andersen se skuld. Hans Christian Andersen,
skepper van die beroemdste meermin op aarde, die meisie met die visstert wat 'n
soort nasionale simbool van Denemarke geword het. Andersen se treurige meerminnetjie
is die ouma van Disney se vrolike Ariel en al die moderne meerminne wat moderne
meisietjies se verbeelding so aangryp.
Aanvanklik kon ek nie my Mia se
passie vir hierdie legendariese amfibiese kreatuur begryp nie. 'n Meermin is waarlik
nog vis, nog vlees - in die letterlikste betekenis van die gesegde. Of anders
gestel: vis én vlees tegelyk. 'n Meermin sal altyd na droë land smag
- maar sy kan nie op droë land aan die lewe bly nie.
Ná ek
lank hieroor getob het (ek kry genoeg tyd terwyl ek saans op die badkamervloer
kamtig diep uit my hart moet snik), het ek besef 'n meermin is waarskynlik iets
soos 'n vroulike teenpool vir Peter Pan. Aan die een kant het jy die seuntjie
wat nie wil grootword nie, wat verkies om altyd na Neverland terug te vlieg eerder
as om volwasse emosies in die 'regte wêreld' te ervaar: aan die ander kant
die meisietjie met die visstert wat smag om die volwasse emosies van die 'regte
wêreld' aan te durf, maar weet dat dit haar veel meer as die verlies van
haar stert gaan kos.
As jy só daarna kyk, is dit geen wonder dat
Mia en haar maats gefassineer is deur meerminne nie.
Net nog 'n bewys
dat Hans Christian Andersen (1805-1875) 'n groot skrywer was, nie sommer net iemand
wat kinderstories opgemaak het nie. Sy meerminnetjie het die universele trefkrag
van 'n Rooikappie of 'n Sneeuwitjie; 'n eenvoudige karakter met wie enige kind
intuïtief kan identifiseer, maar waaroor sielkundiges en filosowe en ander
slim volwassenes ingewikkelde tesisse kan skryf. Andersen, wat brandarm in 'n
agterbuurt van Odense grootgeword het, het ondanks sy beskeie agtergrond daarin
geslaag om finansiële en literêre sukses in sy eie leeftyd te bereik.
En tog is sy eintlike prestasie dat sy sprokies tot vandag toe die mensdom betower.
Die tweehonderdste gedenking van Andersen se geboorte word vanjaar met
tentoonstellings en feeste wêreldwyd gevier. Hy sou hom verheug het hieroor.
Blykbaar het hy so openlik na roem en erkenning gesmag, onder meer na koninklike
en adellike eerbetuig, dat sy tydgenote soms met hom die spot gedryf het. Maar
wat anders kan jy nou ook verwag van iemand wie se arm skoenmakerpa vas geglo
het dat sy familie eintlik van adellike afkoms is?Daar word beweer dat Andersen
sy eie lewe in 'n feëverhaal verander het - veral in sy memoirs wat hy aanhoudend
herskryf het - met al die oordrywings, weglatings en sommer net doodgewone leuens
wat dit impliseer. Maar selfs die droogste 'amptelike feite' van sy lewe bevat
reeds die elemente van 'n sprokie. Sy pa was 'n skoenmaker, sy ma 'n wasvrou wat
as alkoholis in 'n liefdadigheidstehuis dood is, sy suster het vermoedelik 'n
prostituut geword. Hy moes op die ouderdom van 11 die skool verlaat en
begin werk om die gesin te help onderhou. Eers as 17-jarige kon hy terugkeer na
die skoolbanke (saam met 11-jarige klasmaats, stel jou voor die vernedering),
danksy die geldelike hulp van 'n soort goeie fee - 'n invloedryke regeringsamptenaar
wat geglo het dat die sukkelende lelike eendjie eendag 'n swaan sou word.
Buitendien, skrywers is berug daarvoor dat hulle nie altyd getrou met die werklikheid
omgaan wanneer dit by die skryf van hulle eie lewensverhale kom nie. Skrywers
se outobiografieë bevat soms meer fiksie as enige fiktiewe verhaal. Die Franse
Marguerite Duras is 'n goeie voorbeeld van iemand wat lewenslank die feite van
haar bestaan verdraai het - nie net in die stories wat sy geskryf het nie, maar
ook in onderhoude en gesprekke - om haar eie legende te skep. En tog maak dit
haar nie 'n swakker skrywer nie.
Dit behoort dus nie verbasend te wees
dat 'n sprokieskrywer soos Andersen, met so 'n onwaarskynlike agtergrond soos
syne, nie die versoeking kon weerstaan om sy eie lewe ook soos 'n sprokie te laat
klink nie.
Nie die soort sprokie waar die prins en die prinses trou en
vir altyd en altyd gelukkig saam lewe nie. Nee, sy sprokies is dikwels donkerder
van toon - die prys wat die meerminnetjie moet betaal om op land te lewe, die
vernedering van die keiser wat kaal voor sy onderdane paradeer, die arme vuurhoutjiemeisie
wat honger en verkluim doodgaan - en eindig nie noodwendig met liefdesgeluk nie.
Die lelike eendjie word inderdaad 'n swaan, maar daar val nie vir hom 'n pragtige
swaneprinses uit die lug nie.
Vir Andersen was liefdesgeluk ook nie beskore
nie. Soos 'n paar ander skrywers van werklik beroemde kinderverhale - dink maar
aan Peter Pan se JM Barrie en Alice se Lewis Caroll - het hy buitengewone passies
ontwikkel wat nooit seksuele vervulling gebring het nie. In Andersen se geval
was die objekte van begeerte weliswaar nie minderjarig nie, maar hy het telkens
versot geraak op mense, vroue én mans, wat vir hom so onbereikbaar gebly
het soos die vuurhoutjiemeisie se droom van kos en hitte. Hy het nooit getrou
nie, nooit eens 'n bevredigende intieme verhouding met enigiemand aangeknoop nie,
en nooit kinders gekry nie.
En tog het hy vir kinders - en nie alleen
vir kinders nie - 'n skatkis van onvergeetlike verhale agtergelaat. My eie gunsteling
is Die keiser se nuwe klere, 'n tydlose storie met 'n revolusionêre ondertoon
wat net so sterk tot volwassenes as kinders spreek, soos bewys deur onder meer
Bartho Smit se meesterlike verhoogverwerking van die gegewens in Die keiser (1977).
Slegs 'n dosyn van Andersen se meer as 150 gepubliseerde sprokies is gegrond op
reeds bestaande volkverhale. Die res is almal uit sy eie verbeelding geput. En
wat 'n verbeelding was dit nie. 'n Ambisieuse moeder het glo op 'n keer
vir Albert Einstein gevra wat sy kan doen om haar kind se intellektuele vermoeëns
te stimuleer. Lees vir hom sprokies, het die slim Einstein geantwoord. Ja, goed,
sê die ma, en wat nog? Lees nóg sprokies, was Einstein se eenvoudige
antwoord.
Ek wonder steeds of dit 'n apokriewe storie is - maar ek is
meer as bereid om dit as die waarheid te sluk. Bloot omdat ek in my eie lewe,
en dié van my kinders, die mag van sprokies ervaar het. Nee, ek weet nie
of die sprokies wat ek my kinders soos moedersmelk voer, hulle enigsins slimmer
maak nie, maar dis duidelik dat dit hulle meer verbeeldingryk maak. En vir 'n
kind met 'n gevleuelde verbeelding is énigiets immers moontlik - soos die
arm skoenmakerseun van Odense bewys het.
Daarom sal ek aanhou om elke
aand daardie lastige meermin in die bad te vang, in elk geval tot my dogter eendag
moeg word van die speletjie. Hopelik gebeur dit in die nabye toekoms, want my
repertoire van dramatiese snikke is byna opgebruik.
Aan die ander kant,
as my dogter 'n passie ontwikkel vir 'n ander karakter uit 'n Andersen-sprokie,
sê nou maar die keiser sonder klere of die prinses wat die ertjie onder
honderd matrasse gevoel het, kan my lewe selfs moeiliker word. Ons het nie genoeg
matrasse in die huis om die ertjie-prinses se storie op te voer nie. En hoewel
ek soms ietwat belaglik voel terwyl ek oortuigend op die badkamervloer probeer
ween, sal dit ongetwyfeld tien keer erger wees om elke aand die rol van die kaalstert
keiser te vertolk. |