|
Weet julle
wat? Die tyd is hier,
vir nader skuif vir 'n avontuur!
Wie laat ons kraai van pure plesier,
vir 'n storie van sy nuutste gier?
Dit is Moemin, die liewe lawwe Moemin . . . !
Hy's in
sy Moehuisie, daar is hy!
'n Vriend soos min en 'n held daarby.
Dit is Moemin, die liewe lawwe Moemin.
Moemamma,
moepappa, Moemy, Mymy,
Boeboe en Snifsnaf en Stinkie daarby!
Almal woon saam in die Moevallei
Saam met Moemin, die liewe lawwe Moemin.
|
|
Daar is heelwat mense wat hierdie aansteeklike kenwysie, soos gesing
deur Danie Niehaus, sal onthou van die gewilde Moemin-animasiereeks
wat in die 1990s op SABC en later ook op KykNet in Afrikaans uitgesaai
is. Dié reeks van heerlike avontuurstories het die verhale
vertel van die Moefamilie en hul vele interessante vriende wat in
die toweragtige Moevallei woon en het meeste kinders in daardie
jare ná skool vasgenael gehou voor die televisie. Die gewildheid
van die hoofkarakter, Moemin, en sy familie en maats het gesorg
dat hierdie karakters ook onder aanhangers in Suid-Afrika 'n soort
kultusstatus verkry het - soveel so dat jy jongmense (nou al in
hul vroeë twintigs) sal kry wat se oë blink as jy Moemin
noem en sommer in 'n koor sal lostrek met: "Moemamma, Moepappa,
Moemy, Mymy . . . !" Tog steek daar veel meer agter die bekorende
karakters en die skepper van die Moeminwêreld as wat meeste
mense besef.

Die Moemins is fiktiewe karakters geskep deur die Finse skrywer
Tove Jansson en is internasionaal bekend as die 'Moomintrolls'.
Wat presies hierdie karakters is, weet ons nie. Hulle is wit en
rond en lyk nogal soos lieftallige, seekoei-agtige trolle met snaakse
sterte en lang neuse. Maar moet tog nie vir Moemin vra of hy 'n
seekoei is nie . . . o, nee! Volgens die Afrikaanse stories is hulle
slegs 'Moe's', g'n seekoeie nie! En alhoewel hulle nie soos mense
lyk nie, het hulle baie menslike kwaliteite. Hulle woon in die Moevallei,
'n vreemde en soms gevaarlike plek, wat tog altyd ook aangenaam
en herkenbaar is. En selfs al beleef die bewoners van die vallei
eienaardige dinge - ván groot vloede tót komete wat
die aarde tref - leef hulle baie normale lewens, bekommer hulle
oor dieselfde alledaagse dinge en wonder oor dieselfde fundamentele
lewensvrae as enige gewone mens.
Tove Jansson is een van Finland se mees geliefde en bekende skrywers.
In 1966 ontvang sy die Hans Christian Anderson-Prys vir haar bydrae
tot kinderliteratuur. Sy is in 1914 in Helsinki gebore, en in 2001
oorlede. Haar pa was 'n Sweeds-sprekende Fin, 'n bekende beeldhouer,
en haar ma 'n Sweedse illustreerder en grafiese ontwerper. In hierdie
kreatiewe en boheemse huislike omstandighede het Jansson self as
kunstenaar ontwikkel. Daar word vertel dat sy die eerste 'Moomintroll'
geteken het as 'n spotprent van die filosoof Immanuel Kant, omdat
sy die lelikste figuur wou teken waaraan sy kon dink - dit ná
'n argument met haar broer waar hy sy punt wou staaf met 'n aanhaling
uit een van Kant se boeke. Daarna het sy die karakter gereeld in
haar tekeninge gebruik, veral as 'n persoonlike kenteken toe sy
sedert 1944 as illustreerder begin werk by Garm, 'n Finse tydskrif.
Die eerste boek oor die 'Moomintrolls' begin sy in 1939 skryf, in
reaksie op die depressiewe omstandighede van die Tweede Wêreldoorlog
en die winteroorlog tussen Finland en die Sowjetunie. Die fantasiewêreld
van die 'Moomin valley' het ontvlugting gebied, waarin sy haarself
kon terugverbeel na 'n gelukkige, kommervrye kindertyd. Dié
eerste boek, in Engels bekend as 'The Moomins and the Great Flood',
word in Sweeds eers in 1945, aan die einde van die oorlog, gepubliseer.
Tussen 1945 en 1970 verskyn daar nog agt boeke, asook enkele prenteboeke
en word die verhale as strokiesprente in koerante gepubliseer. Teen
die 1960s was die Moemins reeds wêreldbekend. Die boeke is
al in 34 tale vertaal en daar is miljoene kopieë verkoop. Daar
is ook enkele animasie TV-reekse vervaardig (in Europa en Japan),
een waarvan die regte natuurlik in die vroeë 90s hier gekoop
is vir 'n Afrikaanse oorklanking. Die 1990's staan ook bekend as
die tydperk van die 'Moomin Boom' (of die muumibuumi in Fins), waartydens
'n grootskaalse bemarkingsveldtog geloods is en die Moemins tot
'n groot mate gekommersialiseer is. Vandag word die Moomintroll-handelsmerk
gereken as Finland se grootste uitvoerproduk. Daar bestaan 'n ongelooflike
verskeidenheid Moemin-produkte - enigiets van koffiebekers, horlosies,
klere, grimering, poppies en selfs beddegoed! Daar is ook enkele
animasiefilms reeds vrygestel - die nuutste het hierdie jaar verskyn
en spog met 'n klankbaanliedjie deur Björk. In Naantali in
Finland is daar selfs 'n Moemin-pretpark, sowel as 'n museum in
Tampere.
Die meer onlangse gekommersialiseerde beeld van die 'Moomintrolls'
staan in 'n effense kontras tot Jansson se oorspronklike karakters
en die atmosfeer van die verhale in haar boeke. Háár
fantasie-vallei kan eerder beskryf word as 'n soort melankoliese
droomwêreld (wat soms ook 'n satire op die sogenaamde beskaafde
wêreld is), vol interessante Samuel Beckett-agtige karakters
- van intens private kluisenaartipes, obsessiewe intellektuele versamelaars,
tot geheimsinnige wandelaars en zennerige ligtoringbewoners. Melankolie,
ambivalensie, verlies en ontnugtering, hunkering en teleurstelling
is sekerlik van Jansson se gunsteling-temas (Jackson, 2002), maar
haar skryfwerk is ook slim humoristies en sy kon dit regkry om 'n
universele wêreld te skep met wonderlike karakters en multi-dimensionele
stories met 'n diepere betekenis wat tot beide kinders én
volwassenes spreek. Juis dalk daarom dat dié klassieke verhale
en karakters steeds so ongelooflik gewild en suksesvol is.
Afrikaanse aanhangers het die Moefamilie deur die TV-reeks leer
ken as Moemamma, Moepappa en Moemin, 'n hegte gesinnetjie met 'n
intense liefde en respek vir mekaar en eindelose verdraagsaamheid
vir alles wat leef en beef. Moemamma met haar rooi-en-wit voorskoot
en swart handsak het raad vir alles en kan die grootste bedreiging
besweer met 'n koppie tee en ietsie te ete. Die praktiese Moepappa
met sy swart pluiskeil, is ook skrywer en avonturier, wat met 'n
ferm hand gedurig edel en goeie waardes by sy seun inboesem. Moemin,
die hoofkarakter en natuurlik almal se held, is altyd op soek na
pret en avontuur, is so goedgelowig as wat hy entoesiasties is en
is byna altyd in 'n optimistiese, goeie bui.
Dan is daar ook Moemei, die karakter waarop Moemin heimlik verlief
is, met haar goue kuif en enkelbandjie, effens verwaand oor haar
eie skoonheid. Boeboe is Moemin se beste vriend. Hy dra 'n papperige
groen hoed, rook graag pyp en speel op sy bekfluitjie, en woon in
'n tentjie langs die rivier waar hy gereeld visvang. Elke winter
reis hy na die Suide op soek na avontuur, maar keer getrou elke
lente terug na die Moevallei.
Die snipperige klein Mymy is meeste mense se gunsteling (en herinner
op 'n vreemde manier aan Pippie Langkous!) - sy is altyd gereed
met 'n skerpsinnige, nydige opmerking, en is aggressief en vreesloos
al is sy skaars groter as 'n teekoppie. Snifsnaf is iets tussen
'n rot en 'n muis, is naïef-kinderagtig en altyd bang vir alles
en die enigste karakter wat dol is oor geld en altyd op die uitkyk
is vir 'n manier om vinnig ryk te word. Daar is ook Stinkie, die
vuil bosbewonertjie wat graag kwaaddoen; Doktor Weet-als; die sampioenspokies;
die yskoue Grokmonster; Tjoek-tjoek en die onsigbare muise . . .
en nog 'n hele klomp ander karakters wat die verbeelding op soveel
fantastiese maniere kan aangryp!
In 2010 vier die Moeminkarakters hul 65jarige bestaansjaar. Ter
herdenking hiervan het Puffin Books 'n splinternuwe reeks boeke
ontwerp, spesifiek gemik op jonger kinders van 3 tot 6 jaar. Hierdie
boeke is ook nou in Afrikaans verkrygbaar, uitgegee deur Human&Rousseau
Uitgewers. Dit is die eerste keer dat die Moemins in boekvorm in
Afrikaans sal verskyn en al is jy nie reeds 'n jarelange Moemin-aanhanger
nie, kan hierdie eenvoudige kleurvolle boeke dien as 'n perfekte
eerste bekendstelling tot Moemin se toweragtige en opwindende wêreld.
Daar is 'n lig-die-flappie boekie, 'n prenteboek en 'n prenteboek
met plakkers wat Moemin en al die belangrikste karakters op prettige
maniere voorstel. As jy dus nog nie vir Moemin en sy maats ontmoet
het nie, gaan soek die boeke in jou naaste boekwinkel, want jy mis
uit op 'n wonderlike avontuur!
Moemin se verjaardag, Moemin: lig-die-flappie wegkruipertjie en
Moemin se somer en son prenteboek kan ook op www.kalahari.net
bestel word.
Sluit gerus aan by NB-Uitgewers se Facebook-bladsy NB Jongklomp!
waar jy meer inligting sal kry oor Human & Rousseau en Tafelberg
Uitgewers se nuutste kinderboeke en kinderboekgeleenthede: http://www.facebook.com/pages/NB-Jongklomp/126988017319234
Kyk na videoskakels van Moemin:
Die temaliedjie van die destydse animasiereeks wat in Afrikaans
uitgesaai is, met die bekende wysie wat aanhangers so graag saamsing.
Die skakel is: http://www.youtube.com/watch?v=6iAdqTy4Rrg
‘n video van Puffin Books oor die ontstaan van die Moemin-verhale,
die skrywer en die ontwikkeling van die handelsmerk oor die afgelope
65 jaar: http://www.youtube.com/watch?v=kay9vPBCZK4
BRONNE:
Jackson, Shelley. 2002. Moomin and Me. LA Weekly. http://www.laweekly.com/2002-05-09/art-books/moomin-and-me/
Räihä, Soile. 2005. Tove Jansson, The Moomin Business
and Finnish Children. Finnish Institutions Research Paper, Department
of Translation Studies, University of Tampere. http://www.uta.fi/FAST/CULT/sr-moom.html
Rix, Juliet. 2010. The Moomins - a family affair. The Guardian.
Saturday 3 July 2010. http://.www.guardian.co.uk/lifeandstyle/2010/jul/03/moomins-tove-jansson-sophia/print
Shippert, Linda. The Unoffical Moomin Character Guide. http://research.wsulibs.wsu.edu:8080/dspace/retrieve/2412/license.txt
|