|
Toespraak
by die boekbekendstelling van My oupa Hoenders (Flip Hattingh),
Saterdag 17 November 2007, te Boekehuis.
my
grootouma het gesê my oupa is: hardekoejawel
my ouma sê: stroomop
my pappa sê: vol draadwerk
maar ek, weet jy wat sê ek?
|
 |
So begin Flip se boek my oupa hoenders. Ek wil in dieselfde
trant begin:
- Flip het gesê: hou dit "kort en lig"
- Kabous het gesê: dis tyd dat Flip sy beskeidenheid laat
staan
- my kinders het gesê: dis anders as enige ander kinderboek
- maar ek, weet jy wat sê ek?
Ek sê: Flip kan nie een van die mooiste, interessantste
Afrikaanse kinderboeke ooit skryf, en dan verwag ek moet net "kort
en lig" praat nie! Maar ek sal probeer.
Ek het by Flip en Roela se lieflike, anderster huis gesit en deur
Flip se handgemaakte boeke geblaai. Gebind in hout of metaal met
skarniere of skroewe. Geverf, geteken, gevlek, gegroef. Nie kinderboeke
nie. Rou, eiesinnige boeke. Nie donker boeke nie, eerder speels.
Maar diep. En 'n bietjie seer, 'n bietjie kwaad, 'n bietjie uitdagend.
Aards maar nie onspiritueel nie; vol issues en simboliek, maar sonder
om sigself te ernstig op te neem. Onthutsend, maar indrukwekkend.
Van elkeen bestaan net een of twee kopieë.
En nou het Flip 'n kinderboek gemaak. Steeds speels én diep,
steeds eiesinnig én aards. Maar nie meer kwaad nie. Flip
pak die lewe met 'n sagte oog en 'n tong in die kies aan, maar hy
kan raak kyk en skerp dink. "Ek vertrou gom nie," het
hy gesê toe ons oor die maak van boeke praat. "Ek plak
nie, ek ryg aanmekaar. Ek soldeer nie, ek draai boute en moere vas."
Só iemand wat hom nie laat bluf met maklike antwoorde nie,
is die regte een om 'n kinderboek te skryf, want kinders laat húlle
ook nie bluf nie.
My oupa Hoenders is 'n boek wat kinders vermaak en grootmense
laat dink. 'n Boek wat plaaslik is, maar nie outyds nie; prettig,
maar nie konvensioneel nie; universeel, maar nie vol clichés
nie; mooi, maar nie soetsappig nie. Dis 'n boek wat 'n boodskap
het, maar nie preek nie. Dit WYS stekie vir stekie, hoendertjie
vir flenterpapier-hoendertjie: liefde is 'n konkrete ding.
Die seuntjie wat die storie vertel, het 'n moeilike, knorrige oupa.
So sê die hele familie. Maar die seuntjie wil self besluit.
Sy oupa het 'n werf vol pluimvee en doen fassinerende goed soos
om sy tande uit te haal en 40 koppies tee per dag te drink. Oupa
Hoenders se plaasstories eggo in ons almal se kollektiewe Suid-Afrikaanse
geheue: 'n hond wat 4 keer deur 'n slang gebyt is maar danksy 'n
skotteltjie paraffien en melk elke keer weer "reg soos 'n roer"
is, twee seuntjies wat wou "wegloop vir rondloop" en nie
uit ongelukkigheid nie, 'n bobbejaan met gekrimpte oë wat "bôggom"
skree en op 'n sinkdak spring, en nog ander.
Soos hieruit blyk, word die boek ook deur idiomatiese pittoreske
taal geaard en gegrein, nie net deur die storie en die illustrasies
nie. Die betekenismoontlikhede van die seuntjie se uiteindelike
woord vir sy korrelkop-oupa, laat ek aan jou as leser oor. Al wat
ek kan sê, is dat dit nie 'n maklike antwoord is nie, maar
'n goeie een.
Die oupa mag kwaai wees, maar hy maak die seuntjie deel van 'n
konkrete plaaswêreld met mieliepitte, stokkies, ystergoeters,
klippies en draad, én deel van 'n verbeeldingswêreld
van stories waar 'n laslaphuisie se dak soos 'n mond kan oopmaak
om kinders te roep vir badtyd.
Flip werk met 'n botoon van speelsheid en 'n ondertoon van nadenke
en aanvoeling wat op verstommende wyse fisiese gestalte vind. Die
uitgewers het dit reggekry om die tekstuur van die oorspronklike
werke ook in die gedrukte uitgawe weer te gee. Almal vir wie ek
die boek gewys het, het onwillekeurig hulle vingers oor die bladsye
laat gly - dis 'n boek wat 'n mens wil lees en bekyk, maar ook wil
voel.
Die egtheid en andersheid van Flip se visuele kuns het my nog altyd
aangespreek. Ek het hard probeer om 'n geleerde woord in my kunswoordeboek
te kry vir wat Flip doen, maar dit was bietjie moeilik. Dis nie
suiwer objets trouvés of "gevonde voorwerpe"
nie, al is daar skulpe, vere, 'n spyker, 'n stuk sinkplaat, 'n lem
vasgewerk op die papier. Dis nie suiwer collage of montage
nie, al is daar hoenders uit 'n mieliemeelsak geskeur, repe handgemaakte
papier, fluweel, teesakkietoutjies wat uit 'n papier-en-garing koppie
kom, stokkies en takkies wat lyne op die realistiese potloodsketse
aksentueer, 'n indrukwekkende "wah-wah masjien" gebou
van tipiese geroeste rommel op 'n plaaswerf.
In Flip se ander werk is ook elemente van simbolisme en surrealisme,
maar hier lyk assemblage vir my na die mees relevante tegniek.
Dis 'n vry, los term vir die artistieke bymekaarsit van uiteenlopende
dinge. Flip het plaas- en huis-optelgoed en geskeurde papier doelbewus
gerangskik rondom tekeninge, teevlekke en 'n narratief, 'n samehangende
storie oor liefde, vanuit 'n kind se perspektief. Dit is wat hierdie
boek so knap en besonders maak, en so uniek in Afrikaans.
My oupa Hoenders gaan oor persepsies en sê dat die
waarheid baie kante het. Dit gaan oor hoe grootmense mekaar etiketteer,
oor die vars oog van 'n kind, oor die estetika van egte, aardse
dinge, oor die waarde van stories, oor die wonder van aanvaarding.
Grootmense kyk na 'n ou man en noem hom 'n hardekoejawel, stroomop,
vol draadwerk, 'n korrelkop. 'n Kind kyk na dieselfde man en sien
hoe duiwe uit sy hande eet, hoor hom stories vertel, sien hom speelgoed
bou.
Wanneer 'n mens klaar gelees het, maak jy die boek toe en kyk weer
na die voorblad. Jy sien 'n ou man wat swaar dra aan sy eie kwaaigeit.
En 'n seuntjie wat warm teen hom leun en lag. Asof hy sê:
"Dit maak nie saak nie." Flip se storie sê ons moet
ons geskeurde wêreld, ons persepsies vol stukkendgeit en kwaadgeit
opnuut aanmekaar ryg (nie sommer plak nie, vasWERK). Met genade.
Nie om te lieg nie, maar om met nuwe oë te sien.
Ek het Flip se boek vir my huismense gegee om te lees en
My man het gesê: "challenging, gripping, anders"
my oudste amper-tiener kind het gesê: "dis mooi, maar
is dit
'n kinderboek?"
my middelste skeptiese kind het gesê: "dis weird!"
my jongste oopkop kind het entoesiasties gesê: "Ek hou
BAIE daarvan! Om te dink die seuntjie het dit self met sy hand geskryf!"
maar ek, weet jy wat sê ek?
Ek sê: As jy nie vir al die spesiale kinders en grootmense
in jou lewe hierdie boek koop vir Kersfees nie, is JY hardekoejawel,
stroomop en vol draadwerk!
|