| Op
14 Mei 1902 skryf die sewentienjarige Carel de Jager vanuit Diyatalawakamp in
Indië aan sy dertienjarige broer Jiems, 'n gevangene op St. Helena. Hy vertel
van briewe wat gestuur en ontvang is, deel nuus oor familie en vriende, bemoedig
sy broer met teksverse en sluit die brief met 'n naskrif: Ou Boer,
als gij weer hoor dan is ik al achtien jaar en noch ongetrouwd (hardlines) niet
waar? Ou Broer, dit is maar net een grappie om jou te laat moed hou.
En dié twee sinne in 'n vergeelde brief word 'n storie van jongmensverlange
en die patos van oorlog. | Om
'n historiese jeugboek te skryf, is om te reis ... soveel verskillende wêrelde
op soveel wyses te ontdek.
Dis 'n soektog - om
inligting en agtergrond te kry
-
die ruimte, 'n plek te vind
-
karakters
- en
'n storie
Waar vind mens die inligting? Jy
speur dit ná: In boeke oor die tydperk en bronne vanuit die betrokke tyd. Jy
blaai deur vergeelde dokumente, ou briewe en dagboekinskrywings. Volg kontoere
op kaarte en tuur lank na foto's. Jy
gesels met mense. Lees name op gedenksuile en toegegroeide grafstene; kyk hoe
ou hande 'n sweep vleg, en lig 'n mauser teen jou skouer. Jy
lees en leef die tydperk waaroor jy wil skryf. Want soveel as moontlik wil jy
uitvind, soveel as moontlik kén. Om
'n plek te kry waar die storie kan afspeel is 'n avontuur. My
soektogte het my al na die bosveld, na begraafplase - en selfs sover as Bermuda
geneem. Ek kan
nou maar eenmaal nie die storie klaarskryf as ek nie die omgewing waar dit afspeel
self ervaar het nie. Ek moet die son voel, die stof ruik, die wind deur die blare
hoor, die lig op die water sien. Vir die Melrosehuis storie het ek ure deur die
huis en park gedwaal; en op die stoep gesit om te ervaar hoe dit is - en hoe dit
kon wees. Waar
kry mens 'n karakter? Diegene
wat al self geskryf het, weet dis nie net vir uitdink en gebruik nie. Soms
as ek my aanvanklike aantekeninge vergelyk met die karakter wat uiteindelik uit
die verf gekom het, is daar weinig ooreenkomste. Dirkie
(Dirkie Drieka Frederika) se naam was aanvanklik Matilda en sy het drie sustertjies
gehad. Later was sy Gertruida - en uiteindelik Dirkie, die enigste dogter tussen
vier seuns! Soms
meld die hoofkarakter hom of haar self aan. Ander kere is dit nie so maklik nie,
en moet mens eers 'n entjie met die storie vorder voordat die karakters méns
word. Dis
dieselfde met 'n storie en gebeure. Soms is die invalshoek en moontlike
storie vroeg reeds deel van die soek- en skryfproses. Maar meermale neem dit maande
se soek en dink en skryf en oorskryf voordat 'n storie uitkristalliseer. Die skrywer
moet immers uit 'n magdom moontlikhede kies. Uit die groot historiese momente
selekteer én besluit watter klein alledaagse belewenisse en krisisse gebruik
gaan word. Maar
die reis is nog lank nie verby wanneer mens die inligting, plek, storie en karakters
het nie - nou is dit net 'n dieper reis: In
die karakter in - die reis van mens tot mens. Dié
besondere kind wat midde-in die gebeure is: Wie is sy? Hoe beleef sy die dinge
om haar? Hoe voel dit as jou lieflingbroer sneuwel? Wat maak jy as 'n figuur uit
die verlede onverwags 'n deur oopmaak? En
hoe sou hierdie kind die besondere ruimte ervaar het? Hoe lyk die tentkamp vir
'n 12-jarige? Die see vir 'n 16-jarige? Hoe ervaar hy, wat in die Vrystaatse vlaktes
grootgeword het, gevangeneskap op 'n morggrootte eiland? Dit
is die uitdaging: om binne in dié kind, binne-in die gebeure te wees -
om oor tyd en plek en ervaring en oudersgaping te reis - en dáár
te wees. Om saam met die kind die geskiedenis te ervaar. En
dan is die uitdaging - om al hierdie dinge tot storie en tot boek te maak. 'n
Storie wat vandag gelees en geniet kan word. Kortliks
oor die ontstaan van my Anglo-Boereoorlog boeke
Die oorlogstories wat ek as kind gelees het, het altyd seuns as hoofkarakters
gehad. Dis hulle wat al die avonture beleef het - dit, terwyl die meisies op die
plaas gebly het en as romantiese afleiding gedien het. Ek kan my nie herinner
dat ek 'n storie gelees het wat in 'n konsentrasie- of krygsgevangenekamp afspeel
nie. Helena in die tyd van die tente was waarskynlik 'n soort reaksie hierop.
In die verhaal van die 12-jarige Helena word die gesin weggevoer en na Irene konsentrasiekamp. Met
die navorsing vir Helena het ek die eerste keer bewus geword van die groot
aantal vrouens en kinders wat in die oorlogtyd in die veld rondgeswerf het. Dit
is die agtergrond waarteen Dirkie Drieka Frederika afspeel. Die
Meisie van Melrosehuis is 'n eietydse storie. Ná 'n bomontploffing
by die Melrosehuis en die verskyning van 'n geheimsinnige figuur, raak die 14-jarige
Sonja bewus van die verlede en hoe dit mense geraak het. Helena
en Dirkie se stories het om 'n derde perspektief gevra: dié van 'n jong
seun se ervaring in 'n krygsgevangenekamp. Op Johannes se eiland handel
oor Johannes se ervaringe as gevangene in Groenpunt en op Bermuda. Ongelukkig
kon geen uitgewer nog gevind word vir Johannes se storie nie. Kriteria
vir die historiese kinderboek Helena,
Dirkie, Sonja en Johannes se stories is geskryf sonder dat ek werklik bewus was
van kriteria wat t.o.v. die historiese kinder- en jeugverhaal gestel word. John
Stephens (1992:205) identifiseer die volgende as algemene kriteria vir die historiese
kinderboek: - Die
onderdele (eksistente) van die vertelling moet histories juis en met gesag aangebied
word.
- Karakters
moet geloofwaardig wees en leseridentifikasie aanmoedig.
-
Lesers moet deur die ervaring voel asof hul meer van 'n tyd en plek geleer het.
-
Die teks moet toon dat menslike gevoelens en gedrag deur die eeue heen konstant
gebly het.
Op die oog af lyk dit na algemeen aanvaarde kriteria - en verwagtinge waaraan
'n skrywer graag sal wil voldoen. - Maar só eenvoudig is dit ook nie: Stephens
(1992:205) is van mening dat 'n werk wat volgens hierdie kriteria gelees word,
'n kragtige ideologiese werktuig is. Volgens hom is die historiese kinderboek
nie 'n geisoleerde werk nie, maar die produk van besliste/vaste ideologiese bedoelinge
en wat binne 'n spesifieke en komplekse kulturele agtergrond geskryf en gelees
word. "The
historical novel in children's literature is not a genre which, in some abstracting
proccupation with the past, consitutes a closed system of signification, re-presenting
a pre-existing and essential reality, but rather is the discoursal product of
firm ideological intentions, written and read in a specific, complex cultural
situation" (Stephens, 1992:205). Dit
kom bietjie kras oor vir die skrywer. Impliseer hierdie sienswyse dan nie dat
die skrywer bloot 'n lakei is wat bepaalde ideologiese sieninge in sy werk wil
oordra nie? Is Stephens reg? En is dié kriteria vir die historiese kinderboek
aanvaarbaar?
Ek wil graag 'n paar gedagtes hieroor wissel. Wanneer
mense anders na die wêreld rondom hulle kyk, lei dit daartoe dat daar ook
nuut na die verlede/geskiedenis gekyk word - en ander stories daaroor vertel word.
In 'n artikel oor die historiese jeugboek wys Anne Scott Macleod (2000) hoe dié
veranderings neerslag vind in die historiese kinder- en jeugboek. In
die Amerikaanse opset het skrywers en uitgewers sensitief geword oor die uitbeelding
van groepe wat in die verlede min aandag gekry het, soos vroue en dogters, minderheidsgroepe
en gewone mense (teenoor historiese figure). Ook die tradisioneel chauvinistiese
beskouing van die geskiedenis het verandering ondergaan. (Macleod, 2000). Ten
spyte van die positiewe aspekte van dié verandering, is daar volgens Macleod
rede tot kommer. In die proses om stories te vertel wat by huidige sosiale en
politieke voorkeure aansluit, word die historiese realiteit van 'n betrokke tydsfase
misken. Dit kan tot wanpersepsies lei: bv. waar vroue- en meisiekarakters toegelaat
word om vrylik keuses te maak, terwyl dit nie die geval was nie. Hiervoor word
sosiale norme opsy geskuif en geimpliseer dat, wat in werklikheid 'n groot struikelblok
sou wees, maklik oorkom is. 'n Vals beeld van die sosiale omstandighede en die
geskiedenis word so geskep. Wat
hier ter sprake is, is die botsing tussen heersende (eietydse) sosiale norme/verwagtinge
(ideologie) en historiese juistheid. Die meeste skrywers van historiese jeugboeke
het waarskynlik al hiermee te doen gekry: Jy spandeer ure en dae om inligting
te versamel en seker te maak van detailbesonderhede - net om terselfdertyd 'n
historiese werklikheid waaroor daar geen twyfel is nie, te verswyg of te verander.
'n Eenvoudige voorbeeld is die verwysings na rasse en gebruik van aanspreekvorme. Die
eerste kriterium, Die onderdele (eksistente) van die vertelling
moet histories juis en met gesag aangebied word - kom dus in die gedrang
wanneer historiese feitlikhede en ideologiese verwagtinge nie strook nie.
Die tweede kriterium lui: Karakters moet geloofwaardig
wees en leseridentifikasie aanmoedig. 'n Paar gedagtes hieroor. Stephens
(1992) maak 'n baie interessante waarneming, naamlik: dat behoefte van 'n verhaal
aan struktuur en sluiting tot gevolg het dat die makroskaal historiese gebeure
vervang word deur mikrostories oor persoonlike verhoudinge. Eenvoudiger gestel:
'n verhaal moet vorm, en 'n begin en 'n einde hê. Daarom is die fokus van
die historiese verhaal gewoonlik op die menslike ervaringe en verhoudinge - en
wat afspeel teen die agtergrond van die groot historiese gebeure. Dit is veral
by die historiese kinder-/jeugboek ter sprake. Die
hoofkarakter van historiese jeugverhale is gewoonlik 'n jeugdige. Die gebeure
word meestal dié karakter se perspektief gesien en beleef word (fokalisasie).
Hierdie karakterkeuse en vertelwyse bring mee dat jong lesers makliker met die
karakter identifiseer en die gebeure as't ware saam met/deur die oë van die
jong karakter beleef. Maar hierdie vertelwyse bring beperkinge mee - beperkinge
waarmee keurders en resensente nie altyd rekening hou nie. 'n
Karakter wat binne-in 'n situasie is, (met bepaalde agtergrond/ omstandighede/
siening, ens) sien en beleef gebeure subjektief. Die karakter het nie die agternaperspektief
van die historikus nie. Met 'n jong karakter geld bykomende beperkinge van ervaring,
mensekennis, ens. 'n Karakter beleef dus dinge vanuit sy/haar verwysingsraamwerk
- met die resultaat wat waarskynlik nie sosiaal/ polities korrek is nie. 'n
Eenvoudige voorbeeld: Op Johannes se eiland begin waar Johannes, ná
maande op kommando, oppad na 'n krygsgevangenekamp is. 'n Britse soldaat hou wag
oor die burgers wat in die treintrok saamgebondel is. Een van die keurders het
geoordeel dat Johannes sonder spesifieke rede wrewelrig teenoor die Engelse soldaat
is. Wanneer die tydgees, historiese en politieke agtergrond, die ervaring van
gevangenskap, en die perspektief van 'n jeugdige in ag geneem word, is die psigologies
seker begryplik dat 'n jong seun in dié situasie wrewelrig teenoor die
simbool van oorheersing kan wees. Die vertelwyse (personale fokalisator) bring
ook mee dat die visie op die "ander" gekleurd is en dus wel eenogig
is. Verder wou ek hiermee Johannes se gevoel van magteloosheid en frustrasie met
die gevangeneskap-situasie konkreet voorstel. Dieselfde
keurder maak ook die volgende opmerking: "'n Mens merk wel op dat daar
nie veel van 'n geskakeerdheid is omtrent "reg" (die Boere) en "verkeerd"
(die Engelse) in hierdie verhaal is nie. In die huidige bestel meen ek dit is
nogal nodig om die balans in te bring van Goed en Sleg aan albei kante, Reg en
Verkeerd by alle mense." Hierdie
aanhalings wys duidelik dat keurders/lesers/resensente sekere verwagtinge het
- verwagtinge waaraan die skrywer onmoontlik alles kan voldoen. Soos
aan die begin aangetoon, moet die skrywer keuses maak: die karakter, die plek,
die tyd, die storie. Dit net eenvoudig nie moontlik (of wenslik) om alle aspekte
van die oorlog, alle kante van die waarheid, in een storie te hê nie. Die
derde kriterium verwag: Lesers moet deur die ervaring voel
asof hul meer van 'n tyd en plek geleer het. Indien
'n karakter (en skrywer) met moderne oë na sy wêreld en omstandighede
kyk - dan deel die leser nie die egte ervaring nie - en kan dus nie werklik meer
van 'n tyd, plek en omstandighede leer nie. Wanneer historiese feitlikhede geïgnoreer
of versag word ter wille van heersende sentiment en sensitiwiteit - kan dit meebring
dat die leser die karakters se optrede, asook die latere historiese gebeure, nie
begryp nie. Enkele
woorde oor die vierde kriterium: Die teks moet toon dat
menslike gevoelens en gedrag deur die eeue heen konstant gebly het. Hierdie
kriterium is volgens Stephens (1992) strydig met die kulturele relativisme wat
tans in die westerse wêreld domineer. Dié beskouing huldig onder
andere die standpunt dat daar geen gemeenskaplike grond tussen mense van verskillende
tye en plekke is nie en dat die kulturele aannames van een gemeenskap nie sonder
meer op 'n ander toegepas kan word nie. MacLeod
(2000) sluit hierby aan wanneer sy sê: "But people of the past were
not just us in odd clothing. They were people who saw the world differently; approached
human relationships differently; people for whom night and day, heat and cold,
seasons and work and play had meanings lost to an industrialized world." Sy
(MacLeod) gee toe dat die menslike natuur oor tyd moontlik dieselfde kan wees,
maar dat die mens se ervaring nie dieselfde is nie. "Even if human nature
is much the same over time, human experience, perhaps especially everyday experience,
is not. To wash these differences out of historical fictions is not only a denial
of historical truth, but a failure of imagination and understanding that is as
important to the present as to the past." En
hieroor sal elke skrywer seker self moet besluit... Dit lyk vir my, dat:
As mens na al die verwagtinge kyk, teenstrydighede en al, dan moet die skrywer
van die historiese jeugboek nie slegs 'n reisiger wees nie, maar ook 'n balanseerkunstenaar!
Op
13 Mei 1902 skryf Jiems se ma vir hom vanuit Betulie konsentrasiekamp: Jiems,
ik het een brief ontvang van jou pa en Carel, toe het det ook nog goet met helle
gegaan. Mij kint u drie broerjes is in school. Verder verlang ik tog veel na my
mense. Ag, mog de dag tog aanbreek dat ons tog elkander weer ontmoet al is het
tog niet hier op aarde - dan namals waar nooit weer schyding sal plaasvent. Twee
weke later is die vrede geteken. |
Voordrag
gelewer op 29 Mei 2002 by 'n konferensie ter herdenking van die einde van
die Anglo-Boereoorlog aangebied deur die Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur,
Unisa. Die tema was: Eendag was daar 'n oorlog: Die Anglo-Boereoorlog in fiksie.
-
Verwysings:
MacLeod, A.S.,
2002, Writing Backward: Modern Models in Historical Fiction. http://www.hbook.com/exhibit/article_macleod.html
(Datum van gebruik 4 Junie 2000) From the January/February 1998 Horn Book Magazine Stephens,
J. 1992. Language and ideology in children's fiction. London: Longman. |