Toespraak
ter geleentheid van Tafelberg-Uitgewers se
bekendstelling van Eenders en Anders deur Freda Linde Om
in die vyf minute wat my opdrag is, reg te laat geskied aan Freda Linde se oevre,
sit nou nie in my broek nie. Afgesien van my eie onvermoë, het Freda darem
ook skuld daaraan. Sy skryf nie een soort boek nie, trouens sy is seker een van
die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Haar 29 oorspronklike werke en baie meer
as honderd vertalings en herskeppings sluit ook in essays en dramas vir volwassenes,
prenteboeke en prosa en rym, verhale vir 7-9jariges, verhale en verse vir 8-10jariges
en ook vir 10-12jariges, jeugromans en vakliteratuur vir die jeug sowel as nou
met Eenders en Anders, ook vir jong kinders en durf ek sê, óók
vir volwassenes. Asof dit nie al erg genoeg is nie, skryf sy realistiese verhale,
fantasieë, verbeeldingsverhale, spreukryme, ander rympies, verse en wat nie
al nie, en is sy die mees bekroonde kinderboekskrywer in Afrikaans. 'n
Ryke skat voorwaar in omvang, maar ook in oorspronklikheid, lewenswaarhede, en
verkonkretiseerde abstrakte idees. En daarby is sy steeds vernuwend, tot met haar
jongste werk. So
waar begin 'n mens en waar eindig jy. In
Freda se verhale gaan dit nie om 'n blote storie nie. Hoewel dit 'n boeinde verhaal
op die oppervlak is, moet dit iets vir haar as skrywer inhou. Verskuil onder die
oënskynlike eenvoudige verhaalvlak en skryfstyl en die subtiele humor, lê
heelwat suggesties, simboliek en kommentaar of sinspelings. 'n
Kinder- of jeugboeke dus, maar 'n opwindende ontdekkingstog vir die volwassene
wat behoorlik kan en wil lees. Ek
beskou Freda ongetwyfeld as een van die mees onderskatte skrywers in die wêreldkinderliteratuur.
Haar vertalings in Engels en Duits word ook nie behoorlik gelees nie. Vir
Freda is die natuur, die mens, die heelal 'n geïntegreerde eenheid, en die
mens wat daarbuite staan, wat besoedel en vernietig, is 'n boosheid. Besoedeling
het sy reeds in die Die Rooi Haan aangespreek. Die boek is in die vyftigerjare
geskryf, voor The Silent Spring wat die wêreld in beroering gehad
het. In Ken jy die Kierangbos is daar o.a. politieke kommentaar, wat met
sy verskyning gelukkig misgekyk is, anders was die boek dalk verban. Die outsider-figuur
kom in Freda se kinderboeke voor vóór die sestigers. Freda
se eerste kinderboek, Swiera van die Waterkant, wat in 1959 verskyn het,
was "die eerste kinderboek in Afrikaans met 'n simboolstruktuur". Dit
is in 1982 herdruk as Vlug na Sonnige Oewer. Sy
het in 1959 ook vir die eerste keer in Afrikaans begin met oorspronklike liedjies
as deel van die teks. 'n Belangrike vernuwende werk was haar bekroonde bundel
van sestig berymde Afrikaanse spreuke, By die Oog van die Fontein in 1974.
So
kan 'n mens vernuwing op vernuwing opnoem. . . Die
idee dat die reguit streep en die kurwe teenstellings is maar tog onskeibaar is,
het oorsronklik by Pythagoras in die sesde eeu v.C. ontstaan. Hierdie feit het
Freda onlangs per toeval vasgestel. In Strepie en Kurfie verpersoonlik
Freda die streep en die kurwe tot twee fantasie-wesens wat patrone skep. Eenders
en Anders is 'n voortsetting van die patroontema, maar in hierdie boek gaan
dit om patrone in die konkrete natuur en die wêreld om ons. In
die wonderwêreld waarin ons leef maar dit nie raaksien nie, is daar in alles
patrone - in die mens, in die plante- en dierelewe, in die geskiedenis. En patrone
verdwyn ook nie - selfs wanneeer lewe uitsterf, herleef hulle weer in nuwe lewensvorms. Om
dit vir jong kinders boeiend en met humor uit te beeld, wil gedoen wees. Freda
sou ook 'n grafiese kunstenaar kon wees as sy daardie talent ontwikkel het. O.a.
daarom stel sy besondere eise aan haar illustreerders en uitgewers, want die boek
is vir haar ook 'n visuele eenheid. Freda
sê altyd dit is nie die groot konsep wat iets perfek maak nie, maar die
klein dingetjies - die fyn afwerking van 'n meubelstuk, byvoorbeeld. En dit word
by uitnemendheid in haar skryfwerk en die tegniese produksie van haar boeke weerspeël.
Sy is inderdaad perfeksionis - die ergste wat ek nog ooit teëgekom het. Sy
is seker die enigste mens in die wêreld wat die knope in 'n pakkie se tou
eers losknoop voordat sy dit weggooi! Iets
wat ek altyd met groot respek en waardering van Freda sal onthou, is haar onkreukbare
integriteit - teenoor haar kuns, die mens om haar, en die mens en die lewe in
die algemeen. Ek
ken Freda al baie jare lank, feitlik 'n leeftyd. In al die tyd het sy ietwat gryser
geword, maar niks verander nie, behalwe dat sy kleiner in statuur geword het.
Maar met haar werk sal dit anders wees - ek is baie seker dat dit in statuur steeds
groter sal word. |