"You
have to enter the womb of Africa and be part of it, and not see. Your eyes must
be closed, but you must feel all the rhythms of the body." Mazis Kunene
Die
Laeveld, Mosambiek, Dasseneiland, die Kaapse Weskus, die Okavango - die Kus van
die Dood in die Namib. Met 'n kronkelpad het Pieter Pieterse vir dertig jaar lank
diep in Afrika ingekruip en gelééf op die ritme van haar liggaam.
Soms alleen, soms met vrou Jenny, soms bril óp sy kop en soms kaalvoet
en kaalbors. Maar altyd met 'n verkennersoog, 'n nuuskierigheid en 'n passie vir
die natuur en die Afrika-landskap. "Oorsee vir wat?" vra hy
nadat hy twee vliegtuigkaartjies wen in 'n kortverhaalkompetisie. "Die lewe
soos wat ek hom lewe is te kosbaar om vir 'n maand daarvan weg te gaan."
Hy het nie weggegaan nie, hy het bloot nuuskieriges na hom gelok met sy gewilde
TV-programme, draaiboeke, resepte, radiovervolgverhale en talle boeke. En soos
die uitgewer Annari van der Merwe sê, "Hy het ander se drome uitgeleef,
maar die drome toeganklik gemaak." Hy het meer boeke beweeg as André
P. Brink en het meer kykers getrek as die spul van Sewende Laan. Dit was
nie net middeljariges wat baadjiepak vir kortbroek wou verruil het wat by Pieterse
se werk aanklank gevind het nie. Ook kinders. Met sy nagenoeg twintig jeugboeke,
sommige vertaal in Engels en Frans, was hy een van die produktiefste jeugboekskrywers
in Afrikaans. Vir "jong" lesers het hy 'n wêreld oopgemaak
wat vir meeste 'n vreemde, romantiese fantasie was. "Wow! Ek het die boek
in Johannesburg gelees, maar ek was dáár!" merk 'n opgewonde
lesertjie op. "Dis 'n idille wat deernisvol en subtiel humoristies vertel
word, soos net 'n Pieter Pieterse dit kan doen," skryf 'n liriese resensent.
Sy bekendste werke is Die Pad na die See (1988, Tafelberg) en Silwer,
Jakkals van die Namib (1990, Tafelberg). Die Pad na die See was
in 1988 die wenner van die goue Sanlamprys vir Jeuglektuur. Die verhaal neem die
leser terug na die Trichardt-trek van 1835-1837 en fokus op vier jongmense: Willem,
Hanna, Sarie en die 16-jarige Pieta Trichardt. Hulle worstel enersyds met
die kompleksiteite van verhoudings en andersyds met die aanslae van hulle nuwe
ruimte. Die kinder- en jeugboekkenner, Marina le Roux, het die boek
destyds as volg beskryf: "Soos in die beste legendes is die taal en styl
van hierdie boek ook sober, sonder pretensie, maar gelaai met emosie en vitaliteit.
Pieterse skryf met robuuste drif sonder enige toegewings. Die pad na die see is
'n meervlakkige, boeiende historiese roman." In 1990 word nog 'n
jeugroman van Pieterse aangewys as finalis in die Sanlamkompetisie. Silwer,
jakkals van die Namib word later gediskwalifiseer omdat die karakters nie
tussen 13 en 18 jaar oud is nie, maar nietemin gaan haal Pieterse die Namibiese
Kinderboekforum se goue medalje, ontvang hy die tweede prys in die ATKV se Prosaprys
en is die boek 'n finalis vir die gesogte M-Net-prys. Dis 'n legendariese
brandsiek jakkals in die Namib waaroor Pieterse skryf. Silwer. Een van die talle
wat hy self vir 'n tyd lank gevolg en leer ken het. (Jare later, so vertel Annari
van der Merwe, loop hy weer sy jakkalse raak. En herken hulle.) Die verhaal fokus
op die oorlewingstryd van die woestynjakkalse, die jong veldwagters se soeke na
meer as net die jakkalse en die onherbergsaamheid van die Skedelkus van die Dood.
Lewe en dood, eggo dit deur die boek. Lewe én dood, eggo dit nou
deur die Laeveld, Mosambiek, Dasseneiland, die Kaapse Weskus, die Okavango, die
Kus van die Dood in die Namib. |