Dit
was Bertrand Russel wat geskryf het dat kinders droom oor mag soos wat volwassenes
seksuele fantasieë het. Ons het twee dekades agter die rug wat die Afrikaanse
kinder-en jeugboek deurspek was van wroegende kinders wat blootgestel word aan
'n hiper-realistiese werklikheid van weeskinders, egskeidings, fisiese gebreke,
rondloperhonde en bankrotplase. Waar was die fantasie, die pret, die humor? Waar
was die karakters wat kinders bemagtig het en laat voel het, "so wil ek wees"?
Daar was 'n paar destyds. Alie van Rivierplaas. M.E.R. se tweeling. Natuurlik
ook ons reeksboekhelde, maar ons weet mos nou al dat die literatore gevoel het
'n Trompie of 'n Saartjie is so goed vir jou kind soos 'n stewige porsie vrot
vleis.
Vir my is daar egter eintlik net een. Een wat joernalis Hannelie Booyens genoem
het "die eerste post-feministiese heldin - 'n speelse femme fatale wat 'n
feminis soos Camille Paglia se hart sal verwarm". Een wat die New York Times
beskryf as "fearless, ageless and endowed with superhuman strength. Above
all,
rude - deeply, outrageously, satisfyingly rude." En een wat kritikus
Jonathan Cott beskou as "completely outside bourgeois conventions".
Ons praat natuurlik van Pippie Langkous. (Of Pippi Långstrump of Bibi Meia-Longa
of Bilbee Bat-Gerev of Nagakutsushita-No-Pippi of Pippi Longstocking - afhangende
waar in die wêreld jy is.)
Haar eintlike naam is Pippelotta Provianda Rolgordyna Kruisementa Efraimsdogter
Langkous, dogter van kaptein Efraim Langkous, voorheen Gevreesde Seevaarder, deesdae
mensvreterkoning van Korriekorriepoteiland. Sy het twee stywe, wortelrooi vlegsels
wat langs haar kop uitstaan, spog met 'n mooi versameling sproete, dra een bruin
en een swart kous en 'n paar skoene wat presies tweekeer so lank soos haar voete
is. Sy bly saam met haar apie, Meneer Jakobs en haar perd in Huis Winderuis en
neem die bure se Tommie en Anneke op die een grensoorskrydende avontuur na die
ander. Dít is onse Pippie.
En onse Pippie is terug. 'n Hele geslag is ontneem van die Pippie-ervaring nadat
Nerina Ferreira se verbeeldingryke 1974-vertaling lank reeds uit druk is en biblioteke
se kopieë aan flarde gelees is. Die goeie nuus is dat 'n faksimilee-uitgawe
van Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan boord en Pippie Langkous in die
Suidsee pas deur Human & Rousseau uitgegee is. Die slegte nuus is dat hulle
dit om onverstaanbare redes slegs aan Leserskringlede beskikbaar gestel word en
sodoende weereens 'n skare kinders weerhou van die Pippie-ervaring.
Die avonture van Pippie het ons te danke aan 'n sewejarige dogtertjie, Karin,
wat in 1941, siek met longontsteking in die bed, aan haar ma getorring het om
vir haar 'n storie te vertel. "Wat moet ek vertel?" het die moeë,
moedelose ma gevra. "Vertel my van Pippie Langkous," het die antwoord
gekom. Die eienaardig naam het 'n eienaardig storie verlang van 'n ewe eienaardige
dogtertjie. Die storie is in 1945 in Swede gepubliseer en was die begin van Karin
se ma, oftewel Astrid Lindgren, se skrywersloopbaan as die beroemdste kinderboekskryfster
ter wêreld.
Later het karakters soos Emile, Baasspeurder Blomkwist en Karelsen langs Pippie
stelling ingeneem om deel uit te naam van Astrid Lindgren verstommende 90-boek
ouevre in 87 tale waarvan 120 miljoen kopieë in gretige handjies beland het.
Ook die literatore en kritici het nadergestaan met die nodige eer en erkenning
wat só 'n baanbreker toekom: die Hans Christian Andersen-toekenning (1958),
die Lewis Carroll Shelf Award (1973), die Zilvergriffel, Nederland (1975), die
International Book Award van UNESCO (1993), sowel as talle eredoktersgrade.
Benewens kinder-en jeugboekskrywer was Astrid Lindgren, wat in Januarie vanjaar
oorlede is, ook kampvegter in Swede. Sy het striemende belastingwetgewing wat
kunstenaars soos sy en Ingmar Bergman met 102% belas het, in 1976 laat hersien.
Haar grootste triomf was egter haar veldtog vir die beskerming van plaasdiere
in die 1980's nadat die sg. "fabrieksplase" die familieplase oorgeneem
het. "Elke vark is geregtig op 'n gelukkige varklewe," skryf sy in 'n
ope brief aan Eerste Minister Ingvar Carlsson. In 1988 is 'n wet aanvaar wat diere
'n reg gee tot spasie en toegang tot skoon strooi. Die wet staan, heel gepas,
bekend as Lex Astrid.
'n Paar jaar voor Astrid se dood keer 'n onbekende vrou haar op straat voor, druk
'n opgefrommelde stukkie papier in haar hand en verdwyn om die hoek. "Dankie
dat jy 'n sombere kinderjare opgebeur het," staan op die stukkie geskribbel.
Dis eintlik al wat ons kan sê: dankie. En lank lewe Pippie Langkous! |