Ek
weet sowaar nie watter soort mens ek besig is om te word nie. Ek wil al hoe minder
dinge hê, ek hou al hoe minder van mense wat "vreeslik baie belangrik"
is, ek sku al hoe meer weg van kollig en kalklig. Moet asseblief nie vir my deftige
ruikers uit bloemistes aandra nie en asseblief, asseblief, koop nie vir my duur
geskenke gee vir verjaarsdag em Kersfees nie. Dis
nie dat ek nié van blomme en persente hou nie. soos alle mense houe ek
van 'n geskenk. Maar gee my liewer 'n ding uit jou hart en kyk my in my oë,
dan hoor ek wat jy vir my sê. Onlangs
is ek op die dorp waar ek grootgeword het, 'n plattelandse dorpie tussen die vlegselheuwels
van KwaZulu-Natal. En ek kry die wonderlikste geskenk. Van die mooiste vrou op
die dorp. Kleintyd reeds het ek gedink hierdie vrou is iets besonders. Sy is elegant,
beheersd en stylvol, sy dra haar gesig en haar liggaam en klere met vrede en waardigheid.
Mense kyk haar agterna; nie omdat sy so pragtig is soos Sophia Loren nie, maar
omdat sy rysiger, en ja, mooier, is as die beeldskone filmster.
Sonder enige goeie rede
gee hierdie vrou vir my 'n bos blomme. Dis nie 'n bloemiste-gedoente nie, maar
rose uit haar eie tuin. Nie een van die blomme is kweekhuis-perfek nie, maar oop,
vol en geurig. "Jy is vir my nou die vervulde vrou soos weerspieël in
hierdie rose," sê haar briefie. Ek
hoor duidelik wat sy sê. Haar
rose lê my hart vol, lank, lánk nadat dit verwelk het. Op
Kersoggend klop Basjan aan ons voordeur. Sy hare is 'n bietjie deurmekaar, hy't
'n biekie gekuier saam met sy mense die vorige nag, maar hy lag sy gesig vol kreukels
en tande. Hy
bring vir ons 'n Krismisboks, sê hy. Basjan
se Krismisboks slaat reguit in my hart in. Want hy grou versigtig 'n vetplantjie
uit sy eie tuin uit om ons Kersfees vreugdevol en oorvloedig te maak. Vrede
op aarde, in die mens 'n welbehae, die vetplantjie groei dat hy bars. Volgende
Krismis kan ek uit hierdie plantjie vir Basjan twéé steggies gee
vir sy tuin. En een vir al my baie bure. Ag,
tog, ekskuus dat ek hierdie laaste storie vertel, maar as ek dit nié doen
nie, dan sal niemand weet van hierdie goedheid en genade in my lewe nie. Een
van my boeke kry 'n prys. Dit is 'n klein prysie, ek gaan
beslis nie ryk of beroemd word daarmee nie, maar ek lag 'n bek vol tande. Skrywers
in hierdie land word nie eintlik doodgegooi met akkolades of positiewe terugvoering
nie, daarom is hierdie prys 'n aanmoediging, 'n erkenning en doodplein 'n groot
lekkerte. Wat
die prys nóg beter maak, is dat dit sonder pretensie of intrige is. Die
jurie bestaan naamlik nie uit die vreeslike geleerde en belangrike literati van
die boekbedryf nie, maar uit diegene vir wie die boek geskryf is: kinders. Soos
'n mede-pryswenner, Leon de Villiers, later sou sê: "Dit is 'n prys
van kinders wat vere voel vir die skrywer, maar hou van die storie."
Katryn
hoor hoe ek lag toe ek die nuus verneem. Wat is dit nou, vra sy, want sy moet
weet wat in hierdie huis aangaan. En sy lag tog te lekker saam met my toe sy hoor
wat gebeur het. Die
oggend voordat ek vertrek om die oorhandigingsfunksie by te woon, moet ek nog
'n paar laaste dinge doen. Matewis Thabo bring vir my die plaaswerkers se swartboek,
die weeklikse lone moet uitgewerk en die koevertjies volgemaak word. Onderaan
al die inskrywings oor oortyd, skulde en laste, is daar vir my 'n notatjie geskryf:
"Namens al die werkers op De Compagnie wens ons mevrou baie geluk met die
boekprys". Later
die aand kry ek my prys. Maar ek het dit eintlik alreeds gekry, van elke kind
wat daarin vreugde vind om sy neus in 'n boek te steek. En elke man op die plaas
wat in hierdie tyd na druiwemoer en gis ruik, van elke vrou wie se oorrok vol
druiwesap is. (ATKV-kinderboektoekenning
vir Blinde Sambok.) |