|
Inleiding
Die tekstipe, rillers, is een van die mees merkwaardige en kontroversiële
genres wat fiksie betref. So meen Gelder (2000) in die voorwoord
van The Horror Reader (uitgegee deur Routledge). Gelder (2000)
is verder van mening dat rillers 'n verskeidenheid van maniere aan
die leser bied om sy/haar wêreld te sien en te klassifiseer:
wat is boos en wat is goed; wat is bonatuurlik en wat is normaal;
wat kan gesien word en wat moet verberg bly.
Na aanleiding hiervan sal hierdie werkstuk poog om 'n studie van
die genre/tekstipe, rillers, vir die ouderdom agt tot twaalf jaar
te maak. Sodoende sal daar gepoog word om die moontlikhede vir die
skrywer met die skryf van hierdié genre aan die lig te laat
kom. Ondersoek sal ingestel word na die aard en kenmerkende konvensies
van die tekstipe, die hantering van skeppingselemente en die teikenleser.
Daar sal deurgaans na gepubliseerde tekste verwys word as voorbeelde.
Laastens sal twee tekste in hierdié genre bespreek word.
Aard en kenmerkende konvensies van rillers
Rillers gaan gepaard met spanning, opwinding en die bonatuurlike.
'n Riller het die vermoë om die leser daarvan terselfdertyd
te walg en te fassineer (Gelder, 2000:4). Rillers vir die teikenouderdom
(8 - 12 jaar) is betreklik kort en dramaties, die atmosfeer is meesleurend
en die karakters is dinamies (Thom, 1999:104). Verder impliseer
'n riller die bestaan van twee wêrelde - die natuurlike wêreld
en die bonatuurlike wêreld (Todorov, 2000:15).
Met aanvang van die riller word karakters geskets soos wat hulle
in hulle natuurlike wêreld omgaan. Die normale roetine/optrede
van karakters in hulle natuurlike wêreld word dan versteur
deur die bekendstelling van 'n geheimsinnige karakter, 'n bonatuurlike
wese of bonatuurlike gebeure. So word die hoofkarakter in The
Twitch (uitgegee deur Penguin Books) deur Guy de Maupassant
ontwrig deur die bekendstelling van die geheimsinnige pa en dogter
wat agterdog wek met hulle eienaardige optrede. In Die Waterding
(uitgegee deur Human & Rousseau) deur Francois Bloemhof
gaan die verskyning van 'n bonatuurlike wese gepaard met die bekendstelling
van die geheimsinnige karakter, Bart.
Na aanleiding van die bonatuurlike gebeure staan die hoofkarakter
dan voor 'n kruispad - hy/sy moet kies tussen 'n natuurlike en 'n
bonatuurlike verduideliking vir die gebeure (Todorov, 2000:19).
Meermale sal die hoofkarakter poog om 'n natuurlike verduideliking
vir die gebeure te soek. In sy/haar soeke kom die karakter tot die
besef dat daar geen natuurlike verduideliking vir die gebeure te
vind is nie. So 'n voorbeeld is Kind van die donkerte (uitgegee
deur Tafelberg) deur Robert Hill. Die hoofkarakter ontdek 'n wese
wat in 'n donker grot woon. Hy poog dan om 'n natuurlike verduideliking
daarvoor te vind, maar kom tot die gevolgtrekking dat die wese slegs
deur die bonatuurlike verklaar kan word.
Hierna gaan die hoofkarakter, soms met behulp van ander karakters,
deur 'n spanningvolle dog opwindende proses om 'n oplossing te vind
en sodoende van die bonatuurlike wese/omstandighede los te kom.
So 'n voorbeeld is Green-Eyed Ghost Cat (uitgegee deur Piccadilly
Press) deur Michael Grater. Tub en sy twee vriende is saam met 'n
angswekkende ou vrou en haar spookagtige kat in 'n kamer vasgekeer
en moet 'n plan beraam om van hulle ontslae te raak. Dit is juis
in hierdie gedeelte van die riller waar die spanning 'n hoogtepunt
bereik. Die spanning bou deur die loop van kort hoofstukke op en
elke hoofstuk eindig op 'n senutergende hoogtepunt sodat die leser
oombliklik moet begin lees aan die volgende hoofstuk. Die Grillers-reeks
deur R.L.Stine is so 'n voorbeeld. Volgens Steyn (1999:42) is die
Grillers-reeks so geskryf dat geen hoofstuk onhanteerbaar lank is
nie en dat feitelik elke tweede hoofstuk eindig op 'n naelbyt-oomblik
wat sorg dat die jong leser eenvoudig onverwyld voortlees.
Na die oorwinning oor die bonatuurlike eindig die riller gewoonlik
met 'n verrassende slot. Net wanneer dit lyk asof dinge in die natuurlike
wêreld van karakters na die realistiese vlak beweeg, neem
die bonatuurlike weer oor (Thom, 1999:104). So 'n voorbeeld is Kamer
13 (uitgegee deur Human & Rousseau) deur Francois Bloemhof
en Secret Terror (uitgegee deur Penguin Books) deur Pete
Johnson. Na die oorwinning oor die slymerige monster in Kamer
13 lyk dit of alles weer die volgende dag van voor af gaan begin,
aangesien dit wil blyk dat die monster sy kloue in 'n volgende slagoffer
geslaan het. In Secret Terror wil dit blyk dat die hoofkarakter
ontslae geraak het van die vreesaanjaende spinnekop, maar sy kom
later tot die besef dat die spinnekop eintlik in haar hare rondkruip.
Hantering van die skeppingselemente
Wat die riller betref is die hantering van die skeppingselemente,
plot, karakter, plasing en vertelinstansie so aangepas om die spanning
van die verhaal te versterk.
In kinder- en jeugboeke word plot so hanteer dat die gebeure en
intrige wat om die hoofkarakter verdig die fokus van die leser rig
(Greyling, 2011:28). In die geval van die riller is dit ook die
geval. Die sentrale storielyn gaan om die hoofkarakter se stryd
met die bonatuurlike. Karakters gaan tot aksie oor en die plot word
dus deur karakterhandeling voortgestu. Hierdie storielyn is swaar
belaai met spanning aangesien gebeure dramaties uitgebeeld word
en kort op mekaar volg. Die spanning bereik aan die einde van elke
hoofstuk 'n hoogtepunt om sodoende die aandag van die leser te behou.
'n Lewendige plot met die verslaning van die bonatuurlike as klimaks
is dus kenmerkend aan die riller. Volgens Steyn (1999:42) is die
Grillers-reeks 'n voorbeeld hiervan aangesien R.L. Stine daarin
slaag om die spanningsdraad telkens op die regte oomblik 'n plukkie
te gee. Battleground (uitgegee deur Penguin Books) deur Stephen
King is 'n verdere voorbeeld. Elke aksie van die hoofkarakter lei
tot 'n reaksie deur bonatuurlike. Hier is die plot dus lewendig
aangesien gebeure vinnig op mekaar volg.
In kinder- en jeugboeke is die hoofkarakters hoofsaaklik jong karakters.
Hierdie jong karakters beleef die gebeure eerstehands en volwassenes
word op die agtergrond geplaas (Greyling, 2011:28). Soos reeds vermeld
word daar in die skryf van rillers van dinamiese karakters gebruik
gemaak. Karakters vol beweging, krag en energiek is nodig om handeling
voort te dryf. Die karakters in rillers is dus karakters wat oorgaan
tot aksie en teenoor die bonatuurlike optree. Hierdie optrede van
die karakters dra by tot die spanning en opwinding van die riller.
Verder moet hierdie karakters geloofwaardig wees sodat die jong
leser homself in hierdie karakter kan raaksien en identifikasie
vergemaklik word. So is die karakter van Lana in Die waterding deur
Francois Bloemhof 'n dinamiese karakter. Sy gaan tot aksie oor en
besluit om uit te vind waarom Bart so geheimsinnig is. In 'n
Oog vir 'n pop (uitgegee deur Perskor) deur Anita C. du Plessis
is die karakter van Mitzi 'n karakter waarmee die jong leser kan
identifiseer, aangesien sy worstel met dieselfde probleme waarmee
kinders van die teikenouderdom worstel.
Wat plasing in rillers betref, word daar ten opsigte van tyd en
ruimte nie breedvoerig uitgebrei nie. Die fokus is hoofsaaklik op
die gebeure en karakters. Ten opsigte van ruimte word daar wel sekere
toegewings gemaak sodat daar 'n byna spookagtige, oftewel onheilspellende
atmosfeer geskep word. In Green-Eyed Ghost Cat deur Michael
Grater heers daar 'n byna donker atmosfeer wat heel gepas is, aangesien
die verhaal in die middel van die nag afspeel.
In kinder- en jeugboeke word die gebeure deur die jong karakters
beleef en deur hulle perspektief aangebied (Greyling, 2011:28).
Wat rillers betref is daar selde sprake van 'n ek-verteller. Die
gebeure word deur 'n eksterne verteller vanuit die hoofkarakter
se perspektief vertel. So word die leser direk by die karakter se
omstandighede betrek, aangesien hy/sy bewus is van die karakter
se gevoelens. Dit is dus vir die leser moontlik om direk by die
spanning betrokke te wees.
Die teikenleser
Soos reeds vermeld poog hierdie werkstuk om 'n studie te maak
van die tekstipe, rillers, vir die ouderdom agt tot twaalf jaar.
Wat die teikenleser betref moet daar op taalgebruik, lengte van
verhale, kompleksiteit van die plot en belangstellings van die spesifieke
ouderdomsgroep gelet word. Wat taalgebruik betref, kan daar vermeld
word dat die taalgebruik in rillers vir hierdie ouderdom betreklik
eenvoudig is. In Kamer 13 en Die Waterding deur Francois
Bloemhof word daar byvoorbeeld van kort en kragtige sinne gebruik
gemaak. Die verhale, asook die hoofstukke is betreklik kort om sodoende
die aandag van die leser te behou.
Vir die jonger leser (8 - 9 jaar) sal 'n boek byvoorbeeld uit 52
bladsye bestaan, soos in die geval van Green-Eyed Ghost Cat
deur Michael Grater.
Vir die ouer leser (10 - 12 jaar) sal 'n boek byvoorbeeld uit 64
- 88 bladsye bestaan, soos is nie geval van Kamer 13 deur
Francois Bloemhof en 'n Oog vir 'n pop deur Anita C. du Plessis.
Wat die plot betref, kan daar vermeld word dat gebeure slegs om
die hoofkarakter sentreer. Alhoewel daar in rillers telkemale 'n
kinkel in die kabel is, is daar selde sprake van 'n sub-plot. Wat
die belangstellings van die teikenleser betref, word gebeure en
karakters in rillers so geskep dat die teikenleser daarby aanklank
vind. Die teikenleser se belangstellings moet in die gebeure en
karakters weerspieël word sodat hy/sy daarmee kan identifiseer.
'n Voorbeeld hiervan is die Grillers-reeks. Volgens Steyn (1999:42)
slaag R.L. Stine, skrywer van die laasgenoemde reeks, daarin om
in 'n kind se kop te klim en hy verstaan dus hoe hulle dink, wat
vir hulle belangrik is, wat hulle goed laat voel, met watter soort
probleme hulle worstel en wat vir hulle snaaks is. Die teikenleser
geniet dit om rillers te lees, aangesien dit dien as 'n vorm van
ontlading en ontspanning. Hulle geniet die spanning en bonatuurlike
gebeure omdat hulle weet dat hulle veilig is - met die toemaak van
die boek kan hulle terugkeer na die werklikheid. So geniet die teikenleser
dan ook die onverwagsheid wat met rillers gepaard gaan.
Laastens moet die spanning en uitbeelding van die bonatuurlike
van so 'n aard wees dat die jong leser daardeur aangelok word en
sy verbeelding daardeur geprikkel word. Rillers is dus bedoel vir
die jong leser met sterk senuwees en 'n vrugbare verbeelding (Thom,
1999:105).
Moontlikhede vir die skrywer
Wat die skryf van rillers betref, is die moontlikhede vir die
skrywer eindeloos. Die skryf van 'n riller gee aan die skrywer se
kreatiwiteit vrye teuels. Met die skep van 'n bonatuurlike situasie,
oftewel wese kan die skrywer sy verbeelding laat gaan. Sodoende
kan hy iets ongewoon, dog oorspronklik skep en sy eie stempel daarop
afdruk. Die skep van gebeure waardeur spanning aangedryf word, die
skep van dinamiese karakters waardeur handeling voortgestu word
en die skep van 'n "spookagtige" atmosfeer is 'n uitdaging
vir die skrywer se kreatiwiteit. Alhoewel die bogenoemde take 'n
uitdaging bied, is dit steeds 'n opwindende vooruitsig vir die skrywer.
Die skep van hierdie opwindende gebeure en karakters kan vir die
skrywer net so 'n opwindende belewenis wees as wat die lees daarvan
vir die leser is.
Verder is die tekstipe, rillers, 'n onuitputbare bron vir die skrywer.
Deur hierdie genre te bestudeer, kan die skrywer homself vergewis
met die hantering van spanning, die skep van opwindende gebeure
en die skep van dinamiese karakters. Hierdie kennis kan die skrywer
toepas in sy ander kreatiewe skryfwerk aangesien spanning, opwindende
gebeure en dinamiese karakters noodsaaklik is vir enige geslaagde
aksie- of avontuurverhaal.
Bespreking van verhale
Na aanleiding van die bogenoemde inligting sal twee verhale in die
genre, naamlik Kind van die donkerte (uitgegee deur Tafelberg)
deur Robert Hill (1990) en Kamer 13 (uitgegee deur Human
& Rousseau) deur Francois Bloemhof (1998) bespreek word.
Kind van die donkerte
deur Robert Hill
Met die aanvang van Kind van die donkerte word Nicolaas
se alledaagse lewe en roetine in die natuurlike wêreld geskets.
Wanneer hy soos gewoonlik in die omgewing van die nabygeleë
grot in sy boomhuis gaan speel, sien hy 'n vreemde wese by die ingang
van die grot. Nicolaas se normale roetine word dus versteur deur
hierdie vreemde wese. Hierdie vreemde wese verskrik Nicolaas, maar
tog is hy geïnteresseer daardeur.
Nicolaas is 'n dinamiese karakter aangesien hy dadelik tot aksie
oorgaan. Hy poog om 'n natuurlike verduideliking vir die bestaan
van menslike wesens in grotte op te spoor. Hy kom egter tot die
slotsom dat daar geen natuurlike verduideliking kan wees nie - die
wese moet van bonatuurlike oorsprong wees.
Nicolaas gaan dan deur 'n proses belaai met spanning waar hy op
gereelde basis kontak maak met hierdie bonatuurlike wese. Hy poog
om hierdie wese te help om vanuit die grot te ontsnap. In hierdie
deel van die vertelling eindig ongeveer elke tweede hoofstuk op
'n naelbyt-oomblik sodat die leser onmiddellik wil aanhou lees om
uit te vind wat volgende gaan gebeur. Die spanning bereik hier dan
ook 'n hoogtepunt aangesien Nicolaas self in die grot beland en
as vermis aangemeld word. Hier gaan die sentrale storielyn dus om
die hoofkarakter se omgang met die bonatuurlike.
Nicolaas ontdek nog vele meer van hierdie bonatuurlike wesens in
die grot. So eindig die boek dan met 'n onverwagse slot. Nicolaas
kom tot die besef dat hy hierdie bonatuurlike wese glad nie van
hulp kan wees nie. Hierdie wese het 'n "familie" en moet
daarom eerder in vrede gelaat word. Nicolaas gaan vir 'n laaste
maal die grot binne om die bonatuurlike wese te gaan groet. Die
boek eindig dan met die toemaak van die grot sodat geen persoon
weer daarin kan beland nie.
Wat plasing in hierdie boek betref, word daar 'n redelik breedvoerige
beskrywing van ruimte aangetref. Veral in terme van die beskrywing
van die grot slaag die skrywer daarin om 'n donker atmosfeer te
skep. Teksture en reuke word ook breedvoerig beskryf en die leser
kan byna hierdie dinge saam met die hoofkarakter ervaar.
Wat die vertelinstansie in Kind van die donkerte betref,
word die gebeure vanuit Nicolaas se perspektief vertel en hy tree
ook as ek-verteller op. Om hierdie rede voel die leser baie na aan
die hoofkarakter en kan hy/sy byna die gebeure deur Nicolaas se
oë beleef.
Wat die teikenleser betref, sal Kind van die donkerte vir
die meer belese leser geskik wees. Die lettertipe is betreklik klein
en die boek bestaan dan ook uit meer as 80 bladsye. Die taalgebruik
getuig ook daarvan dat hierdie boek vir 'n meer gesoute leser geskik
sal wees. Hierdie boek sal dus geskik wees vir die leser van 11-12
jaar.
Kamer 13
deur Francois Bloemhof
Met die aanvang van Kamer 13 word Bennie se daaglikse roetine
in die natuurlike wêreld geskets. Met aanvang van 'n nuwe
skoolkwartaal beleef Bennie 'n bonatuurlike gebeurtenis een van
die klaskamers. So word ook Bennie se lewe in die natuurlike wêreld
versteur deur hierdie bonatuurlike gebeurtenis. Hy kan nie meer
skool toe gaan sonder om aan hierdie gebeure te dink nie.
Bennie is 'n dinamiese karakter aangesien hy tot aksie oorgaan
en 'n verduideliking vir die bonatuurlike gebeure probeer vind.
Hy stel ondersoek in na die onheilspellende geskiedenis van die
klaskamer en vra baie vrae in hierdie opsig. Hy kom tot die slotsom
dat daar geen natuurlike verduideliking vir die vreemde gebeure
kan wees nie.
Bennie gaan deur 'n proses belaai met spanning as hy probeer om
die oorsprong van die bonatuurlike gebeure op te spoor en sodoende
te ontsnap daarvan. Hy en 'n vriend breek een aand in die klaskamer
in om te bepaal wat dit is wat daarin skuil. In hierdie deel van
die vertelling eindig ongeveer elke tweede tot derde hoofstuk op
'n senutergende oomblik sodat die leser noodgedwonge moet voortlees.
Die spanning bereik hier dan ook 'n hoogtepunt as Bennie en Robert
'n slymerige monster agter die panele in die klaskamer ontdek. 'n
Geveg ontstaan en die twee vriende werk saam om die monster te verslaan.
Hier gaan die sentrale storielyn dus om die hoofkarakter se stryd
om die bonatuurlike te verslaan.
Nadat Bennie en Robert die monster verslaan het, lyk dit asof
dinge na normaal terugkeer. Dit is egter nie die geval nie. Kamer
13 eindig dus met 'n verrassende slot as Bennie opmerk dat sy
onderwyser ook deur die slymerige monster geïnfekteer is voordat
hulle dit kon verslaan. Dit word dus aan die einde van die boek
gesuggereer dat die hele proses weer van voor af gaan begin.
Wat plasing in Kamer 13 betref, word dat daar ten opsigte
van tyd en ruimte nie breedvoerig uitgebrei nie. Die skrywer slaag
wel daarin om met die ruimtelike beskrywings wat daar wel voorkom
'n onheilspellende atmosfeer te skep. Hierdie atmosfeer versterk
wanneer die karakters hulself in die bose klaskamer bevind.
Wat die vertelinstansie word die gebeure vanuit die hoofkarakters
se perspektief aangebied. Daar word van 'n eksterne verteller gebruik
gemaak. Die leser is deurgaans bewus van karakters se gevoelens.
Dit is dus vir die leser moontlik om direk by die hoofkarakter betrokke
te wees en die gebeure saam met hom te beleef. Aangesien die leser
deurgaans bewus is van die karakter se gevoelens, is dit moontlik
om self ook die spanning en vrees van die karakter aan te voel.
Wat die teikenleser betref, sal Kamer 13 vir die jonger
leser geskik wees. Die lettertipe is betreklik groot, die taalgebruik
is eenvoudig en die boek bestaan uit slegs 62 bladsye. Hierdie boek
is dus geskik vir die leser van 8-10 jaar, maar tog ook vir 10-12
jariges.
Sintese
Om saam te vat, wil dit blyk dat rillers 'n genre is waar dit in
hoofsaak gaan om spanning. Die onderskeie skeppingselemente word
dan ook so ingespan om by te dra tot die spanning in die vertelling.
Verder bied hierdie genre vele moontlikhede vir die skrywer aangesien
die skep van spanning en die bonatuurlike 'n uitdaging is vir die
verbeelding. Laastens kan daar vermeld word dat die teikenleser
geniet om rillers te lees, aangesien dit dien as 'n vorm van ontlading
- hulle kan die spanning geniet, aangesien hulle weet met die toemaak
van die boek kan hulle terugkeer na die normale wêreld. Die
teikenleser geniet so ook die onverwagsheid van die slot van hierdie
boeke. In hierdie verband kan daar verwys word na die woorde van
Stine (soos aangehaal deur Steyn, 1999:42): "My boeke is soos
'n dol pretparkrit. Baie vinnig en opwindend. Jy dink nog jy gaan
in een rigting, dan trek jy al weer in 'n ander koers. Hulle fop
jou. Rafel jou uit. Maar jy weet jy's altyd veilig."
Bibliografie
BLOEMHOF, F. 1997. Die waterding. Kaapstad: Human & Rousseau.
60 p.
BLOEMHOF, F. 1998. Kamer 13. Kaapstad: Human & Rousseau. 64
p.
DE MAUPASSANT, G. 1994. The twitch. . (In Horowitz, A., ed. The
Puffin book of horror stories. London: Penguin Books. p. 57-64.)
DU PLESSIS, A.C. 1991. 'n Oog vir 'n pop. Johannesburg: Perskor.
89 p.
GELDER, K. 2000. The horror reader. London: Routledge. 413 p.
GRATER, M. 1984. Green-eyed ghost cat. London: Piccadilly Press.
52 p.
GREYLING, F. 2011. Skryfkuns: die skryf van kinder- en jeugliteratuur
(SKRK 221). Potchefstroom: NWU. 2 p. (S29/28.)
HILL, R. 1990. Kind van die donkerte. Kaapstad: Tafelberg. 82 p.
JOHNSON, P. 1994. Secret terror. (In Horowitz, A., ed. The Puffin
book of horror stories. London: Penguin Books. p. 13-24.)
KING, S. 1994. Batlleground. . (In Horowitz, A., ed. The Puffin
book of horror stories. London: Penguin Books. p. 25-42.)
STEYN, L. 1999. Gryp 'n griller. Taalgenoot, 68(1/2):42-43, Jan.-Feb
THOM, R. 1999. Jeugboekkroniek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe,
39(1):100-107, Mrt.
TODOROV, T. 2000. Definition of the fantastic. (In Gelder, K.,
ed. The horror reader. London: Routledge. p. 14-19.)
|