|
1. Inleiding
Oor Suurlemoen! van Jaco Jacobs met illustrasies en uitleg
deur Elsabe Milandri kan jong en oud saamgesels.
Jaco Jacobs is 'n veelsydige en besonder produktiewe skrywer. Sy
boeke sluit 'n groot verskeidenheid vir verskillende ouderdomsgroepe
in - en voldoen veral aan die behoefte aan lekkerleesboeke vir kinders:
Voorbeelde:
- Prenteboeke (Die beste toebroodjie)
- Rympies (Wurms in Tamatiesous, Die teddiebeerbus en ander
rympies)
- Eerste leesboekies (Wiskunde gee my maagpyn; My ouma is 'n
rockster)
- Ril-en grilboeke (Troetelgedrog)
- Sportboeke (Gevaarlike lopies)
- Perdestories (Stalmaats-reeks) - onder die skuilnaam, Lize
Roux
- Tienerliefdesverhale (Liefde laat jou rice krispies anders
proe) - skuilnaam, Tania Brink
- Tienerboeke (Suurlemoen!)
- Feiteboeke (Hoeveel tande het 'n krokodil?)
Jaco is ook 'n vertaler - veral van ko-produksies by Lapa Uitgewers.
(Jaco is Uitgewer: Kinder- en jeugboeke, LAPA Uitgewers.) Verder
lewer hy gereeld bydraes in tydskrifte soos Taalgenoot en
die nuwe kindertydskrif Hoezit!
Jaco het reeds verskeie toekennings ontvang vir sy werk, insluitende
die Alba Bouwer-prys, die CP Hoogenhout-medalje, die Maskew Miller
Longman-letterkundeprys vir jeugromans en verskeie ATKV-Kinderboektoekennings.
Suurlemoen! is onlangs deur die Suid-Afrikaanse been van
IBBY (International Board on Books for Young People) aangewys as
ereboek in die kategorie Afrikaans. (IBBY wys elke drie jaar in
verskillende kategorieë boeke aan wat 'n spesiale bydrae tot
die onlangse Suid-Afrikaanse literatuur vir kinders en jongmense
gemaak het. Hierdie boeke word vanjaar (2008) uitgestal by IBBY
se wêreldkongres in Kopenhagen.)
Suurlemoen! word goed ontvang by die teikengroep en het reeds
sy tweede druk in minder as 'n jaar beleef. Die omslag van die twee
boeke verskil. Die boek word ook voorgeskryf aan eerste en tweedetaallesers
(gr 8-10).
2. Wanneer mens na Suurlemoen! se resensies
kyk...
Wanneer mens die resensies lees wat oor Suurlemoen! verskyn
het, is daar 'n paar aspekte wat gereeld voorkom, naamlik
Interessante aanbieding
en uitleg.
"Die foto's, skribbel-gedeeltes en Post-It-plakkers,
waarop Tiaan notas aan homself skryf, wat ook op die bladsye aangebring
word, is nogal cool. Dit laat die blaaie lewendig lyk." (Ronnie
Elliot, gr 9)
Toeganklike skryfstyl en aanbieding (kort
hoofstukke, spanningslyn)
'n Hele paar lesers noem die feit dat hulle die boek
nie kon neersit nie.
Die ligte benadering van die tema - teenoor
heelwat tienerboeke wat oor ernstiger kwessies gaan.
'n Graad 9-leser skryf bv. "Jaco Jacobs het nie
probeer om nog 'n "seks, skiet, sigarette en snuif"-boek
vir die jeug te skryf nie. Dit werk vir my. Ek wou die boek nie
neersit nie." (Ronnie Elliot, gr 9)
Humor
Die humor word op so 'n manier geïnkorporeer in
die verhaal dat dit op die kritiese oomblikke gebeur wat nie net
spanning verlig nie, maar ook die boek 'n ligter toon gee. Wat
die humor nog meer genotvol maak is dat dit reg deur die hele
boek loop en nie net losstaande insidente is nie. Mens verwag
met hierdie karakters dat iets skreeusnaaks gaan gebeur, en dit
gebeur weer en weer." (Marita
Venter)
Lesersidentifisering met die karakters
Die skool- en orkesagtergrond is relevant vir die lesers
Die taalgebruik is natuurlike spreektaal
Die verhaal is realisties en relevant.
3. Is dit wat Jaco Jacobs wou bereik het
met Suurlemoen!?
Ek het Jaco gepols oor die boek, onder andere oor die formaat
daarvan. Sy antwoord gee mens 'n kykie in die kreatiewe proses van
die skrywer en wat alles 'n rol gespeel het in die ontstaan en aanbieding
van die boek.
Kreatiwiteit is dan ook 'n belangrike tema in die boek - en dit
is dus ook heel gepas om by die skrywer se kreatiwiteit te begin.
In sy antwoord aan my, skryf hy onder andere:
"Oor die idee vir die formaat, ens.: Dit was 'n
hele paar dinge wat gelyktydig bymekaargekom het. Ek broei al
lank aan die idee om 'n tienerboek te skryf wat wegkom van die
"see van teks" wat deesdae vir baie jong lesers 'n leesuitdaging
is (en in die toekoms dalk ook vir sommige volwasse lesers 'n
probleem gaan wees). Aan die een kant het dit te doen met die
feit dat jongmense se "leeservaring" deesdae in 'n hoë
mate uit internetblaaie en selfoonskerms bestaan. Aan die ander
kant kla Afrikaans-onderwysers dat tweedetaalleerders regtig sukkel
om die voorgeskrewe tienerboeke baas te raak.
"Terwyl ek met hierdie idee in my agterkop rondgeloop
het, was ek redakteur van Volksblad se JIP en derhalwe ook organiseerder
van die Vrystaatse uitdunronde van Rockspaaider. Ek het ook in
hierdie tyd vir die eerste keer kennis gemaak met digitale fotografie
en Photoshop. Nou ja, dis min of meer hoe als in plek geval het.
"Ek is baie mal oor musiek (metal, emo, grunge,
alternative) en sou dolgraag 'n rockgroep wou hê - as ek
enige musiektalent hoegenaamd gehad het! Op 'n dag het ek geloop
en wonder wat ek my rock-groep sou noem ... ek het besluit om
'n naam te kies wat goeie visuele moontlikhede het, en die idee
van 'n goudgeel suurlemoen voorop 'n tromstel het dadelik by my
opgekom. By die huis het ek dadelik prentjies gaan teken, aantekeninge
begin maak, 'n suurlemoen gaan koop en afgeneem ... en dis grotendeels
waar die boek sy ontstaan gehad het. Die storie en hoofkarakters
het ook deels hul ontstaan gehad in 'n manuskrip wat ek vroeër
vir 'n kompetisie begin skryf het, en toe nie klaargemaak het
nie omdat die tyd te min was.
"Ek besef dit klink vir baie mense erg resepmatig
as ek dinge sê soos dat ek byvoorbeeld geweet het daar was
'n behoefte in die mark aan 'n sekere soort boek, maar dit nou
maar eenmaal hoe my kreatiewe proses werk. Ek hou van uitdagings
en van nuwe dinge aanpak in my skryfwerk.
"Terwyl die ontstaan daarvan dalk resepmatig mag
klink, was die storie en karakters vir my ongelooflik lekker om
mee te werk en die skryfproses was vir my besonder bevredigend.
My uitgewer beweer ek het nog nooit 'n hoofkarakter geskep wat
so naby aan myself is soos Tiaan in Suurlemoen! nie - ek sê
nie sy's reg nie, maar ek het nog selde 'n karakter so goed verstaan!
Veral die humor in die storie is die soort goed wat ek self snaaks
vind." (Jaco Jacobs - Persoonlike korrespondensie met Franci
Greyling.)
4. Bespreking
Ek gee veral aandag aan die visuele aanbieding van die teks en hoe
dit bydra tot die betekenis.
Soos met enige ander medium, is daar konvensies in boeke. Van
die konvensies het meer met die inhoud te doen (bv. hoe stories
vertel word, karakters, plot, ensovoorts) terwyl ander met die vorm
(en uitleg en formaat) te doen het (bv. verdeling in paragrawe,
hoofstukke, titelblaaie, inhoudsopgawes, ensovoorts). Konvensies
ontwikkel oor die verloop van tyd sodat dit later as vanselfsprekend
aanvaar word. Dit is wanneer daar 'n boek soos Suurlemoen! verskyn
wat bietjie met hierdie konvensies speel, dat mens weer daarvan
bewus raak.
Op hierdie punt in die bespreking wil ek eers verwys na die Belgiese
skrywer, Anne Provoost, se voorstelling van lesersbehoeftes. Anne
se voorstelling of model het twee asse, naamlik inhoud en vorm.
Elke as is 'n glyskaal met twee pole.
INHOUD: bekend - vervreemdend.
VORM: tradisioneel - eksperimenteel.
Die twee asse vorm vier kwadrante, naamlik:
- Inhoud: bekend. Vorm: tradisioneel
- Inhoud: vervreemdend Vorm: tradisioneel
- Inhoud: bekend Vorm: eksperimenteel
- Inhoud: vervreemdend Vorm: eksperimenteel
Anne reken (en ek stem met haar daarmee saam) dat dieselfde leser
uitleenlopende leesbehoeftes kan hê. Soms het 'n leser behoefte
aan boek waarvan die inhoud bekend en die vorm tradisioneel is (bv.
'n onspanningsverhaal wat jy op 'n vliegtuig wil lees), Ander kere
wil die leser graag met nuwe inhoud kennis maak, maar verkies 'n
tradisionele aanbieding daarvan. Of die leser kan bekende inhoud
op 'n nuwe manier aangebied wil sien. Of dit kan wees dat die leser
behoefte het aan beide nuwe/ vervreemdende inhoud en nuwe wyse van
aanbieding.
Ek vind Anne se lesersbehoeftes ook 'n handige manier om na boeke
self te kyk. Sommige boeke maak gebruik van bekende inhoud en vorm;
ander eksperimenteer weer met beide vorm en inhoud. Volgens hierdie
indeling kan ons Suurlemoen! beskou as 'n bekende inhoud
(die storie is redelik tradisioneel en voorspelbaar), maar met ongewone
en vars aanbieding.
Hierdie verdelings is natuurlik nie staties nie. 'n Leser kan
met die eerste kennismaking met 'n bepaalde soort teks (bv. 'n literêre
roman) dit as nuut en anders ervaar, maar deur meer blootstelling
daaraan, soortgelyke tekste as "bekend" ervaar. Soms verskyn
daar 'n boek wat as vernuwend of eksperimenteel beskou word, maar
wanneer ander skrywers dieselfde tegnieke gebruik, word dit "gewoon"
- en langsamerhand selfs tradisioneel (bv. Sewe dae by die Silbersteins;
Harry Potter). Lesers soek dan weer nuwe/ oorspronklike boeke. Dit
sal natuurlik ook van die betrokke leser afhang of hy of sy 'n boek
as vernuwend beskou.
Suurlemoen! is 'n toeganklike boek wat veral t.o.v. vorm/aanbieding
eksperimenteer. Dit kan dus interessant wees om te kyk hoe die skrywer
met die konvensies speel en die verhaal vir die leser tot stand
bring.
Hier steun ek veral op Johanna Drucker se teorie oor gebruik van
grafiese elemente (middele) in tekste. Grafiese middele is elemente
van bladuitleg en komposisie wat die struktuur en aanbieding van
narratiewe elemente bepaal.
Hierdie grafiese elemente kan opvallend wees, soos prente en foto's
- of onopvallend soos bladsynommers, hoofstuktitels, kantspasies.
Dit is selfs die spasies tussen paragrawe.
Grafiese elemente het twee funksies in 'n teks, naamlik navigasie
en as narratief (verhalend). (Die gebruik daarvan is dus
gedeelte betekenis tussen skrywer/boekontwerper en die leser.)
Navigasie is om vir die leser leiding te gee hoe om die teks te
lees, in watter volgorde, wat as belangrik beskou moet word, ens.
Voorbeelde hier is die hoofstukindelings, lettergrootte en bladsynommers.
Dit kan dus beskou word as aanbieding/vorm.
Narratief (verhalend) is wanneer die grafiese elemente bydra tot
die manier waarop die verhaal vertel en verstaan word. Dit kan dus
beskou word as inhoud. In 'n prenteboek vind mens dikwels dat die
illustrasies bykomende inligting gee wat nie in die woordteks self
is nie. Hier vorm die woordteks en die illustrasies dus 'n nuwe
of oorkoepelende betekenis/storie.
[Dit is belangrik om te noem dat die tegnologie nog altyd 'n rol
gespeel het oor die aanbieding van 'n boek, en watter moontlikhede
beskikbaar is om die verhaal te vertel....]
In Suurlemoen! het die grafiese elemente beide 'n navigerende
en narratiewe funksie. Vorm en inhoud word meestal gekombineer.
'n Paar voorbeelde hiervan:
Die hoofstuktitels
Die hoofstuktitels gee gewoonlik 'n aanduiding van die inhoud
van die hoofstuk, en rig dus die leser se aandag, bv. Mozart met
lipstick en Orkesoefening.
Jaco wissel dit egter ook af met titels wat die leser attent maak
op die vertelling self. 'n Baie slim gebruik is die terugflits wat
aangedui word met: Pause. Rewind. Die hoofstuk wat hierop volg se
titel is Play. Hierdie titel pas nie slegs by die musiektema van
die boek nie, maar sal deur enige kind begryp word - en 'n moeilike
literêre begrip word op 'n speelse en natuurlike manier toeganklik
vir die leser.
Die feit dat die titels in handskrif op maskeerband geskryf is,
dra tot betekenis by. My gunsteling is die woordspeling Senuweebrakke
- selfs die letters is gevorm asof dit op die randjie van 'n senuwee-ineenstorting
is. Die leser ontdek gou dat dit die hoofkarakter Tiaan is wat die
aantekeninge maak. Mens kan jou goed voorstel dat 'n graad 10 seun
plesier daarin het om die woord so te skryf - en dat sy humorsin
hieruit blyk. Wanneer Tiaan sukkel om idees vir 'n liedjie te kry,
bestaan die titel slegs uit 'n paar uitroeptekens. Die hoofstuk
waarin hy sy gyselaarsdrama beplan, Psycho, is die maskeerbandtitel
in repies geskeur.
Die keuse van hoofstuktitels en die manier waarop dit geskryf is,
word karakteriserend van Tiaan. Die navigering word dus ook narratief.
Aanbieding en inhoud versmelt.

Post-it plakkers, aantekeninge en krabbels
Die geel post-it plakkers (geel gedruk) is meestal 'n nota aan
self. Dit word nie in die teks geïnkorporeer nie (behalwe wanneer
Tiaan nie plakkers byderhand het nie, en 'n nota in sy gedagtes
maak). Die leser moet dus hierdie notas self met die vertelling
kombineer. Die grafiese element word dus deel van die narratief/van
die storie. Dit gee 'n aanduiding wat Tiaan dink - en word ook karakteropenbarend.
In ander gevalle word die papiertjies gebruik om idees te kry.
Later word die volledige liedjie in Tiaan se handskrif afgedruk.
Alhoewel die proses beskryf word, is hierdie beplanning 'n konkretisering
daarvan. Die leser kan eerstehands ervaar hoe Tiaan gesukkel het
om idees te kry. Op hierdie wyse word Tiaan as karakter meer geloofwaardig.
Enige leser sal ook die krabbels verstaan - want watter kind (of
volwassene) maak nie uit verveling of frustrasie letterlik "kant-aantekeninge"
nie? Dit is opvallend dat daar nie in die teks na hierdie krabbels
verwys word nie - wat die idee versterk dat die boek 'n persoonlike
dagboek/plakboek is.

Gidsinskrywings en briefies
Die gidsinskrywings en briefies is ingebed in die teks. Tiaan
sal bv. na die inskrywings verwys (p 34) waarna spesifieke inskrywings
in die teks verskyn. In 'n "gewone" boek sou hierdie inskrywings
soos ook die briefies van sy vriende (p 132) kursief gedruk gewees
het. Deur die afdruk van die fisiese briefie word dit karakteriserend
- dus nie slegs wat 'n karakters skryf nie, maar ook die karakter
se skrif en selfs die soort papier wat gebruik word. Dit dra verder
by tot die realiteitsgevoel. Die leser word ook verplig om die grafiese
gedeelte self met die narratief te kombineer. Dit is dus duidelik
dat dit 'n onlosmaaklike deel van die storie en die verstaan van
die teks maak.

Foto's, plakkate en ontwerpe
Ons vind gou uit dat Tiaan 'n ywerige fotograaf is en (soos sy
maats rekenaargeletterd is) en graag met sy rekenaar speel. Die
leser vind dit dus nie vreemd om foto's van die karakters in die
boek te sien nie. Hierdie foto's dra ook by tot die karakterisering
van die karakters sodat daar weinig oor hulle voorkoms gesé
hoef te word - die leser kan self sien hoe hulle lyk en optree.
Die CV's wat hulle vir die Rumoer-inskrywing moet verskaf, gee nog
meer inligting oor die karakters en is 'n natuurlike en kreatiewe
manier van karakterisering. Die leser moet/kan hierdie inligting
self met die narratief kombineer. Waarskynlik sal die jong leser
hier voel asof hy die karakters as vriende leer ken. Die gebruik
om op hierdie manier inligting oor 'n persoon te verskaf, word baie
deur tydskrifte gebruik. (Suurlemoen! Maak baie gebruik van
konvensies waarmee die jong leser in ander media vertroud geraak
het.)
Die afdrukke van plakkate en T-hemp-ontwerpe word deel van die
teks - veral omdat daar verder daarop geskryf word, bv. waar Tiaan
vir Zane 'n spel-les gee. Alhoewel dit nêrens genoem word
nie, kan die leser die afleiding maak dat hierdie deel van Tiaan
se dagboek/plakboek is. Dit is asof die dagboek/plakboek fisies
tot stand gebring word. Die koerantknipsel versterk hierdie idee
verder.
Hierdie effek kulmineer aan die einde van die boek waar die narratief
slegs deur die grafiese elemente tot stand gebring word: naamlik
die foto van die "band" met die byskrifte - en dan die
foto van Tiaan en Zane op die laaste bladsy.
Die narratief en navigasie is versmelt.

5. Resultaat
Ek dink dat Jaco Jacobs, sy redakteur en die grafiese kunstenaar
(Elsabe Milandri) daarin geslaag het om woordteks en grafiese elemente
op 'n interessante en kreatiewe manier te kombineer. Waarskynlik
is dit veral geslaagd omdat daar so 'n groot verskeidenheid grafiese
middele is. Die leser word kort-kort met 'n nuwe grafiese element
verras. Dit word egter op so 'n natuurlike manier as deel van die
verhaallyn gebruik dat dit nie opval nie.
Soos ek aanvanklik genoem het, is die storielyn eenvoudig en bekend.
Wanneer mens noukeuriger oplet, word daar egter 'n groot verskeidenheid
teksvorme en literêre tegnieke gekombineer - en op 'n toeganklike
manier vir die jong leser gegee. Die humor in die boek - woordhumor,
situasiehumor, en ook humor in die grafiese elemente maak dit nog
meer verteerbaar. (Veral uit die droë kommentaar van die verteller.)
Daar is natuurlik nog verdere besprekingsmoontlikhede vir die boek,
byvoorbeeld:
" Humor
" Skoolverhale in 'n nuwe Suid-Afrika
" Die vergestalting van kreatiwiteit in Suurlemoen!
" Die leesbehoeftes en -vaardighede van jong lesers
" Die ontvangs van die boek deur die teikengroep
Hoeveel kan mens dus nie uit een oënskynlik eenvoudige jeugboek
put nie?
En soos die graad nege resensent, Ronnie Elliot, sê "...ek
sal net graag wil weet hoe die band klink ..."

(Voordrag
gelewer op 10 November 2008 by Potchefstroom Leeskring.)
Lees ook die artikel "SF Greyling. 2009. Die konkretisering
van die fiksionele węreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel
van die kreatiewe gebruik van paratekste. Mousaion 27(2) spes 2009."
In hierdie artikel gee ek meer aandag aan Elsabe Milandri se belangrike
aandeel aan Suurlemoen! se sukses.

Verwysings
CAMILE, M. 2001. Sensations of the page: Imagining technologies
and medieval illuminated manuscripts (In: Bornstein, G. &. T.
Eds. The Iconic Page in Manuscript, Print, and Digital Culture.
Michigan: The University of Michigan Press. pp. 22-53.).
CHAMBERS, A. 2001. Reading Talk. Woodchester: The Thimble Press.
DRUCKER, J. 2008. Graphic devices: narration and navigation. Narrative,
16(2):121-139, May.
JACOBS, J. 2007. Suurlemoen! Pretoria: Lapa.
JACOBS, JACO. 06 November 2008. Persoonlike korrespondensie met
Franci Greyling.
JACOBS, JACO. 2009. Persoonlike onderhoud met Franci Greyling.
Bloemfontein. 14 Julie 2009.
|