Unisa
se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur (ENIK) het onlangs 'n spesiale toekenning
aan Freda Linde gemaak vir haar besondere bydrae tot die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse
kinder- en jeugliteratuur. By die oorhandiging van die Sertifikaat aan Freda Linde
het Thomas van der Walt, voorsitter van ENIK, die toekenning soos volg gemotiveer: Freda
Linde is sekerlik een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Vir volwassenes
skryf sy novelles, eenbedrywe, essays, sketse en gedigte. Dit is egter vir haar
bydrae as skrywer vir kinders en die jeug dat Freda Linde onthou sal word en waarvoor
die Universiteit van Suid-Afrika se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur
vandag graag hierdie spesiale toekenning aan haar maak. Sy
is een van die vaardigste Suid-Afrikaanse skrywers vir alle ouderdomsgroepe: vir
kleuters, jong kinders en tieners. Sy skryf realistiese verhale, fantasie, kinderpoësie,
rym, vakliteratuur, herdigtings van volksverhale en nog meer. Van haar 29 oorspronklike
tekste is dertien vertaal en in die buiteland uitgegee. Sy het self meer as 150
boeke in Afrikaans vertaal. Freda
Linde is die mees bekroonde kinder- en jeugboekskrywer in Suid-Afrika (Afrikaans
en Engels). Sy ontvang die CP Hoogenhouttoekenning vier keer: in 1965 vir Snoet-Alleen;
in 1974 vir Jos en Klos; in 1975 vir By die oog van die fontein en in 1978 vir
Die kokkewiet en sy vrou. Die Tienie Hollowaymedalje is twee keer aan haar toegeken:
in 1973 vir Jos en die Bok en in 1985 vir Die Keiserkroon. Die Singende Gras verwerf
vir haar die Scheepersprys in 1974; die WA Hofmeyrprys in 1976 en 'n Goue Medalje
van die Namibiese Kinderboekforum in 1990. Sy wen die Scheepersprys ook vir
'n Tuiste vir Bitis in 1983; die Alba Bouwerprys vir Strepie en Kurfie in 1987
en die MER Prys vir Eenders en anders in 1999. Dit
is moeilik om hierdie veelsydige skrywer se werk in enkele woorde vas te vang:
daar is die liefde vir die natuur wat geïntegreer in haar skryfwerk is; haar
vermoë om 'n bepaalde atmosfeer en stemming raak te vat; om die grense tussen
werklikheid en verbeelding op te hef; om jong lesers te bereik sonder dat dit
lyk of sy spesifiek vir hulle skryf; haar fyn karakterisering; die sosiale kommentaar
in haar werk - byvoorbeeld die wyse waarop sy natuurlike verhoudings tussen verskillende
bevolkingsgroepe kon beskryf sonder teken van paternalisme, in 'n tyd toe dit
alles behalwe algemeen was. As
daar 'n Suid-Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywer is wat verdien om bekroon te
word vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse kinderliteratuur, is dit Freda Linde.Dit
is dus vir Unisa se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur 'n voorreg om
hierdie toekenning aan Feda Linde te maak vir haar unieke en besondere bydrae
tot die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur. Oktober
2003 |