1.
Inleiding Die waarde van letterkunde lê wél
daarin dat die leser betrek word by die lotgevalle van mense, by ander se ervarings,
en sodoende gedwing word om na te dink oor verskillende fasette van menswees"
(Burger, 2005). Die storie van Vaselinetjie (Anoeschka
von Meck) betrek die leser by die lotgevalle van Vaselinetjie en
haar vriende in die kinderhuis. Die boek is onlangs bekroon met die Jan
Rabie/Rapport-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa en die MER-prys vir jeuglektuur.
In die toekennings en besprekings van die boek kom 'n paar aspekte meermale na
vore, naamlik die realistiese uitbeelding van die kinderhuiswêreld; Vaselinetjie
se soeke na identiteit; die taalgebruik; en die moontlike leser. Ek wil
in my bespreking van die boek dan veral op hierdie aspekte fokus. 2.
Kortliks die storie van Vaselinetjie Vaselinetjie vertel die storie
van die weeskind Vaseline (Helena) Bosman wat van haar oupa en ouma weggeneem
word en in 'n kinderhuis in Gauteng geplaas word om haar skoolloopbaan te voltooi. Vaseline
is 11 wanneer sy in die kinderhuis moet gaan woon en die verhaal eindig wanneer
sy klaar is met matriek. In dié tyd maak Vaselinetjie vriende, beleef opwindende
dinge, raak verlief, word terleurgestel, en ontdek haarself. Dié
tydperk is gewoonlik in enige kind se lewe een van groot veranderings - tussen
'n kind en 'n jongmens is daar 'n lang pad van grootword en uitvind wie mens nou
eintlik is: die soeke na 'n eie identiteit. Vir Vaselinetjie is hierdie
tyd nóg moeiliker - nie slegs moet sy dié lewensfase in 'n kinderhuis
en sonder die ondersteuning van haar grootouers deurgaan nie, maar ook haar "ras"identiteit
vind. Vaselinetjie is wit, maar sy praat soos 'n kleurling omdat die mense by
die wie sy grootgeword het, haar oupa en ouma, bruin is. Dit is hierdie
uitbeelding van die harde kinderhuislewe en Vaselinetjie se belewenis, wat lesers
aangryp en emosioneel raak. 'n Leser van 19 jaar het bv. vertel dat sy reeds op
bladsy een begin huil het en die boek nie kon neersit nie. Sy moes dit net eenvoudig
klaarlees. Anoeschka von Meck vertel hoe verbaas sy was oor mansvriende wat haar
gebel het om te sê dat hulle 'n traan moes wegpink omdat Vaselinetjie so
hartseer en skokkend is. 'n 19-jarige leser (man) het vertel dat die swaarkry
in die boek vir hom net een te veel geraak het en dat die storie bloot 'n opeenhoping
van probleme vir die lydende hoofkarakter is. Omdat mense se leeservaring,
leesgewoontes en verwysingsraamwerk verskillend is, is dit te verwagte dat die
reaksie ook sal verskil. Wat was jou reaksie op die boek? Het dit jou laat
huil? Laat lag? Laat dink? 3. Uitbeelding van die
kinderhuiswêreld Anoeschka von Meck self verwys na die boek
as faksie, en verduidelik dat dit 'n werk is waarin die grenslyne tussen
feite en fiksie redelik onseker is. Die agterblad van die boek (en reklamemateriaal)
van die boek verwys ook daarna dat die verhaal gegrond is op haar werklike ervarings
as kinderhuisversorger by 'n kinderhuis (Herberg-Kinderhuis op Robertson). In
'n onderhoud met Deorah Steinmar (Litnet) vertel sy dat die storielyn fiktief
is, maar dat 'n groot deel van die gebeurtenisse die verwerking is van insidente
wat werklik plaasgevind het. Sy het egter nie alles self meegemaak nie - sommige
is oorvertelde dinge wat sy van ander personeellede en kinders gehoor het. Dat
dit nie meer die wêreld is van kinderhuise soos in ouer kinderboeke uitgebeeld
nie, is duidelik. Vroeëre boeke het dikwels 'n geromantiseerde uitbeelding
van die lewe in kinderhuise gehad. Wie onthou nie stories soos Gampietjie in
die weeshuis (Topsy Smith) waar 'n weeskind (én sy vriende) ná
vele avonture uiteindelik deur wonderlike ouers aangeneem word nie? Die
realiteit is dat heelwat kinders in kinderhuise om verskillende redes van hul
ouerhuise verwyder is en op 'n jong ouderdom reeds getraumatiseer is. Hierdie
kinders met hulle uiteenlopende en komplekse agtergronde moet nou saam in 'n inrigting
lewe waar die nodige hulpmiddels en bekwame personeel ook dikwels ontbreek. Wat
die situasie nog meer kompleks maak, is die saamwoon van verskillende rasse en
taalgroepe in die kinderhuis. (Die realistiese uitbeelding van die weeskind/kinderhuisopset
is egter nie nuut nie. Ander tekste wat hierdie verhaal ook in herinnering roep
is Oliver Twist en Ciske (Piet Bakker). Vir die skrywer van
die boek Von Meck (Steinmar, 2005) is dit vreemd dat die lesers die boek skokkend
vind. Dis vir haar vreemd om te besef dat hierdie lewe (kinderhuiswêreld)
in ons gemeenskap bestaan nie. Sy vertel dat die boek met omtrent 'n derde gesny
is, en heelwat "ligter" gemaak is. Sy sê sy het byvoorbeeld glad
nie onderwerpe soos verkragting, sodomie, mishandeling, en wanbestuur binne kinderhuise
aangeraak nie. Dit is waarskynlik weglatings soos bogenoemde wat Fanie Olivier
(2005:13) laat voel dat van die belangrike episodes simplisties aangebied word
en dat dit dui op 'n oppervlakkigheid in die werk. Hy meen byvoorbeeld dat die
werklike krisis rondom seksualiteit nooit ordentlik ter sprake kom nie. 4.
Soeke na identiteit Vaselinetjie se vriendinne kom uit uiteenlopende
wêrelde en verteenwoordig ook verskillende waardesisteme waarmee sy gekonfronteer
word. In dié omgewing moet Vaselinetjie uitvind wie syself is en watter
waardes vir haar belangrik is. 'n Paar momente: Op p 35 is sy 'n paar
maande in die kinderhuis: Vaselinetjie kan maar net nie gewoond
raak aan die vreemde kinderhuslewe met sy loeiende sirenes, bakleiende kinders
en nors tannies nie. Sy bly so ver moontlik uit almal se pad en praat net die
nodigste. [...] O, sy kan nie wag om huis toe te gaan nie! Wag net tot haar ouma-hulle
hoor hoe dit in dié plek gaan! Die gevloek en geskel, haar tweedehandse
skoolklere en hoe voor op die wa en hups die kinders is."
"'n Dag voor haar graad 7-jaar begin, besef sy dit.
"Al is ek nog net ses maande van die huis af, is ek klaar iemand anders.
Ek is besig om iemand heeltemal anders te word as die Vaselinetjie wat vir ouma
versies opgesê en Oupa se pyp gestop het." P 47 Hier
begin sy bewus word van die dubbel rol was sy speel en wie sy eintlik is: Sy
dink aan die aand met die prysuitdeling. Dit wat die mense gedink het wat hulle
voor hulle sien, was nie die waarheid nie. Sy leun met haar voorkop teen die
koue spieël. 'Ek is 'n tweegesig...' Sy het twee lewens en twee stemme.
En die een is nou besig om weg te gaan, om vér agter in haar hart gebêre
te word. Want haar praat en haar gesig pas nie by mekaar nie, en as 'n mens se
goed nie bymekaar pas nie, is jy soos 'n verkleurmannetjie op 'n Smartie-boks.
Dis wat Killer sê. "Is ek dan wat die kinder sê ek is, hé,
Killer? vra sy vir die spieël met trane wat skielik dreig om in haar oë
op te stoot: ''n Basterblanke?'"
Soos wat Vaselinetjie
geleidelik met die ander kinderhuiskinders vriende maak, begin sy al hoe meer
met hulle assosieer en ook begrip vir hul optrede ontwikkel. Ná
haar eerste wegloopepisode beleef Vaselinetjie die verwerping deur die skoolhoof
en ander kinders in die skool intens en neem sy bewustelik 'n besluit om op te
hou om goed te wees. Vir wat? Who cares? Als is verniet.
Niemand traak wat jy doen nie, solank jy net nie hulle lewens moeilik maak nie.
Van nou af gaan sy soos al die ander kinderhuiskinders maar net deur die aaklige
lang dae probeer kom. En as sy opvrek voor dit om is, dan is dit ok maar reg."
(68)
Haar veranderde houding blyk dadelik uit haar liggaamshouding
en die feit dat sy haar eerste sigaret rook. "Ek het
nog nooit regtig ingepas nie. Nog nooit regtig-egtig deel van ''n groep gewees
nie. Op my eie dorp was ek te lig en hier is ek weer te baster. Stupid ek. Nazrene
is reg. Dog ewe as ek anders leer praat, sal ek ook in kan wees..." Sy sny
soos die nader meisies haar hare af in simpatie met die seuns, maar erken later
aan Killer: "Ek het dit vir myself ook gedoen. En dis die eerste sterk ding
wat ek nog in my lewe gedoen het. Om vir die banggat, dowwe Vaseline van vroeër
te sê ek gaan nie meer worry of ek nou bruin of baster of wit is met lang,
kort of geen hare nie. Hulle almal se hol, ek is net ek!" (95) Vaselinetjie
en haar grootouers raak toenemend vreemd vir mekaar, veral ná die eerste
weersien en haar veranderde voorkoms. Dis nou duidelik dat sy nie slegs 'n ligte
kleurling is nie. Wanneer Vaselinetjie en Texan ter wille van die veiligheid
van die ander tydens die seevakansie wegloop, weet sy eensklaps wat sy van die
lewe wil hê en maak: "Dis snaaks hoe sy skielik
so duidelik weet wat sy wil hê. Duidelik soos daglig weet sy dat sy nie
weer op straat wil wees in vreemde plekke waar wrede en aaklige goed enige oomblik
kan gebeur nie. Sy wil graad 10 en graad 11 maak, en vir die eerste keer in 'n
baie lang tyd wees sy sonder twyfel dat sy matriek wil skryf om skool soos 'n
ordentlike mens klaar te maak. Sy wil probeer. Sy wil nie 'n loser wees
wat uitgechicken het voor sy nog eens geprobeer het nie. Nie vir ander mense nie,
maar vir haarsélf wil sy dit maak."(136)
Ná
die traumatiese gebeure tydens die seevakansie, en die ontluikende liefdesverhouding
met Texan, verander dinge vir Vaselinetjie ten goede: "Met die begin van
haar graad 10-jaar is dit vir Vaseline of iemand 'n lig in haar wêreld aangeskakel
het. Vir die eerste keer vandat sy by die huis weg is, voel dit asof sy dinge
weer in kleur ervaar, eerder as in die wit en swart en grys van haar hartseer
en alleenheid." (155) Sy en Texan word beide tot prefekte verkies,
Vaselinetjie se haar grootouers se verhouding verbeter aansienlik, en sy kan aan
baie dinge dink wat haar lewe aangenaam maak (p186). Sy het nou begrip vir haar
grootouers se optrede en maak vrede daarmee dat hulle bruin en sy wit is. Sy verswyg
egter teenoor Texan wat die situasie is, en wanneer sy uitdeindelik tydens die
funksie hom aan hulle voorstel, beteken dit die einde van hulle verhouding. (Dit
is ironies dat T wat self 'n bruin ma het, so hewig hierop reageer.) Vaselinetjie
beleef die gebroke verhouding baie intens, en beleef verskillende fases van verwerping.
Geleidelik gaan dit beter. Sy voltooi haar skoolloopbaan, en wanneer sy haar uitslae
in die koerant lees, vra sy haar grootouers om te vertel waar sy vandaan kom.
Sy het vrede gemaak met wie sy is: "Ek gee lankal nie meer om wat die
mense dink nie, of ek nou wit of wat is nie." (245) 5.
Taalgebruik Die taalgebruik in die boek kom dikwels ter sprake. Die
taalgebruik en identiteit in die verhaal is vervleg. Taal is deel van Vaselinetjie
identiteit. Aanvanklik praat sy met 'n bruin aksent. Sy probeer soos 'n blanke
praat, en in die kinderhuis leer sy ook die taal van die ander aan (onder andere
die vloektaal). Die beoordelaars van die Jan Rabie/Rapportprys sê
oor die taalgebruik: "Haar stem (Anoeschka von Meck) is uniek en onnabootsbaar,
soos 'n vingerafdruk... Sulke jongmenstaal is nog nie voorheen in 'n Afrikaanse
boek gebruik nie. Dis nie die 'Engfrikaans' van die bedorwe brok in Jackie Nagtegaal
se roman nie, maar 'n heel ander variant van jongmenstaal. Dit spruit natuurlik
uit oorspronklikheid én uitstekende agtergrondkennis" (Anomiem,
Die Burger, 2005). Leana Moolman, 'n derdejaarstudent in Afrikaans en Nederlands
het 'n variasietaalkunde ondersoek na die taalgebruik in Vaselinetjie gedoen en
het interesessante bevindings gemaak. Ek lig net enkele hiervan uit. Gemeenskappe
bestaan uit verskillende groepe - elk met 'n eie identiteit. Taalgebruik kan duidelik
'n merker wees van mense se groeplidmaatskap. Leana het gekyk na die dialek, styl
en register van die karakters in die boek. Sy onderskei 'n klompie karaktergroepe
wat as werklike taalgemeenskappe beskou kan word, naamlik: Vaselinetjie en haar
grootouers in Upington (Noord-Kaap); Vaselinetjie en haar kinderhuismaats in Gauteng;
Bendelede in die Kaap; Prostituut in Johannesburg. Vir elkeen van hierdie
groepe kan 'n lys van woorde of sinsnedes geïdentifiseer word wat herhaaldelik
deur die betrokke karaktergroep gebruik word. Vaselinetjie en haar grootouers
in Upington (Noord-Kaap) - Die gebruik van Engelse woorde/anachronistiese
vorme soos jaart, keffie (kafee), boktails en houseslippers.
- Vokale
met 'n onvaste lengte kom voor, bv. slat (slaan), ok (ook), gewies (gewees).
-
Assimilasie kom voor: skinner (skinder), lossit (los dit), anner (ander).
-
Vokaalvariante kom voor: verkiert (verkeerd), gahoor (gehoor), skrie (skreeu).
- Ontronding kom voor: yt (uit)
- Die weglating van die
konsonant r aan die einde van woorde: see' (seer), daa's al wee' (daar's al weer).
-
Meervoudspatrone wyk af van Standaard-Afrikaans: polieste, diewens.
-
Die voorkoms van die goed-konstruksie: besemgoete, oumagoete, rubbishgoete.
-
Die gebruik van die verledetydsvorm ge- saam met het: toe ek klein gewees het
(was).
- Die gebruik van trappe van vergelyking wyk af van Standaard-Afrikaans:
graagter, beste ooitste.
- Die besitlike konstruksie wyk af van Standaard-Afrikaans:
onse hart se punt.
- Eiesoortige gebruik van woorde: kooi, klimmeidjie,
watse ghaai? (gespot).
"Die bogenoemde lys van woorde verwys
na die karaktergroep wat Vaselinetjie en haar ouma en oupa insluit. Hulle maak
van 'n baie informele styl gebruik en hul taalgebruik is nooit formeel nie. Die
feit dat hulle in Upington in die Noord-Kaap woon, is 'n aanduiding dat hier sprake
is van 'n geografiese dialek. Die taalgebruik wat hierdie karakters karakteriseer,
stem vormlik ooreen met die kenmerke van Oranjerivier-Afrikaans soos uiteengesit
deur Van Rensburg (1989:458-460)" (Moolman, 1995). Vaselinetjie
en haar kinderhuismaats in Gauteng - Die gebruik van Engelse woorde,
bv. cigarettes, perm, meantime, shortie pajamas, loverboy, wake-up.
- Die
gebruik van Engelse woorde op 'n Afrikaanse wyse, soos kommen, dis tickets (dis
verby), tjips en pies.
- Die gebruik van tienertaal, soos weird, gross,
onnies, drop.
- Die gebruik van ge- saam met Engelse woorde, bv. gemolest,
opgedress, gejêm, gebust.
- Die gebruik van kru taal, skelwoorde
en beledigende woorde: friekenwel, flippit, blerrie, werfetters, skomgatte.
-
Assimilasie kom voor in Afrikaanse sowel as Engelse woorde wat gebruik word: oorlat
(omdat), harregat (harde gat), whazzup (what's up), watsit (wat is dit).
-
Eiesoortige gebruik van woorde vir verwysing, soos hottie (hotnot), coloureds
(bruinmense), whitey (witmens), Joeys (Johannesburg), chow (eet).
- Die
gebruik van kindershuitaal (groepstaal): entjie (sigaretstompie), huishok, kamerhok
(om jou regte te verloor), o.p.s.(other people's stompies), Peppies (Dorpskinders
se naam vir kinderhuiskinders omdat hul klere by Pep Stores gekoop word), fluistersiekte
(Vigs), jou buksie gaan pop ('n baba kry), whallap (wegloop).
- Die gebruik
van byname vir kinderhuiskinders: Puck, Kitcat, Pizzaface, Bart Simpson.
"Die
bogenoemde lys van woorde kom voor in die taalgebruik van die karaktergroep wat
al die kinderhuiskinders insluit wat in die boek figureer. Dit sluit onder meer
die karakters Vaselinetjie, Puck, Kitcat, Pizzaface, Tara, Denise, Nazrene, Texan,
Brutus, Bart en Diesel in. Uit die taalgebruik van die kinders is 'n baie informele
styl identifiseerbaar. Die register sluit groeptaal in met woorde wat eie is aan
die kinderhuis en omgewing. Die aard van die sosiale situasie bring mee dat die
taalgebruikers, naamlik kinderhuiskinders, met hul taal beweer dat hulle besig
is met die aktiwiteit van "kinderhuiskind wees" en hulle sluit dus buitestanders
uit met woorde soos entjie, whallap, taties en pullies. Die gebruik van byname
vir maats dui op die eenheid van hierdie sosiale groep. "Die gebruik
van kru taal is opvallend en kan toegeskryf word aan die feit dat die kinders,
heel moontlik, uit gesinne kom van 'n lae sosiale klas. Die hoë gebruiksfrekwensie
van hierdie kru taal toon aan dat die kinders nie eens huiwer om dit te gebruik
nie en dat hulle dit as deel van hul spreektaal sien. Hier is ook sprake van tienertaal
as sosiale dialek en woorde soos cool, funky en weird dui op die gemeenskaplike
kenmerke wat die groep deel" (Moolman, 2005). Bendelede in die Kaap - Die
gebruik van Engelse woorde: girlie, cherry, tricks try, main man.
- Vokale
met 'n onvaste lengte kom voor: gat (gaan), lat (laat), gat (gaan)
- Eiesoortige
gebruik van woorde vir verwysing: jou stukkie (jou meisie), pikkies (kinders),
crack (dwelmsoort), white boitjie.
- Assimilasie kom voor: zippit bitch
(zip dit bitch), merrim (madam), hoe lykit (hoe lyk dit).
- Die gebruik
van ge- saam met Engelse woorde: ge-introduce.
- Die weglating van konsonante
aan die einde van woorde: ga' uitvind hoeko' (gaan uitvind hoekom), ko' (kom).
-
Die besitlike konstruksie wyk af van Standaard-Afrikaans: onse ma.
- Woorde
eie aan bendelede (groeptaal): geslice (doodgemaak), homie (bendelid), my bra
(my vriend).
"Alhoewel die bendelede slegs vir 'n klein gedeelte
deel is van die gebeure in die verhaal en identifisering moeilik is, is daar tekens
van 'n geografiese dialek naamlik Kaapse Afrikaans. Die taalgebruik toon tekens
van ooreenstemming met die kenmerke van Kaapse Afrikaanse soos uiteengesit deur
Van Rensburg (1989:452,453)" (Moolman, 2005). Prostituut in Johannesburg
- Die gebruik van Engelse woorde soos outfit, working girl (prostituut),
got a light.
- Die gebruik van kru taal, skelwoorde en beledigende woorde,
piss off, fokken hotel, jissis.
- Eiesoortige woorde vir verwysing: siggies,
missus.
"Hierdie karaktergroep sluit hoofsaaklik Puck se
ma, Maud, in, wat 'n prostituut in Johannesburg is. Sy praat hoofsaaklik Engels,
alhoewel dit voorkom of haar huistaal Afrikaans is. Dit kan moontlik toegeskryf
word aan die feit dat dit in die Suid-Afrikaanse konteks 'n tendens geword het
om Engels as spreektaal te gebruik. Daar kan aanvaar word dat haar beroep van
haar vereis om Engels te praat, sodat al haar kliënte haar kan verstaan.
Verder kan hier van 'n sosiale dialek gepraat word omdat Maud in 'n lae sosiale
groep ingedeel kan word. Die gebruik van kru taal, skelwoorde en beledigende woorde
is tekens hiervan" (Moolman, 2005). Nie almal stem saam oor die gehalte
van die taalgebruik in die boek nie. Fanie Olivier (2005) stel dit: "Dieselfde
soort oppervlakkigheid tref 'n mens aan in die wyse waarop die taalgebruik van
die karakters voorgestel word, en die onsekerheid van die idioom waarin die verteller
aan die woord is." Ekself het waardering vir die gebruik van dialek
en die uitbeelding van natuurlike taalgebruik van die karakters (soos deur Leana
Moolman aangetoon) maar voel dat daar plekke is waar die taalgebruik onnatuurlik
is. As mens sommige dialoog hardop lees, is dit duidelik dat dit nie praattaal
is nie, en dat dit ook nie by die jong karakters pas nie. Styl- en registerveranderings
kom ook voor binne dieselfde spreekbeurt. Enkele voorbeelde hiervan: p 115:
"Seker bang..."; p 118: "Maggies, Vas,..."; p 165: "Daai
klimmeid...";p 175: "Al is dit dalk die geval..."; p 193: "Dis
crazy..." 6. Vir wie is die boek bedoel? Die
beoordelaars van die MER-prys vir jeuglektuur verwys na die boek as 'n roman wat
op die jeugdige leser (onder meer!) ingestel is. Oor die boek sê Jaco
Jacobs: "Vaselinetjie is ''n boek wat 'n mens nogal onkant betrap - een van
die min Afrikaanse jeugboeke wat die grens tussen jeugliteratuur en volwasse literatuur
aanpak." Hierdie was nie 'n bewuste besluit van Von Meck nie. Die skrywer
was aanvanklik verbaas dat Vaselinetjie 'n jeugboek genoem word. "Toe ek
Tafelberg-uitgewers vra hoekom Vaselinetjie as ''n jeugboek bemark word, sê
hulle omdat ek dit as 'n jeugboek ingeskryf het vir die een of ander kompetisie."
(Jacobs, 2004:6). Sy sê dat sy nie aanpassings van skryfstyl of perspektief
ter wille van lesers gemaak het nie. Die feit dat die boek wel gesny en
ligter gemaak het (soos bo aangetoon) het dit wel meer op die jonger gehoor ingestel. Die
vraag is seker watter jonger gehoor? Die kru taalgebruik sal waarskynlik heelparty
volwassenes laat verkies dat die boek eerder nie deur kinders gelees moet word
nie. Louise Steyn, die uitgewer van die boek sê oor die verskil tussen
boeke vir kinders, jeug en volwassenes: "Vir my persoonlik is daar
'n paar lomp dog handige 'rules of thumb' wat my help om te onderskei. Is die
boek OOR ''n kind of jongmens of VIR 'n kind of jongmens? Wemel die boek van dinge
wat vir ''n volwassene verstaanbaar sou wees maar wat aan die kinderleser of die
jong leser sou verbygaan? Hoe DIG is die boek - jeugboeke is tradisioneel veel
minder dig as boeke vir volwassenes" (Hollander, 2005). Tans is daar
'n redelike belangstelling in boeke wat vir beide kinder en volwasse lesers toeganklik
is. 'n Jong leser wat van realistiese verhale hou, sal waarskynlik Vaselinetjie
se ervaringe in die kinderhuis geniet. Ander lesers sal eerder 'n geromantiseerde
kinderhuis/koshuisverhaal verkies. 7. Ten slotte Ek
kom terug na Willie Burger se aanhaling waarmee begin is. "Die waarde
van letterkunde lê wél daarin dat die leser betrek word by die lotgevalle
van mense, by ander se ervarings, en sodoende gedwing word om na te dink oor verskillende
fasette van menswees. Maar letterkunde, soos alle kuns, neig om subversief te
wees. Letterkunde dwing 'n mens immers om anders te kyk na dit wat ons aanvaar
as die normale, as die gegewe" (Burger, 2005). Letterkunde -
betrek die by die lotgevalle van mense en by ander se ervarings
- dwing
die leser om na te dink oor verskillende fasette van menswees
- dwing mens
om anders te kyk na dit wat as die normale/as die gegewe aanvaar word.
Die
afgelope tyd was daar heelwat mediadekking oor die groot geldelike probleme van
maatskaplike dienste (veral kinderhuise). Het dit jou aan Vaselinetjie en haar
verhaal laat dink? Dan het die ervaring met dié boek jou anders na dinge
laat kyk - het die boek geslaag. (Voordrag
gelewer op 10 September 2005 by Potchefstroom Leesunie.) 
Verwysings Anoniem,
2005. Via Afrika ken verskeie literêre pryse vir voortreflike werk toe.
Die Burger, Maandag 20 Junie, p. 10 Burger, W. 2005. Subversiewe letterkunde
kan vir dokters ook van nut wees. Beeld Plus, Saterdag 10 September, p 9. Hollander,
H. 2005. Barrie en boeke. http://www.roekeloos.co.za Jacobs, J. 2004.
Sy laat haar deur stories lei. 'Die karakters mors met my,' Die Burger,
Maandag 5 Julie, p 6. Moolman, L. 2005. 'n Variasietaalkundige ondersoek
na die taalgebruik in Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck. Referaat AFNL
311, Noordwes-Universiteit. Olivier, F. 2005. Lesers oud én jonk
verdien meer respek. Beeld, Maandag 24 Januarie, p 13. Steinmar, D.
2005. "Real life is hartseer en skokkend" - Anoeschka von Meck in
die spervuur..." http://www.litnet.co.za/heuppvuur/anoeschka.asp |