2005-10-01


grootmense

dinkskrum

Vaselintjie (Anoeshka von Meck) - 'n bespreking

Franci Greyling

1. Inleiding

Die waarde van letterkunde lê wél daarin dat die leser betrek word by die lotgevalle van mense, by ander se ervarings, en sodoende gedwing word om na te dink oor verskillende fasette van menswees" (Burger, 2005).

Die storie van Vaselinetjie (Anoeschka von Meck) betrek die leser by die lotgevalle van Vaselinetjie en haar vriende in die kinderhuis.

Die boek is onlangs bekroon met die Jan Rabie/Rapport-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa en die MER-prys vir jeuglektuur. In die toekennings en besprekings van die boek kom 'n paar aspekte meermale na vore, naamlik die realistiese uitbeelding van die kinderhuiswêreld; Vaselinetjie se soeke na identiteit; die taalgebruik; en die moontlike leser.

Ek wil in my bespreking van die boek dan veral op hierdie aspekte fokus.

2. Kortliks die storie van Vaselinetjie

Vaselinetjie vertel die storie van die weeskind Vaseline (Helena) Bosman wat van haar oupa en ouma weggeneem word en in 'n kinderhuis in Gauteng geplaas word om haar skoolloopbaan te voltooi.

Vaseline is 11 wanneer sy in die kinderhuis moet gaan woon en die verhaal eindig wanneer sy klaar is met matriek. In dié tyd maak Vaselinetjie vriende, beleef opwindende dinge, raak verlief, word terleurgestel, en ontdek haarself.

Dié tydperk is gewoonlik in enige kind se lewe een van groot veranderings - tussen 'n kind en 'n jongmens is daar 'n lang pad van grootword en uitvind wie mens nou eintlik is: die soeke na 'n eie identiteit.

Vir Vaselinetjie is hierdie tyd nóg moeiliker - nie slegs moet sy dié lewensfase in 'n kinderhuis en sonder die ondersteuning van haar grootouers deurgaan nie, maar ook haar "ras"identiteit vind. Vaselinetjie is wit, maar sy praat soos 'n kleurling omdat die mense by die wie sy grootgeword het, haar oupa en ouma, bruin is.

Dit is hierdie uitbeelding van die harde kinderhuislewe en Vaselinetjie se belewenis, wat lesers aangryp en emosioneel raak. 'n Leser van 19 jaar het bv. vertel dat sy reeds op bladsy een begin huil het en die boek nie kon neersit nie. Sy moes dit net eenvoudig klaarlees. Anoeschka von Meck vertel hoe verbaas sy was oor mansvriende wat haar gebel het om te sê dat hulle 'n traan moes wegpink omdat Vaselinetjie so hartseer en skokkend is.

'n 19-jarige leser (man) het vertel dat die swaarkry in die boek vir hom net een te veel geraak het en dat die storie bloot 'n opeenhoping van probleme vir die lydende hoofkarakter is.

Omdat mense se leeservaring, leesgewoontes en verwysingsraamwerk verskillend is, is dit te verwagte dat die reaksie ook sal verskil.

Wat was jou reaksie op die boek? Het dit jou laat huil? Laat lag? Laat dink?

3. Uitbeelding van die kinderhuiswêreld

Anoeschka von Meck self verwys na die boek as faksie, en verduidelik dat dit 'n werk is waarin die grenslyne tussen feite en fiksie redelik onseker is.

Die agterblad van die boek (en reklamemateriaal) van die boek verwys ook daarna dat die verhaal gegrond is op haar werklike ervarings as kinderhuisversorger by 'n kinderhuis (Herberg-Kinderhuis op Robertson).

In 'n onderhoud met Deorah Steinmar (Litnet) vertel sy dat die storielyn fiktief is, maar dat 'n groot deel van die gebeurtenisse die verwerking is van insidente wat werklik plaasgevind het. Sy het egter nie alles self meegemaak nie - sommige is oorvertelde dinge wat sy van ander personeellede en kinders gehoor het.

Dat dit nie meer die wêreld is van kinderhuise soos in ouer kinderboeke uitgebeeld nie, is duidelik. Vroeëre boeke het dikwels 'n geromantiseerde uitbeelding van die lewe in kinderhuise gehad. Wie onthou nie stories soos Gampietjie in die weeshuis (Topsy Smith) waar 'n weeskind (én sy vriende) ná vele avonture uiteindelik deur wonderlike ouers aangeneem word nie?

Die realiteit is dat heelwat kinders in kinderhuise om verskillende redes van hul ouerhuise verwyder is en op 'n jong ouderdom reeds getraumatiseer is. Hierdie kinders met hulle uiteenlopende en komplekse agtergronde moet nou saam in 'n inrigting lewe waar die nodige hulpmiddels en bekwame personeel ook dikwels ontbreek. Wat die situasie nog meer kompleks maak, is die saamwoon van verskillende rasse en taalgroepe in die kinderhuis.

(Die realistiese uitbeelding van die weeskind/kinderhuisopset is egter nie nuut nie. Ander tekste wat hierdie verhaal ook in herinnering roep is Oliver Twist en Ciske (Piet Bakker).

Vir die skrywer van die boek Von Meck (Steinmar, 2005) is dit vreemd dat die lesers die boek skokkend vind. Dis vir haar vreemd om te besef dat hierdie lewe (kinderhuiswêreld) in ons gemeenskap bestaan nie. Sy vertel dat die boek met omtrent 'n derde gesny is, en heelwat "ligter" gemaak is. Sy sê sy het byvoorbeeld glad nie onderwerpe soos verkragting, sodomie, mishandeling, en wanbestuur binne kinderhuise aangeraak nie.

Dit is waarskynlik weglatings soos bogenoemde wat Fanie Olivier (2005:13) laat voel dat van die belangrike episodes simplisties aangebied word en dat dit dui op 'n oppervlakkigheid in die werk. Hy meen byvoorbeeld dat die werklike krisis rondom seksualiteit nooit ordentlik ter sprake kom nie.

4. Soeke na identiteit

Vaselinetjie se vriendinne kom uit uiteenlopende wêrelde en verteenwoordig ook verskillende waardesisteme waarmee sy gekonfronteer word. In dié omgewing moet Vaselinetjie uitvind wie syself is en watter waardes vir haar belangrik is.

'n Paar momente:

Op p 35 is sy 'n paar maande in die kinderhuis:

Vaselinetjie kan maar net nie gewoond raak aan die vreemde kinderhuslewe met sy loeiende sirenes, bakleiende kinders en nors tannies nie. Sy bly so ver moontlik uit almal se pad en praat net die nodigste. [...] O, sy kan nie wag om huis toe te gaan nie! Wag net tot haar ouma-hulle hoor hoe dit in dié plek gaan! Die gevloek en geskel, haar tweedehandse skoolklere en hoe voor op die wa en hups die kinders is."

"'n Dag voor haar graad 7-jaar begin, besef sy dit. "Al is ek nog net ses maande van die huis af, is ek klaar iemand anders. Ek is besig om iemand heeltemal anders te word as die Vaselinetjie wat vir ouma versies opgesê en Oupa se pyp gestop het." P 47

Hier begin sy bewus word van die dubbel rol was sy speel en wie sy eintlik is:

Sy dink aan die aand met die prysuitdeling. Dit wat die mense gedink het wat hulle voor hulle sien, was nie die waarheid nie.
Sy leun met haar voorkop teen die koue spieël. 'Ek is 'n tweegesig...'
Sy het twee lewens en twee stemme. En die een is nou besig om weg te gaan, om vér agter in haar hart gebêre te word. Want haar praat en haar gesig pas nie by mekaar nie, en as 'n mens se goed nie bymekaar pas nie, is jy soos 'n verkleurmannetjie op 'n Smartie-boks. Dis wat Killer sê.
"Is ek dan wat die kinder sê ek is, hé, Killer? vra sy vir die spieël met trane wat skielik dreig om in haar oë op te stoot: ''n Basterblanke?'"

Soos wat Vaselinetjie geleidelik met die ander kinderhuiskinders vriende maak, begin sy al hoe meer met hulle assosieer en ook begrip vir hul optrede ontwikkel.

Ná haar eerste wegloopepisode beleef Vaselinetjie die verwerping deur die skoolhoof en ander kinders in die skool intens en neem sy bewustelik 'n besluit om op te hou om goed te wees.

Vir wat? Who cares? Als is verniet. Niemand traak wat jy doen nie, solank jy net nie hulle lewens moeilik maak nie. Van nou af gaan sy soos al die ander kinderhuiskinders maar net deur die aaklige lang dae probeer kom. En as sy opvrek voor dit om is, dan is dit ok maar reg." (68)

Haar veranderde houding blyk dadelik uit haar liggaamshouding en die feit dat sy haar eerste sigaret rook.

"Ek het nog nooit regtig ingepas nie. Nog nooit regtig-egtig deel van ''n groep gewees nie. Op my eie dorp was ek te lig en hier is ek weer te baster. Stupid ek. Nazrene is reg. Dog ewe as ek anders leer praat, sal ek ook in kan wees..." Sy sny soos die nader meisies haar hare af in simpatie met die seuns, maar erken later aan Killer: "Ek het dit vir myself ook gedoen. En dis die eerste sterk ding wat ek nog in my lewe gedoen het. Om vir die banggat, dowwe Vaseline van vroeër te sê ek gaan nie meer worry of ek nou bruin of baster of wit is met lang, kort of geen hare nie. Hulle almal se hol, ek is net ek!" (95)

Vaselinetjie en haar grootouers raak toenemend vreemd vir mekaar, veral ná die eerste weersien en haar veranderde voorkoms. Dis nou duidelik dat sy nie slegs 'n ligte kleurling is nie.

Wanneer Vaselinetjie en Texan ter wille van die veiligheid van die ander tydens die seevakansie wegloop, weet sy eensklaps wat sy van die lewe wil hê en maak:

"Dis snaaks hoe sy skielik so duidelik weet wat sy wil hê. Duidelik soos daglig weet sy dat sy nie weer op straat wil wees in vreemde plekke waar wrede en aaklige goed enige oomblik kan gebeur nie. Sy wil graad 10 en graad 11 maak, en vir die eerste keer in 'n baie lang tyd wees sy sonder twyfel dat sy matriek wil skryf om skool soos 'n ordentlike mens klaar te maak.
Sy wil probeer.
Sy wil nie 'n loser wees wat uitgechicken het voor sy nog eens geprobeer het nie. Nie vir ander mense nie, maar vir haarsélf wil sy dit maak."(136)

Ná die traumatiese gebeure tydens die seevakansie, en die ontluikende liefdesverhouding met Texan, verander dinge vir Vaselinetjie ten goede: "Met die begin van haar graad 10-jaar is dit vir Vaseline of iemand 'n lig in haar wêreld aangeskakel het. Vir die eerste keer vandat sy by die huis weg is, voel dit asof sy dinge weer in kleur ervaar, eerder as in die wit en swart en grys van haar hartseer en alleenheid." (155)

Sy en Texan word beide tot prefekte verkies, Vaselinetjie se haar grootouers se verhouding verbeter aansienlik, en sy kan aan baie dinge dink wat haar lewe aangenaam maak (p186). Sy het nou begrip vir haar grootouers se optrede en maak vrede daarmee dat hulle bruin en sy wit is. Sy verswyg egter teenoor Texan wat die situasie is, en wanneer sy uitdeindelik tydens die funksie hom aan hulle voorstel, beteken dit die einde van hulle verhouding. (Dit is ironies dat T wat self 'n bruin ma het, so hewig hierop reageer.)

Vaselinetjie beleef die gebroke verhouding baie intens, en beleef verskillende fases van verwerping. Geleidelik gaan dit beter. Sy voltooi haar skoolloopbaan, en wanneer sy haar uitslae in die koerant lees, vra sy haar grootouers om te vertel waar sy vandaan kom. Sy het vrede gemaak met wie sy is: "Ek gee lankal nie meer om wat die mense dink nie, of ek nou wit of wat is nie." (245)

5. Taalgebruik

Die taalgebruik in die boek kom dikwels ter sprake.

Die taalgebruik en identiteit in die verhaal is vervleg. Taal is deel van Vaselinetjie identiteit. Aanvanklik praat sy met 'n bruin aksent. Sy probeer soos 'n blanke praat, en in die kinderhuis leer sy ook die taal van die ander aan (onder andere die vloektaal).

Die beoordelaars van die Jan Rabie/Rapportprys sê oor die taalgebruik:
"Haar stem (Anoeschka von Meck) is uniek en onnabootsbaar, soos 'n vingerafdruk... Sulke jongmenstaal is nog nie voorheen in 'n Afrikaanse boek gebruik nie. Dis nie die 'Engfrikaans' van die bedorwe brok in Jackie Nagtegaal se roman nie, maar 'n heel ander variant van jongmenstaal. Dit spruit natuurlik uit oorspronklikheid én uitstekende agtergrondkennis"
(Anomiem, Die Burger, 2005).

Leana Moolman, 'n derdejaarstudent in Afrikaans en Nederlands het 'n variasietaalkunde ondersoek na die taalgebruik in Vaselinetjie gedoen en het interesessante bevindings gemaak. Ek lig net enkele hiervan uit.

Gemeenskappe bestaan uit verskillende groepe - elk met 'n eie identiteit. Taalgebruik kan duidelik 'n merker wees van mense se groeplidmaatskap. Leana het gekyk na die dialek, styl en register van die karakters in die boek. Sy onderskei 'n klompie karaktergroepe wat as werklike taalgemeenskappe beskou kan word, naamlik: Vaselinetjie en haar grootouers in Upington (Noord-Kaap); Vaselinetjie en haar kinderhuismaats in Gauteng; Bendelede in die Kaap; Prostituut in Johannesburg.

Vir elkeen van hierdie groepe kan 'n lys van woorde of sinsnedes geïdentifiseer word wat herhaaldelik deur die betrokke karaktergroep gebruik word.

Vaselinetjie en haar grootouers in Upington (Noord-Kaap)

  • Die gebruik van Engelse woorde/anachronistiese vorme soos jaart, keffie (kafee), boktails en houseslippers.
  • Vokale met 'n onvaste lengte kom voor, bv. slat (slaan), ok (ook), gewies (gewees).
  • Assimilasie kom voor: skinner (skinder), lossit (los dit), anner (ander).
  • Vokaalvariante kom voor: verkiert (verkeerd), gahoor (gehoor), skrie (skreeu).
  • Ontronding kom voor: yt (uit)
  • Die weglating van die konsonant r aan die einde van woorde: see' (seer), daa's al wee' (daar's al weer).
  • Meervoudspatrone wyk af van Standaard-Afrikaans: polieste, diewens.
  • Die voorkoms van die goed-konstruksie: besemgoete, oumagoete, rubbishgoete.
  • Die gebruik van die verledetydsvorm ge- saam met het: toe ek klein gewees het (was).
  • Die gebruik van trappe van vergelyking wyk af van Standaard-Afrikaans: graagter, beste ooitste.
  • Die besitlike konstruksie wyk af van Standaard-Afrikaans: onse hart se punt.
  • Eiesoortige gebruik van woorde: kooi, klimmeidjie, watse ghaai? (gespot).

"Die bogenoemde lys van woorde verwys na die karaktergroep wat Vaselinetjie en haar ouma en oupa insluit. Hulle maak van 'n baie informele styl gebruik en hul taalgebruik is nooit formeel nie. Die feit dat hulle in Upington in die Noord-Kaap woon, is 'n aanduiding dat hier sprake is van 'n geografiese dialek. Die taalgebruik wat hierdie karakters karakteriseer, stem vormlik ooreen met die kenmerke van Oranjerivier-Afrikaans soos uiteengesit deur Van Rensburg (1989:458-460)" (Moolman, 1995).

Vaselinetjie en haar kinderhuismaats in Gauteng

  • Die gebruik van Engelse woorde, bv. cigarettes, perm, meantime, shortie pajamas, loverboy, wake-up.
  • Die gebruik van Engelse woorde op 'n Afrikaanse wyse, soos kommen, dis tickets (dis verby), tjips en pies.
  • Die gebruik van tienertaal, soos weird, gross, onnies, drop.
  • Die gebruik van ge- saam met Engelse woorde, bv. gemolest, opgedress, gejêm, gebust.
  • Die gebruik van kru taal, skelwoorde en beledigende woorde: friekenwel, flippit, blerrie, werfetters, skomgatte.
  • Assimilasie kom voor in Afrikaanse sowel as Engelse woorde wat gebruik word: oorlat (omdat), harregat (harde gat), whazzup (what's up), watsit (wat is dit).
  • Eiesoortige gebruik van woorde vir verwysing, soos hottie (hotnot), coloureds (bruinmense), whitey (witmens), Joeys (Johannesburg), chow (eet).
  • Die gebruik van kindershuitaal (groepstaal): entjie (sigaretstompie), huishok, kamerhok (om jou regte te verloor), o.p.s.(other people's stompies), Peppies (Dorpskinders se naam vir kinderhuiskinders omdat hul klere by Pep Stores gekoop word), fluistersiekte (Vigs), jou buksie gaan pop ('n baba kry), whallap (wegloop).
  • Die gebruik van byname vir kinderhuiskinders: Puck, Kitcat, Pizzaface, Bart Simpson.

"Die bogenoemde lys van woorde kom voor in die taalgebruik van die karaktergroep wat al die kinderhuiskinders insluit wat in die boek figureer. Dit sluit onder meer die karakters Vaselinetjie, Puck, Kitcat, Pizzaface, Tara, Denise, Nazrene, Texan, Brutus, Bart en Diesel in. Uit die taalgebruik van die kinders is 'n baie informele styl identifiseerbaar. Die register sluit groeptaal in met woorde wat eie is aan die kinderhuis en omgewing. Die aard van die sosiale situasie bring mee dat die taalgebruikers, naamlik kinderhuiskinders, met hul taal beweer dat hulle besig is met die aktiwiteit van "kinderhuiskind wees" en hulle sluit dus buitestanders uit met woorde soos entjie, whallap, taties en pullies. Die gebruik van byname vir maats dui op die eenheid van hierdie sosiale groep.

"Die gebruik van kru taal is opvallend en kan toegeskryf word aan die feit dat die kinders, heel moontlik, uit gesinne kom van 'n lae sosiale klas. Die hoë gebruiksfrekwensie van hierdie kru taal toon aan dat die kinders nie eens huiwer om dit te gebruik nie en dat hulle dit as deel van hul spreektaal sien. Hier is ook sprake van tienertaal as sosiale dialek en woorde soos cool, funky en weird dui op die gemeenskaplike kenmerke wat die groep deel" (Moolman, 2005).

Bendelede in die Kaap

  • Die gebruik van Engelse woorde: girlie, cherry, tricks try, main man.
  • Vokale met 'n onvaste lengte kom voor: gat (gaan), lat (laat), gat (gaan)
  • Eiesoortige gebruik van woorde vir verwysing: jou stukkie (jou meisie), pikkies (kinders), crack (dwelmsoort), white boitjie.
  • Assimilasie kom voor: zippit bitch (zip dit bitch), merrim (madam), hoe lykit (hoe lyk dit).
  • Die gebruik van ge- saam met Engelse woorde: ge-introduce.
  • Die weglating van konsonante aan die einde van woorde: ga' uitvind hoeko' (gaan uitvind hoekom), ko' (kom).
  • Die besitlike konstruksie wyk af van Standaard-Afrikaans: onse ma.
  • Woorde eie aan bendelede (groeptaal): geslice (doodgemaak), homie (bendelid), my bra (my vriend).

"Alhoewel die bendelede slegs vir 'n klein gedeelte deel is van die gebeure in die verhaal en identifisering moeilik is, is daar tekens van 'n geografiese dialek naamlik Kaapse Afrikaans. Die taalgebruik toon tekens van ooreenstemming met die kenmerke van Kaapse Afrikaanse soos uiteengesit deur Van Rensburg (1989:452,453)" (Moolman, 2005).

Prostituut in Johannesburg

  • Die gebruik van Engelse woorde soos outfit, working girl (prostituut), got a light.
  • Die gebruik van kru taal, skelwoorde en beledigende woorde, piss off, fokken hotel, jissis.
  • Eiesoortige woorde vir verwysing: siggies, missus.

"Hierdie karaktergroep sluit hoofsaaklik Puck se ma, Maud, in, wat 'n prostituut in Johannesburg is. Sy praat hoofsaaklik Engels, alhoewel dit voorkom of haar huistaal Afrikaans is. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat dit in die Suid-Afrikaanse konteks 'n tendens geword het om Engels as spreektaal te gebruik. Daar kan aanvaar word dat haar beroep van haar vereis om Engels te praat, sodat al haar kliënte haar kan verstaan. Verder kan hier van 'n sosiale dialek gepraat word omdat Maud in 'n lae sosiale groep ingedeel kan word. Die gebruik van kru taal, skelwoorde en beledigende woorde is tekens hiervan" (Moolman, 2005).

Nie almal stem saam oor die gehalte van die taalgebruik in die boek nie. Fanie Olivier (2005) stel dit: "Dieselfde soort oppervlakkigheid tref 'n mens aan in die wyse waarop die taalgebruik van die karakters voorgestel word, en die onsekerheid van die idioom waarin die verteller aan die woord is."

Ekself het waardering vir die gebruik van dialek en die uitbeelding van natuurlike taalgebruik van die karakters (soos deur Leana Moolman aangetoon) maar voel dat daar plekke is waar die taalgebruik onnatuurlik is. As mens sommige dialoog hardop lees, is dit duidelik dat dit nie praattaal is nie, en dat dit ook nie by die jong karakters pas nie. Styl- en registerveranderings kom ook voor binne dieselfde spreekbeurt.

Enkele voorbeelde hiervan: p 115: "Seker bang..."; p 118: "Maggies, Vas,..."; p 165: "Daai klimmeid...";p 175: "Al is dit dalk die geval..."; p 193: "Dis crazy..."

6. Vir wie is die boek bedoel?

Die beoordelaars van die MER-prys vir jeuglektuur verwys na die boek as 'n roman wat op die jeugdige leser (onder meer!) ingestel is.

Oor die boek sê Jaco Jacobs: "Vaselinetjie is ''n boek wat 'n mens nogal onkant betrap - een van die min Afrikaanse jeugboeke wat die grens tussen jeugliteratuur en volwasse literatuur aanpak."

Hierdie was nie 'n bewuste besluit van Von Meck nie. Die skrywer was aanvanklik verbaas dat Vaselinetjie 'n jeugboek genoem word. "Toe ek Tafelberg-uitgewers vra hoekom Vaselinetjie as ''n jeugboek bemark word, sê hulle omdat ek dit as 'n jeugboek ingeskryf het vir die een of ander kompetisie." (Jacobs, 2004:6). Sy sê dat sy nie aanpassings van skryfstyl of perspektief ter wille van lesers gemaak het nie.

Die feit dat die boek wel gesny en ligter gemaak het (soos bo aangetoon) het dit wel meer op die jonger gehoor ingestel.

Die vraag is seker watter jonger gehoor? Die kru taalgebruik sal waarskynlik heelparty volwassenes laat verkies dat die boek eerder nie deur kinders gelees moet word nie.

Louise Steyn, die uitgewer van die boek sê oor die verskil tussen boeke vir kinders, jeug en volwassenes:

"Vir my persoonlik is daar 'n paar lomp dog handige 'rules of thumb' wat my help om te onderskei. Is die boek OOR ''n kind of jongmens of VIR 'n kind of jongmens? Wemel die boek van dinge wat vir ''n volwassene verstaanbaar sou wees maar wat aan die kinderleser of die jong leser sou verbygaan? Hoe DIG is die boek - jeugboeke is tradisioneel veel minder dig as boeke vir volwassenes" (Hollander, 2005).

Tans is daar 'n redelike belangstelling in boeke wat vir beide kinder en volwasse lesers toeganklik is. 'n Jong leser wat van realistiese verhale hou, sal waarskynlik Vaselinetjie se ervaringe in die kinderhuis geniet. Ander lesers sal eerder 'n geromantiseerde kinderhuis/koshuisverhaal verkies.

7. Ten slotte

Ek kom terug na Willie Burger se aanhaling waarmee begin is.

"Die waarde van letterkunde lê wél daarin dat die leser betrek word by die lotgevalle van mense, by ander se ervarings, en sodoende gedwing word om na te dink oor verskillende fasette van menswees. Maar letterkunde, soos alle kuns, neig om subversief te wees. Letterkunde dwing 'n mens immers om anders te kyk na dit wat ons aanvaar as die normale, as die gegewe" (Burger, 2005).

Letterkunde

  • betrek die by die lotgevalle van mense en by ander se ervarings
  • dwing die leser om na te dink oor verskillende fasette van menswees
  • dwing mens om anders te kyk na dit wat as die normale/as die gegewe aanvaar word.

Die afgelope tyd was daar heelwat mediadekking oor die groot geldelike probleme van maatskaplike dienste (veral kinderhuise). Het dit jou aan Vaselinetjie en haar verhaal laat dink? Dan het die ervaring met dié boek jou anders na dinge laat kyk - het die boek geslaag.

(Voordrag gelewer op 10 September 2005 by Potchefstroom Leesunie.)

Verwysings

Anoniem, 2005. Via Afrika ken verskeie literêre pryse vir voortreflike werk toe. Die Burger, Maandag 20 Junie, p. 10

Burger, W. 2005. Subversiewe letterkunde kan vir dokters ook van nut wees. Beeld Plus, Saterdag 10 September, p 9.

Hollander, H. 2005. Barrie en boeke. http://www.roekeloos.co.za

Jacobs, J. 2004. Sy laat haar deur stories lei. 'Die karakters mors met my,' Die Burger, Maandag 5 Julie, p 6.

Moolman, L. 2005. 'n Variasietaalkundige ondersoek na die taalgebruik in Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck. Referaat AFNL 311, Noordwes-Universiteit.

Olivier, F. 2005. Lesers oud én jonk verdien meer respek. Beeld, Maandag 24 Januarie, p 13.

Steinmar, D. 2005. "Real life is hartseer en skokkend" - Anoeschka von Meck in die spervuur..." http://www.litnet.co.za/heuppvuur/anoeschka.asp

Franci Greyling is verbonde aan die Noordwes-Universiteit
(C) Kopiereg voorbehou
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005