Hans du Plessis
 
April 2003


skrywers

storiemakers


 

 

Hans du Plessis is 'n woordmens van formaat: navorser, akademikus, direkteur, digter, dramaturg, rubriek-, roman- en jeugboekskrywer.
Hans du Plessis

Hans du Plessis is in 1945 in Pretoria gebore. Hy word in Silverton groot en matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria.

Hy behaal die graad B.A. aan UP waarna hy in 1966 begin skoolhou. Hy skryf in 1969 in as deeltydse student by UNISA en behaal die U.O.D. (met onderskeiding in Afrikaans), die Hons. B.A. (met lof) , die M.A (met lof) en in 1975 verwerf hy die D.Litt. et Phil. Hy ontvang die senior beurs van die RGN in 1976 en studeer verder aan die Harvard Universiteit in Amerika. Hy lê in 1991 weer besoek af in die VSA waar hy kursusse in die skryfkuns bywoon. Hy was medewerker aan 'n navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas en projekleier van 'n uitgebreide projek oor die gebruik van Afrikaans in Namibië.

Na ses jaar in die onderwys word hy in 1971 aangestel as Lektor in Afrikaanse Taalkunde aan UNISA. Vanaf 1977 tot 1980 is hy Senior Lektor aan die RAU. In Januarie 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die PU vir CHO en in 1990 word hy die Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die PU vir CHO.

Meer as honderd publikasies het reeds van hom verskyn. Hieronder tel artikels in nasionale en internasionale tydskrifte en 'n aantal taalkundeboeke. Hy debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Daarna verskyn ook Gewete van glas (1984). In 1985 volg die roman, Grensgeval, daarna Skuiwelinge in 1990, in 1991 die jeugroman, Disse flippen stukkende wêreld die my ou, in 1995 die roman Bakgat, en wat dan van my, in 1996 Ditsem Dawid, en in 2001 die digbundel Innie skylte vannie Jirre, wat binne die eerste tien maande 35 000 eksemplare verkoop, die hoogste ooit vir enige Afrikaanse fiksie. In September 2002 verskyn 'n bundel Griekwagedigte oor Hooglied, Boegoe vannie liefde.

Hy ontvang verskeie pryse vir sy skryfwerk, o.a. die C.R. Swart-prys, die ATKV-kinderboekprys, 'n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie en in 2002 ontvang hy die prys vir die beste Algemene Christelike boek van die CBSA (Christian Booksellers Association), en wat naas die Liedboek van die kerk, aangewys is as die beste Christelike publikasie van 2001.

Sy drama, Broerse en die musiekdrama Liefde en oorlog word by die KKNK, Aardklop en landswyd in teaters opgevoer. Die musiekproduksie van Randall Wicomb, Innie skylte vannie jirre en sy CD, Hie neffens my, wat albei op die boek gebaseer is, word ook by die kunstefeeste opgevoer, en is tans besig om deur die land te toer.

Hans du Plessis is lid van die Afrikaanse Skrywersvereniging en lid van verskeie vak- en kultuurverenigings. Hy is redaksielid van die tydskrif, Literator, Visevoorsitter van die Direksie van die ATKV, en lid van die direksies van Lapa-uitgewers en die Aardklop Nasionale Kunstefees.

Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier seuns.

(Inligting verskaf deur Hans du Plessis, April 2003)

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005