|
Alana Bailey is op 21 September 1965 in Krugersdorp gebore, waar sy in 1983
aan die Hoërskool Monument matrikuleer. Daarna studeer sy aan die Universiteit
van Pretoria, waar sy onderskeidelik 'n BA-graad (hoofvakke Afrikaans-Nederlandse
Kultuurgeskiedenis & Engels, 1986), BA Hons (Kultuurgeskiedenis, 1988, cum laude)
en MA (Historiese en Erfenisstudies, 1993, cum laude) behaal. Sy was van
1987 tot 1989 werksaam as historiese navorser by die nasionale Kultuurhistoriese
en Opelugmuseum, en van 1989 tot 2005 by die Maatskappy vir Immigrasie (MVI) as
migrasie-adviseur. In 2005 het die MVI met AfriForum, die vakbond Solidariteit
se burgerregte-inisiatief, saamgesmelt en sertdien is sy by AfriForum werksaam
as Adjunk-uitvoerende Hoof met die Kom Huistoe-Veldtog vir terugkerende Suid-Afrikaanse
emigrante as spesiale projek. Sy skryf graag (fiksie, historiese publikasies,
resensies, navorsingstukke en vertaalwerk) doen deeltyds navorsing oor haar spesialisvelde,
naamlik Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis en internasionale migrasie. Sy is nie
getroud nie, maar is "ma" vir Rusty die teerhartige boerboel, Milly die uitbundige
Jack Russell, Oupa Pip die vink en Kuifie Kanarie. Publikasies - 2006:
Die Prinses van die Afrikavlaktes (LAPA-Uitgewers) Illustrasies deur Emily
Bornoff.
|