|
Albertha Magdalena (Alba) Bouwer is op 16 Maart 1920 in die Vredefort-distrik
(Vrystaat) gebore waar sy haar kinderjare deurgebring het. In haar
tienerjare verhuis sy na Klein Drakenstein by die Paarl en matrikuleer
aan die Hoër Meisieskool La Rochelle. Daarna skryf sy as student
in by die Hugenote Universiteitskollege te Wellington waar sy 'n
B.A.-graad behaal met Geskiedenis en Duits as hoofvakke. As opvoeder
begin sy haar onderwysloopbaan aan die Hoërskool Burgersdorp
en eindig dit ses jaar later aan die Hoërskool Jan van Riebeeck
in Kaapstad. Hierna word sy joernalis, eerstens by die vrouetydskrif
Huishouding, daarna by die destydse SAUK in Kaapstad, en laastens
by die bekende tydskrif Sarie Marais waar sy tot assistentredaktrise
vorder. In 1963 tree sy in die eg met Hubert Coetzee (destydse besturende
direkteur van Nasionale Pers), en in 1975, ses jaar na die afsterwe
van Hubert Coetzee, trou sy met Jan Hofmeyr. Hy is in 1999 oorlede.
Alba Bouwer woon tans in Somerset-Wes.
Haar debuut, Stories van Rivierplaas (1955) en sy opvolg,
Nuwe stories van Rivierplaas (1956) verskyn aan die vooraand
van die sestigerjare. Stories van Rivierplaas het as reeks
in Sarie verskyn en is nie in die eerste instansie vir kinders bedoel
nie. Stories van Ruyswyck (1963) is 'n opvolg van die Rivierplaas-stories.
Alie het intussen grootgeword en is bykans dertien jaar oud as die
storie begin. In Stories van Bergplaas (1963) staan die tienjarige
tweeling, Bramie en Grietjie, in die sentrum op die Bolandse plaas,
Sadewee.
In Abdoltjie: ses verhaaltjies oor 'n Maleiertjie van die Ou
Kaap (1958) verken Abdoltjie, 'n vyfjarige Maleierseuntjie,
in elke opeenvolgende storie sy eie leefwêreld: die berg en
sy diertjies, die see, die wolke en lug, en die buitenste ruimte.
Nog 'n vyfjarige, Dirkie, leer in Dirkie van Driekuil (1966)
van die onstuitbare gang van tyd en van verganklikheid. 'n Hennetjie
met kuikens (1971) handel oor 'n wit kind, Sarie van Johannesburg,
en die swart dogtertjie, Sara van Soweto. Hulle het elk afsonderlik
'n pop van 'n ander ras as gespreksgenoot. In Vlieg, swaeltjie,
vlieg ver (1983) is nog 'n vyfjarige, Faantjie, die hoofkarakter.
Ienkel dienkel: 'n verseboek vir kleintjies (1980) is 'n
kinderpoësiebundel wat bestaan uit sewentien gediggies, elke
gedig is geïllustreer deur May Hillhouse. Bouwer laat ook 16
verse in D.J.Opperman se Kleuterverseboek (1981) die lig
sien en dra ook by tot die versamelbundel Verskombers (1977).
Sy publiseer verhale in bundels, soos "Oupa Kyken" in
Storiehuis, woordpaleis (1980) en "Ou Pettepet" in Goue
fluit, my storie is uit (1988) en dra ook by tot Son en saffier
(1972) en Voorsmaak (1972) wat werke van 10 Scheeperspryswenners
bevat.
Alba Bouwer het heelwat vertaalwerk van kinder- en jeugtekste uit
Amerikaans, Duits, Engels en Nederlands gedoen. Hieronder val Die
Spaanse roosboom (1946), Seeverhale van Seepbel (1949),
Peppie se hoed (1950), Pieter en die wolf (1958),
Katinka (1960), Rinus die stasiemossie (1961), Die
dogtertjie van êrens (1961), Die wit buffel (1962),
Rip van Winkel (1965), Tippie se liefde (1966),
Die leerling-towenaar (1968), Die groen pad (1969), Perd
uit die storm (1971), My eerste groot storieboek (1975),
Die goue motor van Matys (1976), Ek is 'n wilde wollabeer
(1976), Kom, krokodil, na lewerstad (1976), Winnie-die-Poeh
(1985) en My groot, groot storieboek (1987). Sy het ook
religieuse tekste vir volwassenes uit Duits en Nederlands vertaal.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Die Spaanse roosboom (1946)
- Seeverhale van Seepbel (1949)
- Peppie se hoed (1950)
- Stories van Rivierplaas (1955)
- Nuwe stories van Rivierplaas (1956)
- Abdoltjie: ses verhaaltjies oor 'n Maleiertjie van die
Ou Kaap (1958)
- Pieter en die wolf (1958)
- Katinka (1960)
- Rinus die stasiemossie (1961)
- Die dogtertjie van êrens (1961)
- Katrientjie van Keerweder (1961)
- Die wit buffel (1962)
- Stories van Ruyswyck (1963)
- Stories van Bergplaas (1963)
- Rip van Winkel (1965)
- Tippie se liefde (1966)
- Dirkie van Driekuil (1966)
- Die leerling-towenaar (1968)
- Die groen pad (1969)
- 'n Hennetjie met kuikens (1971)
- Perd uit die storm (1971)
- Voorsmaak (1972)
- Son en saffier (1972)
- My eerste groot storieboek (1975)
- Die goue motor van Matys (1976)
- Ek is 'n wilde wollabeer (1976)
- Kom, krokodil, na lewerstad (1976)
- Verskombers (1977)
- Ienkel dienkel: 'n verseboek vir kleintjies (1980)
- Storiehuis, woordpaleis (1980)
- Kleuterverseboek (1981)
- Vlieg, swaeltjie, vlieg ver (1983)
- Winnie-die-Poeh (1985)
- My groot, groot storieboek (1987)
- Goue fluit, my storie is uit (1988)
- Jangroentjie
Scheepersprys vir jeugliteratuur in 1959 vir Stories van Rivierplaas
en Nuwe stories van Rivierplaas en in 1965 vir Katrientjie
van Keerweder, Stories van Ruyswyck en Stories van Bergplaas
Die C.P.Hoogenhoutprys in 1962 vir Katrientjie van Keerweder,
1972 vir 'n Hennetjie met kuikens en 1984 vir Vlieg, swaeltjie,
vlieg ver
Die eerste M.E.R.-prys vir kinder- en jeugliteratuur word in 1984
vir Vlieg, swaeltjie, vlieg ver toegeken.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns stel in 1987
die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur in wat driejaarliks toegeken
word.
|