|
Gebore op Upington, grootgeword op Keimoes en toe Laerskool op De Aar gaan
doen. Hoërskool het ek weer op Keimoes klaargemaak. Selfs op skool
al het ek meer in tale belang gestel en eerder opstelle geskryf as om te leer.
Vandat ek kan onthou, wou ek skryf. Na skool was ek twee jaar Noordwes-Universiteit
om B Com te gaan studeer. Dit het heel goed gegaan, maar in my tweede jaar kon
ek net nie langer vir myself jok nie. Ek het opgeskop om die volgende jaar Taalpraktyk
by Technikon OVS te gaan swot, maar het toe by Perm Bank op Upington begin werk
en in dieselfde jaar my man ontmoet. Ek het besluit om die lang pad te volg
om my droom te verwesenlik. Ek het voortdurend gedigte, kortverhale en artikels
aan tydskrifte en uitgewers voorgelê. In 2000 het ingeskryf vir 'n kursus
in Creative Writing deur The Writer's Bureau of London. 2001 is my eerste artikel
in De Kat gepubliseer. Ek het 'n paar gedigte deur Poetry Institute of Africa
gepubliseer. En so drie jaar saamgewerk as medewerker aan dagstukkie-boeke vir
Carpe Diem Media. Zita is in 2002 gebore. Ek het twee aktiewe jare daaraan
gewerk. 17 Nov 2005 is dit amptelik aanvaar vir publikasie deur LAPA Uitgewers
en 15 November 2006 was die bekendstelling op Upington. Ek is sewe jaar
gelukkig getroud. Word die jaar 30 en het twee pragtige kinders van 4 en 2 jaar
oud. Ek hoop om nog baie boeke die lig te laat sien en aan nog vele karakters
lewe te gee! Publikasies - 2006: Zita
(LAPA-Uitgewers)
|