|
Helena Hugo, die outeur agter die naam Arno Fourie, verwerf in
1969 die graad B.A.-drama aan die Universiteit van Pretoria. In
1969 en 1970 was sy onderskeidelik aktrise vir SUKOVS en lektrise
aan die Departement Drama van die Universiteit van die Vrystaat.
Tot in 1994 is sy onder meer as regisseuse, speler en skrywer betrokke
by die radiowese. Sedert 1974 skryf sy radioverhale vir Siembamba
en tussen 1978 en 1987 lewer sy agt radiovervolgverhale vir Jongspanateljee.
Sy is ook die skrywer van die Atlantis-reeks. Die eerste boek in
dié wetenskapfiksie-reeks, Atlantis (1979), is in 1978 oor
Jongspanateljee uitgesaai en weer in 1991 in sagteband uitgegee.
By Drippelkie (1998) en Alexander en die R100-noot (2001) gebruik
Hugo die skuilnaam, Arno Fourie. In Drippelkie gaan dit oor Arno
Fourie se stryd om die lyding en dood van sy meisie, Sarien, te
verwerk. Drippelkie wen in 1998 die CUM/CNW-skrywerskompetisie.
Die gesteelde R100-noot wat die armoedige Alex in Alexander en
die R100-noot van 'n daggaroker met die bendenaam, Skeleton, aanvaar,
bring vir hom groot probleme mee.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Atlantis (1979)
- Drippelkie (1998)
- Alexander en die R100-noot (2001)
|