|
Barrie Hough is gebore op 17 Januarie 1953. Hy word groot in Johannesburg
en matrikuleer aan die Hoër Seunskool Helpmekaar waar sy Afrikaansonderwyser,
die digter Lukas Malan, hom aanmoedig om te skryf. Hy studeer in
Kommunikasiekunde aan die RAU en behaal 'n M.A.-graad in Engels
met 'n verhandeling oor die dramaturg Athol Fugard. Aanvanklik hou
hy skool by St. Barnabas College, maar word later toneelresensent
by Beeld. Later word hy aangestel op die kultuurredaksie van Rapport,
waar hy oor films, teater en die letterkunde skryf. Benewens die
pryse wat hy vir sy jeugboeke gekry het, is hy ook in 1984 bekroon
met die AA Vita-prys vir teaterjoernalistiek.
My kat word herfs (1986), Hough se debuutwerk, is 'n verhaal
oor die vyftienjarige Danie Meyer, 'n eensame, hakkelende tienerseun
en sy Siamese kat, Nefertiti. Droomwa (1990) is bekroon met
'n silwertoekenning van die Sanlamprys vir jeuglektuur, die Alba
Bouwerprys vir kinderlektuur en die C.P. Hoogenhoutprys. Dit is
eweneens 'n stadsverhaal. Die verhaal gaan oor Paul, die jongste
van drie broers, en die gesin se hartseer en swaarkry nadat hulle
pa sterf, hulle ma haar aan drank vergryp en hulle na 'n woonstel
in Hillbrow moet trek. Vlerkdans (1992) het die Sanlamprys
(goud), asook die ATKV-kinderboekprys (13 tot 15 jaar) verower en
het 'n kragtige effek gehad op die wêreld van die tienerteater.
Hannes, die ek-verteller en een van die hoofkarakters in die verhaal,
is 'n kunsleerling in standerd 9. Die ander hoofkarakter is Anton,
'n danser wat ontdek dat hy, as gevolg van die gebruik van vuil
dwelmspuitnaalde, vigs het. Ook Skilpoppe (1998) is bekroon
met die goue Sanlamprys vir jeuglektuur en word in 2000 deur Lizz
Meiring verwerk tot drama en opgevoer. Anna Meyer se rol as Juliet
in die skoolopvoering beïnvloed haar groei as karakter. Anna
se verhaal word vervleg met ander verhale soos haar joernalissuster,
Elise, se verhouding met 'n sekuriteitswag, Julian, wat haar in
'n dwelmdilemma laat beland; die gesin se verwerking van die enigste
broer, Sebast, se selfmoord; die ontwikkeling van die gesin se verhouding
met en die pa se aanvaarding van Sebast se Chinese vriend, Ching-kung.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- My kat word herfs (1986)
- Droomwa (1990)
- Vlerkdans (1992)
- Skilpoppe (1998)
Droomwa (1990) ontvang 'n silwer toekenning van die Sanlamprys
vir jeuglektuur, die Alba Bouwerprys vir kinderlektuur en die C.P.
Hoogenhoutprys.
Vlerkdans (1992) het die Sanlamprys (goud), asook die ATKV-kinderboekprys
(13 tot 15 jaar) verower.
Skilpoppe (1998) is bekroon met die goue Sanlamprys vir
jeuglektuur.
|