|
Ek is op 11 Maart 1977 in Johannesburg gebore as die jongste (en
amperse laatlammetjie) van drie kinders. Ek het twee ouers broers,
Christaan en Gerhard, wat gelukkig nou nie meer dit hulle grootste
plesier vind om hulle suster te terg nie! Ek het begin skoolgaan
in Roodepoort by die Laerskool Horison. Ek kan nie veel onthou van
graad een nie behalwe dat ek steeds deur my ma gedwing was om ballet
te neem, ek regtig nie vinnig kon hardloop nie, daar elke pouse
oliebolle vir 50c verkoop is en ons skoolklere 'n baie lelike bruin
was.
Ons is na Pretoria waar ons vir vier jaar gebly het. Dit was die
wonderlikste jare ooit en ek hou steeds vol dat Pretoria 'n great
plek is om in groot te word. Ons het in Waterkloofrif gebly en ek
was in Laerskool Anton van Wouw. Ek het woes geswem en koor gesing,
nou en dan klavierles geneem, was 'n baie goeie Voortrekker (ek
kan steeds vinniger 'n vlag hys en stryk as enigiemand wat ek ken)
en het nogal van ons skooluniforms gehou. Ek was veral in my noppies
dat ons kaalvoet kon skool toe gaan. Ek onthou Pretoria veral as
die plek waar ek regtig ernstig begin lees het. Ons het aan die
groot biblioteek in die stad behoort waar ek deur al die boeke gedraf
het en ek was lid van die Daan Retief Boekklub. Elke maand het 'n
pakkie gekom met 'n boek, 'n Japsnoetboekie ('n tipe nie-fiksie
boek) en 'n aktiwiteitsboekie. My broers het ook al die jare aan
die klub behoort wat beteken het dat ek eintlik drie keer soveel
boeke gekry het as enige ander van my maats! My gunstelingboeke
was die Swart Kat-reeks van Chris Sassner. (My ander gunstelingboeke
was die Maasdorpreeks en Nancy Drew.) Ek het 'n Swart Kat-uniform
gehad en het met my BMX deur die strate gery en avontuur gesoek
(wat ek natuurlik nie gekry het nie) en toe maar bly lees en begin
perdry.
Aan die begin van graad ses het ons Kaapstad toe getrek waar ek
eers nie baie gelukkig was nie. Ek was in die Laerskool Groote Schuur
waar almal gedink het ek is vreemd omdat ek praat van "my mo
en my po". Ek was wel baie bly dat ons so naby aan die see
was en ek baie meer perd kon ry as in Pretoria. Ons het aanvanklik
by die see gebly, maar het later Constantia toe getrek. Al die bure
het perde gehad behalwe ons en ek kon nie glo dat ons buurt nie
straatligte het nie. Maar dit was wonderlik, want ons huis was so
naby aan Duiwelspiek dat ek soms vir Van Hunks moes gil om maar
stadig te gaan met sy pyp.
As ek my lewe kon oorhê, sou ek begin het as 'n tiener, want
ek het die verveligste tienerjare gehad. Ek was vreeslik soet en
voorbeeldig en my onderwysers by Herschel School ('n private meisieskool
in Claremont) sê nou nog ek bly hulle gunsteling. Ek was nooit
'n rebel nie - ek het altyd my huiswerk gedoen, was onderhoofmeisie,
het nie te laat uitgebly nie en het selfs hokkie gespeel (selfs
al het ek nie daarvan gehou nie). Ek was wel mal oor waterpolo en
in graad elf is ek gekies as uitruilstudent na Amerika waar ek skoolgegaan
het by Brooks School naby Boston. Ek en die meisie wat saam met
my was, het daarna vir ses weke deur Amerika gebackpack wat wonderlik
was. Ons het van Boston via Cape Cod, Washington, Altanta en Orlando
tot in Miami gereis, New Orleans, oor die breedte van land na die
Grand Canyon, Dallas en Las Vegas, gaan sterre kyk in Los Angeles,
gesurf in San Diego en San Francisco en weer die pad noord gevat
na Seattle. Dit het hopeloos te veel daar gereën en ons het
weer oos beweeg, vinnig gaan kyk na die Niagra Falls en uiteindelik
'n baie lank ruk in New York gebly.
Na skool is ek na die Universiteit van Stellenbosch waar vyf dinge
gebeur het: ek het fantastiese vriende gemaak, ek het uitgevind
ek wil skryf, ek het die wondere van witwyn ontdek, ek het my droomman
ontmoet en ek het 'n BA (Internasionale Studies), Afrikaans en Nederlands
Honneurs cum laude en MPhil (Joernalistiek) gekry. Vandag is ek
waansinnig gelukkig getroud met my droomman, Daniel Hugo. Ons bly
in die mooie Stellenbosch saam met vyf katte en elke wintersaand
maak ons vuur in ons kaggel. Ek en Daniel is mal oor restaurante
en ons eet baie uit. Ons gaan kruip soms naweke in Greyton weg en
vakansies verken ons vreemde plekke met name soos Ljubljana. Ons
forel-en-sjampanje-partytjies is legendaries en ek is geneig om
tot drie films na mekaar te gaan kyk.
Ons bly in die mooie Stellenbosch saam met drie katte en elke wintersaand
maak ons vuur in ons kaggel. Ek en Daniel is mal oor restaurante
en ons eet baie uit. Ons gaan kruip soms naweke in Greyton weg en
vakansies verken ons vreemde plekke met name soos Ljubljana. Ons
forel-en-sjampanje-partytjies en braaie is legendaries en ek is
geneig om tot drie films na mekaar te gaan kyk.
Ek werk voltyds as skrywer, resensent en onafhanklike uitgewerskonsultant.
Ek hou van my werk omdat ek die hele dag met my neus in 'n boek
kan sit sonder dat iemand dink ek is besig om lyf weg te steek.
Ek tree baie by skole op wat die gunstelingdeel van my werk is,
want ek dink kinders is wonderlik.
Op my tagtigste verjaarsdag wil ek die tango dans, Veuve Clicquot
drink, sushi eet en dink aan wat my gunsteling skrywer, André
P. Brink gesê het: "Only by dreaming and writing the
impossible can life be made possible once again."
Publikasies:
- 2010 Die Groenmambas en Shaka se spies (MML, Kaapstad)
- 2009 thomas@geraamte.net (Lapa, Pretoria)
- 2008 - Die verdrinking van Josua van Eden (Umuzi, Kaapstad)
- 2007 - thomas@aksie.net (Lapa, Pretoria)
- 2005 - thomas@nagmerrie.net (Lapa, Pretoria)
- 2005 - Operasie Miaau (Human & Rousseau, Kaapstad)
- 2004 - thomas@sms.net (Lapa, Pretoria)
- 2003 - Koning Henry (Tafelberg, Kaapstad)
- 2003 - thomas@aqua.net (Lapa, Pretoria)
- 2002 - thomas@skerpioen.net (Lapa, Pretoria)
-
2001 - Oogkontak (Contentlot, Kaapstad)
Pryse:
-
2011 Naaswenner: Lapa Jeugromankompetisie
-
2010 Naaswenner: MML Kinderboekkompetisie
-
2008 - ATKV-Kinderboekprys vir thomas@aksie.net.
-
2007 - ATKV-Kinderboekprys vir thomas@nagmerrie.net.
-
2007 - ATKV-Kinderboekprys vir Operasie Miaau.
-
2006 - ATKV-Kinderboekprys vir thomas@sms.net.
-
2005 - ATKV-Kinderboekprys vir Koning Henry.
|