|
Chris Barnard is op 15 Julie op Mataffin in die distrik Nelspruit
gebore. Sy pa was 'n sitrusboer en sy ma 'n huisvrou. Hy wou reeds
toe hy agttien was, 'n skrywer word, hoewel toetse getoon het, dat
hy nie taalkundig aangelê was nie. Barnard studeer op UP en
neem onder andere taalvakke soos Afrikaans, Engels en Frans. Hy
was ook gedurende sy studiejare redakteurs vir die joolblad, die
literêre jaarblad en die eerstejaarsgidsblad. Na sy BA-graad
word hy joernalis by onder meer Die Vaderland, Dagbreek & Sondagnuus,
Brandwag en die Huisgenoot. Hy is in 1962 getroud en daar is drie
seuns uit die huwelik gebore. Hy besoek Frankryk in die middelsestigerjare
en is daarna uitgewer by die Afrikaanse Persboekhandel. Hy word
beskou as 'n belangrike sestigerfiguur. In 1978 trou hy vir 'n tweede
maal met rolprentmaker, Katinka Heyns. In samewerking met sy vrou
word hy filmvervaardiger en draaiboekskrywer (onder andere Die storie
van Klara Viljee en Paljas). Hy maak ook dokumentêre rolprente
vir televisie. Hulle woon tans langs die Hartebeespoortdam en hy
boer met lemoene en makademianeute op hulle plaas, Thulani.
Chris Barnard publiseer op veertienjarige leeftyd 'n gedig in Patrys
wat met 'n prys bekroon word. Gedigte, kortverhale en sketse verskyn
ook tydens sy studentejare in universiteitsblaaie. Later lewer hy
belangrike bydraes as prosaïs (kortverhaal, essay, skets) en
dramaturg (verhoogproduksies en hoorspele). Hy verower die C.N.A.-prys
onderskeidelik in 1961 en 1968 vir sy debuutnovelle, Bekende onrus
asook vir die kortverhaalbundel, Duiwel-in-die-bos. Laasgenoemde
bundel saam met die roman, Mahala, word in 1973 bekroon met die
Hertzogprys. Mahala verower ook die W.A.Hofmeyr-prys. Sy hoorspele,
by name Die rebellie van Lafras Verwey, word bekroon met die S.A.U.K./BRT-
en Akademiepryse. Hy ontvang die Hertzogprys weer vir drama in 1991.
Boela van die Blouwater (1962) is Barnard se eerste jeugroman.
Ander jeugromans is Danda, Danda op Oudeur en Voetpad
na Vergelegen.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Boela van die Blouwater (1962)
- Danda (1974)
- Danda op Oudeur (1977)
- Voetpad na Vergelegen (1987)
Scheepersprys vir Voetpad na Vergelegen (1991)
|