|
Christa Jonker-Jordaan is drie en vyftig jaar gelede,
op 26 September 1956, as die jongste van vyf kinders, in Bloemfontein
gebore.
Sy is reeds 35 jaar getroud met Prof. Gerrit Jordaan, wat verbonde
is aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat. Hulle
het vier kinders, twee seuns en twee dogters. Hulle het twee kleindogters.
Na matriek het sy as 'n klerk by die Ontvanger van Inkomste gewerk,
maar was na haar huwelik, met die uitsondering van 'n paar dinge
wat sy van die huis af bedryf het, hoofsaaklik ma.
Sy skryf graag vanaf haar hoërskooljare gedigte en prosa.
As vryskutskrywer het sy van tyd tot tyd in tydskrifte en op die
internet, gepubliseer. In 1998 publiseer sy 'n verseboek, "My
valentyn dwarsdeur die jaar,"
Daarna was sy mede-outeur van verskeie publikasies soos dagstukkies
en ander Christelike boeke wat deur Carpe Diem Media uitgegee is.
Einde 2005 versoek Carpe Diem Media haar om 'n boek te skryf wat
oor die lewe van 'n ma handel. So word "'n Ma is spesiaal"
in April 2006 gepubliseer.
In Augustus 2007 sien "Lyf", 'n tienerfiksieboek wat
onder andere oor eetversteurings gaan, die lig. Hiervoor kry sy
'n Sanlam woordveertjietoekenning in 2008.
In Maart 2008 word Lyf, tesame met twee nuwe publikasies, "Lus"
en "Luuks," opgeneem in 'n omnibus met die oorkoepelende
naam: "Chilli Lipstiek."
In Augustus 2008 kom 'n dagstukkieboek waar sy as een van 12 skrywers
in deel op die rak.
In Mei 2009 sien 'n roman, "Naglig", tesame met 'n geskenkeboek,
"Vir 'n ma" die lig.
Haar heel nuutste boek, "Oudword is nie vir sissies nie,"
het April 2010 op die rak gekom.
Eersdaags, September/Oktober, sien "Chilli Lipstiek 2",
die lig.
|