|
Loeloeraai (1923) is waarskynlik die eerste voorbeeld in
Afrikaans van 'n verhaal wat vandag as wetenskapfiksie bekend sal
staan. Dit verskyn oorspronklik as vervolgverhaal in Langenhoven
se rubriek Aan stille waters in Die Burger. Neelsie,
Vroutjie en Engela ontvang 'n besoek van Venus in die vorm van die
hoogsbegaafde, Loeloeraai.
Ook die Afrikaanse klassieke fantasie Brolloks en Bittergal:
Wonderstories vir die Kindertjies (1925) sluit aan by Langenhoven
se eie Karoowêreld, en selfs die olifant Herrie en Kerneels
en sy gesin verskyn in die derde verhaaltjie. Die leser kan die
fout begaan om Brolloks en Bittergal as een lang verhaal in vier
dele te lees, wat nie die outeur se bedoeling was nie, al kom ooreenstemmende
karakters in die eerste drie verhale, Kapokkie, Die eensame huisie,
en Die houtboskinders, voor. Die twee mensvreters tree net
aktief in die eerste en laaste verhale op.
Jantjie Muis en Jakob Slang, Kootjie Totjie, Die twee oorlosies,
My sewe maters, en Dirkie Mens en Snytjie Brood verskyn
almal in 1931 in die reeks Verhaaltjies vir Laer Skole (sic).
Dit is later (1976) onder die titel, Jantjie Muis en Jakob Slang
met treffende illustrasies van Cora Coetzee saam uitgegee.
Sommige van Langenhoven se spookverhale waarvan die meeste versamel
is in Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte
(1930) het ook by kinders byval gevind. Met een van die eerste dramas
wat spesifiek vir kinders geskryf is, die klugtige Die kinderparlement
(1927) wou hy die kinders vertroud maak met die politiek van die
dag. In Die Krismiskinders (1926), met illustrasies van A.Vries,
gebruik Langenhoven sy verhaal en die drie engelagtige kinderkarakters,
Talie, Aristo en Sontie om sy eie kunsfilosofie uit te beeld.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Loeloeraai (1923)
- Geeste op aarde (1924)
- Brolloks en Bittergal: Wonderstories vir die Kindertjies
(1925)
- Die Krismiskinders (1926)
- Die kinderparlement (1927)
- Die wandelende geraamte (1930)
- Jantjie Muis en Jakob Slang (1931)
- Kootjie Totjie (1931)
- Die twee oorlosies (1931)
- My sewe maters (1931)
- Dirkie Mens en Snytjie Brood (1931)
- Jantjie Muis en Jakob Slang (1976)
|