|
Justus Cornelius Dirks (1911 - 2000) is op 'n plaas naby Volksrust
gebore. Hy studeer onderwys in Potchefstroom en in 1933 voltooi
hy sy M.A. in Geskiedenis. Hy hou skool op Duiwelskloof, Belfast
en later by die Hoër Volkskool in Potchefstroom waar hy 13
jaar onderwys gee en koshuisvader is. In 1950 word hy visehoof van
die Voortrekker Hoërskool op Boksburg en in 1955 hoof van die
Lindense Hoërskool in Johannesburg.
Hy het homself nooit as 'n "skrywer" beskou nie. "Ek
het net stories vertel. As ek 'n skrywer moes wees, sou ek misluk
het," sê hy in 1999 met die oorhandiging van 'n toekenning
aan hom tydens die Aardklop-fees in Potchefstroom. Hy was sestig
jaar lank gelukkig getroud met Ella. Hulle het 'n seun, Justus,
'n dogter, Elsje en ses kleinkinders. Met sy afsterwe het hy in
Afsaaloord in Linden gebly.
Hy het sy skrywersloopbaan met sewe speurverhale begin. Afgesien
van kortverhale in tydskrifte, het hy meer as 44 boeke geskryf.
Cor Dirks en die Uile-reeks is sinoniem. Dié reeks oor die
Uile van Kranskop is een van die heel gewildste reekse in Afrikaans.
Die reeks is verskeie kere herdruk. In 1990 verskyn 'n laaste Uile-boek,
Die Uile vlieg weer, waar die kinders van die Uile bymekaarkom en
in hulle pa's se voetspore volg.
Die Joof-reeks (1977 - 1988) en die Otter-reeks (1981 - 1989) wat
albei na sy aftrede geskryf is, volg die Uile se patroon. Die Otter-reeks
is goed ontvang. In die Joof-reeks ervaar vier maats opwindende
avonture van 'n uiteenlopende aard.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Uile-reeks
- Joof-reeks (1977 - 1988)
- Otter-reeks (1981 - 1989)
|