|
Corlia is van kleins af mal oor stories en kan ure lank in boekwinkels
deurbring om toneelstukke, kortverhale, romans en digbundels te
koop. Sy is ook lief vir fliek, die teater en klassieke musiek.
Sy het in 'n storiehuis grootgeword en is die oudste dogter (tweede
oudste) van haar pa, Mikro, se vier kinders, en die enigste wat
so mal is om te skryf.
Sy het jare lank as joernalis gewerk voordat sy in die vroeë
tagtigerjare fiksie begin skryf het. Haar eerste werk, Moeders
en dogters (1985), was 'n verhoogstuk wat 'n merieteprys in
die Amstel Dramaturg van die Jaar-kompetisie gewen het. Moeders
en dogters is etlike kere opgevoer, op die verhoog sowel as
vir televisie en radio.
Sy het nog vier verhoogstukke geskryf wat op die planke gebring
is: Leuens, En die son skyn in Suid-Afrika, Poppespel en Erfgoed.
En die son skyn in Suid-Afrika is ook in 'n TV-drama verwerk
wat die eerste prys gewen het in M-Net se kompetisie vir die beste
Afrikaanse sitkom. Verskeie radiodramas uit haar pen is oor die
lug gehoor.
Sy het ook heelwat kortverhale geskryf en die einde 1991 verskyn
die bundel Liefde en Geweld, haar eerste prosawerk vir volwassenes,
by Tafelberg-Uitgewers, en in 1992 het sy die ATKV-prys vir goeie
gewilde prosa daarmee gewen. In 1994 het 'n tweede kortverhaalbundel,
Sê, by Human & Rousseau verskyn. En daarna 'n roman,
Die oop deur. Die oop deur was in 1996 'n Publisher's
Choice- boek en is oor die radio voorgelees. Haar roman, Alle
paaie lei deur die Strand het twee jaar gelede by Lapa verskyn.
Benewens haar volwasse stories, het sy ook etlike kinderboeke
geskryf. Twee daarvan, Die meisie wat soos 'n bottervoël
sing en Die towersak en ander stories is met twee pryse
elk bekroon. Die meisie wat soos 'n bottervoël sing
het die M.E.R.-prys en die Tinie Holloway-medalje ontvang en Die
towersak, die M.E.R.-prys en die Alba Bouwer-toekenning. Eersgenoemde
verhaal is ook deur die Kaapse komponis Peter Klatzow van musiek
voorsien en die werk met orkes en verteller is as Tintinyane in
Johannesburg, Kaapstad en Stellenbosch opgevoer. 'n Ander kinderboek,
Ganekwane en die groen draak, is vertaal en in Amerika deur
Albert Whitman uitgegee.
Haar jongste twee kinderboeke, Heleen en die heks met hoofpyn
en Stories met stertjies, waarin konvensionele sprokies
op hul koppe omgekeer word het onlangs verskyn.
Sy is tans rooi rose se verhaleredakteur en skryf ook artikels.
Sy bly in Greymont in Johannesburg. Haar twee volwasse dogters woon
albei oorsee. Die oudste, Marianne, is met 'n Fransman getroud en
hulle bly op die oomblik in Madrid. Die jongste, Carina, het 'n
navorsingspos by die filosofiedepartement van die Universiteit van
Zurich.
Die enigste organisasies waaraan sy nog behoort het, was toe sy
(in die tagtigerjare) lid van Vroue vir Vrede was en ook lid van
die Skrywersgilde en voor die organisasie se sterfjare was sy op
die bestuur.
|