|
Hierdie twee broers was die eerste nie-afrikaanstalige skrywers
wat die Hertzogprys ontvang het in 1930 vir Kees van die Kalahari.
Hulle het saam aan hulle boeke geskryf. G.C. Hobson het vir die
idees gesorg, terwyl S.B. Hobson die verhale neergeskryf het. Hoewel
hulle nie eksklusief vir kinders geskryf het nie, het kinders aan
die begin van die eeu hulle boeke gretig gelees.
Kalahari-kaskenades (1929) is die eerste van die Hobsons-broers
se nege boeke en die enigste een wat spesifiek vir kinders bedoel
is. Dit is 'n lekkerleesfantasie oor die ontstaan van die Ngamimeer
wat ontwerp en gebou is deur die diere van die Kalahari. Kees
van die Kalahari (1929) is 'n bundel wat twee novelles bevat.
Die titelverhaal is 'n realistiese vertelling oor die bobbejaan,
Kees. Die tweede novelle in hierdie bundel, Kloes, vertel
van dié jakkals se stryd om die pot vir sy gesin aan die
kook te hou. Die realistiese verhaal, Buks (1933), handel
oor 'n ratel. Skankwan van die duine (1930) vertel die geskiedenis
van 'n Boesman wat wees gelaat is, maar uiteindelik wraak neem op
die moordenaar van sy ouers.
In Vlam van die Bantomberge (1945) wat net soos Kees
van die Kalahari uit twee novelles bestaan, is die eerste novelle
'n verhaal oor die wildehond, Vlam, en in die tweede verhaal die
storie van Grys, 'n muishond.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Kalahari-kaskenades (1929)
- Kees van die Kalahari (1929)
- Kloes (1929)
- Skankwan van die duine (1930)
- Buks (1933)
- Vlam van die Bantomberge (Vlam, Grys) (1945)
Hertzogprys in 1930 vir Kees van die Kalahari
|