|
GEORGE WEIDEMAN is vier-en-vyftig jaar gelede (op 2 Julie 1947) op die Karoo-dorp
Cradock gebore. Hy is dus oud genoeg om 'n oupa te wees - maar sy twee dogters,
Melita (nou 18) en Siobhan (nou 13), en sy vrou, Celién, hou hom nog jonk.
Melita is 'n student in Natuurbewaring aan die Kaapse Technikon en Siobhan is
'n Graad 8-leerling aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville, waar die Weidemans
bly. George het in die Karoo en in die Noord-Kaap grootgeword en aan die
Hoërskool Namakwaland op Springbok gematrikuleer. Hy was nie 'n vreeslike
goeie student nie en het veral gesukkel met Wiskunde en Skeinat. Maar hy het sy
eie skoolkoerant gehad, vandat hy dertien jaar oud was. Daarin het hy geskryf
wat hy wou
wel, ámper wat hy wou, want die onnies het ook Die Namakwa
gelees! Maar vandat hy kan onthou, wou hy skryf. Eintlik het letters en
woorde en vreemde tale hom nog altyd gekielie. Toe hy nege jaar oud was, wou hy
tale soos Magjaars (die taal wat hulle in Hongarye praat) en Yslands (die taal
van die Yslanders) leer. Daar is iets geheimsinnigs aan woorde
Goed soos
hiërogliewe, Sjinese beeldskrif, Runeskrif en enige soort geheimskrif maak
die lewe interessant. Om te weet waar woorde vandaan kom, is lekker. Sy pa was
net so verlief op woorde en liedjies en hy het altyd nuwe uitdrukkings, woorde,
gesegdes en liedjies opgeteken. Woorde is nie so vaal as wat hulle lyk nie. Hoekom
is pampoen nou juis pampoen? Maar dis 'n lang storie vir 'n ander dag.
George hou van stories. Vandat hy kan onthou, het sy ouma en sy ma en sy tantes
stories vertel: spookstories, grilstories, stories met stertjies
Dis seker
maar hoekom hy skrywer geword het. En verbeelding! Dis die lekkerste van verbeelding,
het hy vroeg uitgevind: As jy nou nie baie lus is om werk (nare woord!) te doen
nie, kan jy altyd jou verbeelding aanskakel: bzzz, groen liggie flits, en daar
gaan jy. Voor jy jou kom kry (of voordat iemand jou in die hande kan kry) gly
jy oor 'n spierwit gletser in Ysland (sjoe, waar's my trui?), of jy ry op 'n wildemaanhaarperd
oor die vlaktes in Hongarye. Só het 'n paar kinderboeke (Rykdom
uit rommel, Ben, Babi en die geel helikopter, Die raaisel van die spuitnaalde,
Die storie van die lieweheersbesie en Koeries se rivier - almal uitgegee deur
MML: Rimpelstories) en drie jeugboeke (Los my uit, paloekas!, Die optog van
die aftjoppers en Dana se jaar duisend - uitgegee deur Tafelberg) al uit sy
verbeelding 'n draai op papier gegooi. Hoewel hy ook gedigte en kortverhale en
romans en toneelstukke vir grootmense skryf, gee die skryf van kinder- en jeugboeke
hom die grootste gevoel van vryheid. Dis dieselfde soort vryheid wat 'n mens ook
ervaar as jy 'n lekker boek lees, nie waar nie? |