|
Hans du Plessis is in 1945 in Pretoria gebore. Hy word in Silverton groot en
matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. Hy behaal
die graad B.A. aan UP waarna hy in 1966 begin skoolhou. Hy skryf in 1969 in as
deeltydse student by UNISA en behaal die U.O.D. (met onderskeiding in Afrikaans),
die Hons. B.A. (met lof) , die M.A (met lof) en in 1975 verwerf hy die D.Litt.
et Phil. Hy ontvang die senior beurs van die RGN in 1976 en studeer verder aan
die Harvard Universiteit in Amerika. Hy lê in 1991 weer besoek af in die
VSA waar hy kursusse in die skryfkuns bywoon. Hy was medewerker aan 'n navorsingsprojek
oor die Afrikaans van die Griekwas en projekleier van 'n uitgebreide projek oor
die gebruik van Afrikaans in Namibië. Na ses jaar in die onderwys word
hy in 1971 aangestel as Lektor in Afrikaanse Taalkunde aan UNISA. Vanaf 1977 tot
1980 is hy Senior Lektor aan die RAU. In Januarie 1981 word hy professor in Afrikaanse
Taalkunde aan die PU vir CHO en in 1990 word hy die Direkteur van die ATKV-Skryfskool
van die PU vir CHO. Meer as honderd publikasies het reeds van hom verskyn.
Hieronder tel artikels in nasionale en internasionale tydskrifte en 'n aantal
taalkundeboeke. Hy debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild.
Daarna verskyn ook Gewete van glas (1984). In 1985 volg die roman, Grensgeval,
daarna Skuiwelinge in 1990, in 1991 die jeugroman, Disse flippen stukkende
wêreld die my ou, in 1995 die roman Bakgat, en wat dan van my,
in 1996 Ditsem Dawid, en in 2001 die digbundel Innie skylte vannie Jirre,
wat binne die eerste tien maande 35 000 eksemplare verkoop, die hoogste ooit vir
enige Afrikaanse fiksie. In September 2002 verskyn 'n bundel Griekwagedigte oor
Hooglied, Boegoe vannie liefde. Hy ontvang verskeie pryse vir sy
skryfwerk, o.a. die C.R. Swart-prys, die ATKV-kinderboekprys, 'n erepenning van
die Suid-Afrikaanse Akademie en in 2002 ontvang hy die prys vir die beste Algemene
Christelike boek van die CBSA (Christian Booksellers Association), en wat naas
die Liedboek van die kerk, aangewys is as die beste Christelike publikasie van
2001. Sy drama, Broerse en die musiekdrama Liefde en oorlog
word by die KKNK, Aardklop en landswyd in teaters opgevoer. Die musiekproduksie
van Randall Wicomb, Innie skylte vannie jirre en sy CD, Hie neffens
my, wat albei op die boek gebaseer is, word ook by die kunstefeeste opgevoer,
en is tans besig om deur die land te toer. Hans du Plessis is lid van die
Afrikaanse Skrywersvereniging en lid van verskeie vak- en kultuurverenigings.
Hy is redaksielid van die tydskrif, Literator, Visevoorsitter van die Direksie
van die ATKV, en lid van die direksies van Lapa-uitgewers en die Aardklop Nasionale
Kunstefees. Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle
het vier seuns. |