|
Hester Heese (de Swardt) is op 26 Oktober op Kuilsrivier gebore,
as die derdejongste van sewe kinders. Sy gaan skool in Kuilsrivier
en Kaapstad en word as kindertuinonderwyseres opgelei in Wellington.
Sy was hartstogtelik lief vir die Wes-Kaap, waar sy meestal gewoon
het. Enkele jare as onderwyseres in Upington vind neerslag in Kinders
van die Konka-hut (1967). Sy trou in 1937 met die bekende
sielkundige en prediker, dr. Kalie Heese en is predikantsvrou op
Malmesbury, Bonnievale en Pinelands, totdat die gesin se verhuising
na die rietdakhuis in Jonkershoek, Stellenbosch. Dit word die inspirasie
vir ruimte-uitbeeldings in boeke soos Aljander, Aljander so deur
die bos, (1966) en Hierdie lente, (1969). Na haar man
se dood verhuis sy van Stellenbosch na Prins Albert en uiteindelik
na die Strand. Haar vyf kinders en negentien kleinkinders het meermale
(saam met haar eie en haar man se jeug) inspirasie verskaf vir haar
kinder- en jeugboeke. Haar groot verskeidenheid tekste sluit kinderverse,
verhale vir kleuters, jong kinders en jeugdiges, asook 'n digbundel,
Sonder jou (1976), en 'n outobiografiese vertelling vir volwassenes,
Ek gooi my luike oop (1986), in. As predikantsvrou skryf sy
ook ongepubliseerde toneelstukke en godsdienstige voorstellings.
Sy vertaal agt kinderboeke, onder meer Bybelverhale, en skryf saam
met A.J. van der Merwe ses aanvullende leesboeke vir die tweede
skooljaar.
In 1976 ontvang sy die Tienie Holloway-medalje vir Wat is daai
- hè Pappa? (1972); Oustryk (1973); Piet Vrolik
en Ben Verstrooi (1975); Die peperboom (1975) en Bokmakierie
sing (1975). In 1982 kry sy dieselfde medalje vir Sy wat
die soen op haar voorkop dra (1980). Die illustreerder, Ann
Walton is ook bekroon met die Katrine Harries-prys. Adriaan van
Zyl ontvang dieselfde prys vir sy super-realistiese illustrasies
in Kobus het 'n blom (1982). Die C.P. Hoogenhout-toekenning
vir die beste boek vir kinders tussen sewe en elf jaar ontvang Hester
Heese vir Sêra Madêra (1979) in 1979. Die volgende
tien van haar boeke verdien eervolle vermelding by die SAIBI: Aljander,
aljander so deur die bos (1966), Loekie die rondlopertjie
(1966), En daar is lig - verhale uit die Bybel (1971),
Die blou duif (1972), Die huis op pale (1973), Die
wildsbok van Ver-eiland (1974), Die peperboom (1975),
Josef is 'n jong vrugteboom (1976), Hokaai (1977),
Kompatjierie is my liedjie (1981). Ek en jy, Grootbroer
(1970) is in 1970 bekroon as die beste jeugboek in 'n wedstryd
van Tafelberg-Uitgewers.
In Dwars-in-die-weg (1979) en Miekel die koerantjoggie
(1967) moet beide die hoofkarakters na die dood van 'n ouer of ouers
aanpas in 'n nuwe dorp en skool. Die klein dogtertjie in Op die
vensterbank in April (1983) gee die week voor haar verjaarsdag
elke dag, soos haar oorlede pa, vir haar ma 'n geskenkie. Fanus,
in Die klein pasella (1968) moet sy ernstige hardhorendheid
hanteer, en Alota in Ek en jy, Grootbroer (1970) voel te
klein en jonk vir wat hy wil doen, soos die hoofkarakter in Frans
se vyf dae in Desember (1977). In hierdie verhale kan spanninge
tussen kinders gesien word, sien ook Die geluid van wakker
(1981).
In Polka-masurka (1972), gesitueer in die vroeg-twintigste
eeu, bou die ouer broer 'n outydse radio. In Moks van Ver-Wêreld
(1966) ruil die twee seuntjies Moks en Ghoempa, die een afkomstig
van "Blikkiesdorp", in die spel 'n perdewaentjie en vragmotor,
maar ook tradisionele rolle om. In Wannelas (1978) dink Wannelas
op negejarige leeftyd nog dat 'n ma gekoop kan word en ontvang hulp
van die skrander Jakkie wat sy ouma se plaas besoek. Sy skryf ook
geestige volkse verhale, soos Boertjie word ryk (1980) en
fantasieverhale.
Haar laaste rymverhaal, Daar diep in die see (1991), word
gesien as 'n hoogtepunt. Sy lewer etlike belangrike versbundels,
Opsêgoed vir Kleingoed (1966), later bygewerk tot
Bokmakierie sing (1975), is eenvoudige versies oor alledaagse
gebeurtenisse. In Kompatjierie is my liedjie (1981) staan
natuurbelewing voorop, maar soos in Waarom is die reënboog
krom? (1983) steeds gesien vanuit die kinderwêreld. Steweltjies
na Wonderland (1998) is 'n keur uit haar kinderverse.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Aljander, Aljander so deur die bos (1966)
- Loekie die rondlopertjie (1966)
- Opsêgoed vir Kleingoed (1966)
- Moks van Ver-Wêreld (1966)
- Miekel die koerantjoggie (1967)
- Kinders van die Konka-hut (1967)
- Die klein pasella (1968)
- Hierdie lente (1969)
- Ek en jy, Grootbroer (1970)
- En daar is lig - verhale uit die Bybel (1971)
- Wat is daai - hè Pappa? (1972)
- Die blou duif (1972)
- Polka-masurka (1972)
- Die huis op pale (1973)
- Oustryk (1973)
- Die wildsbok van Ver-eiland (1974)
- Die peperboom (1975)
- Piet Vrolik en Ben Verstrooi (1975)
- Die peperboom (1975)
- Bokmakierie sing (1975)
- Josef is 'n jong vrugteboom (1976)
- Frans se vyf dae in Desember (1977)
- Hokaai (1977)
- Wannelas (1978)
- Dwars-in-die-weg (1979)
- Sêra Madêra (1979)
- Boertjie word ryk (1980)
- Sy wat die soen op haar voorkop dra (1980)
- Kompatjierie is my liedjie (1981)
- Die geluid van wakker (1981)
- Kompatjierie is my liedjie (1981)
- Kobus het 'n blom (1982)
- Waarom is die reënboog krom? (1983)
- Op die vensterbank in April (1983)
- Daar diep in die see (1991)
- Steweltjies na Wonderland (1998)
|