|
Izak David du Plessis is op 25 Junie op Phillipstown gebore. Hy
voltooi sy skoolloopbaan aan die Hoër Jongenskool in Wynberg.
Nadat hy sy studies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het,
hou hy tussen 1922 en 1924 skool op Worcestor. In 1925 voltooi hy
die B.Ed.-graad en in 1926 word hy sportredakteur van Die Burger.
Die volgende jaar word hy assistentredakteur van Die Huiisgenoot
. Tussen 1928 en 1931 is hy lektor in Afrikaans aan die Kaapse Tegniese
Kollege. Na die voltooiing van 'n MA-graad in 1931 word hy dosent
aan die Universiteit van Kaapstad. In 1948 word hy hoof van die
Instituut vir Maleise Studies aan dieselfde universiteit. Sy doktorsgraad
is getitel: Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse
volkslied. In 1951 word hy Kommissaris van Kleurlingsake en in 1961
Sekretaris van Kleurlingsake. Hy was ten nouste betrokke by die
stigting van die Universiteit van Wes-Kaapland in 1961 waarvan hy
in 1970 die eerste kanselier word. Hy ontvang in 1937 die Hertzogprys
vir sy poësie. Du Plessis se kinder- en jeuggenre sluit in:
sportverhale en sprokies, legendes en volksverhale, sowel as romans,
waarin veral die Ooste 'n prominente rol speel.
In Die Springbok (1931), Die silwervaring (1933), Die rugbykroon
(1934) en Rugby in Rio (1941) word vier vriende se rugbywedervaringe
weergegee. In Olimpiade (1938) is vier vriende toeskouers is by
die Olimpiese Spele in Berlyn. Die reekse Maleier-verhale lei hy
in met Uit die Slamse buurt (1939) in twee dele en opgedra aan die
kinders van Suid-Afrika. Dit word in 1943 opgevolg met Die gevleuelde
perd en ander Kaapse stories. 'n Keur uit die drie bundels verskyn
later onder die titels Doederomandro en ander Kaapse stories (1970),
Sapen Sewekop en ander Kaapse stories (1971), Die Maboersa en ander
Kaapse stories (1978) en Baroen en ander Kaapse stories (1982).
Sy belangstelling in die folklore is te sien in Legendes van alle
nasies (1932) en Hasie by die dam (1939). Die jeugromans Die skat
van Robbeneiland (1940), Die hart van Java (1942) en Die oog van
Boeddha (1944) is almal avontuurverhale waarin die Ooste en verlore
skatte figureer. In Die wedstryd en ander verhale vir die jongspan
(1936) versamel Du Plessis onder andere drie vertaalde Franse verhale
en drie speurverhale wat op mekaar volg.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Die Springbok (1931)
- Legendes van alle nasies (1932)
- Die silwervaring (1933)
- Die rugbykroon (1934)
- Die wedstryd en ander verhale vir die jongspan (1936)
- Olimpiade (1938)
- Hasie by die dam (1939)
- Uit die Slamse buurt (1939)
- Die skat van Robbeneiland (1940)
- Rugby in Rio (1941)
- Die hart van Java (1942)
- Die gevleuelde perd en ander Kaapse stories (1943)
- Die oog van Boeddha (1944)
- Doederomandro en ander Kaapse stories (1970)
- Sapen Sewekop en ander Kaapse stories (1971)
- Die Maboersa en ander Kaapse stories (1978)
- Baroen en ander Kaapse stories (1982)
|