|
Jan Vermeulen is op 31 Julie 1960 op Bethaniën, Namibië, gebore as die jongste
van nege kinders. Hy het sy skoolloopbaan begin aan die Laerskool Bethaniën. Na
sy pa se dood is hy na 'n laerskool in Windhoek, waar hy ook sy hoërskoolloopbaan
voltooi het. Daarna het twee jaar diensplig aan die Infanterieskool op Oudtshoorn
gevolg, waarvan veertien maande Grensdiens was as lid van 202 Bataljon.
In 1983 het hy die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die
Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 'n BTh en Teologiese Lisensiaat
aan die Universiteit van Stellenbosch, met 'n skripsie oor "Die afwesige vader".
Hy is 'n predikant in die Nederduits-Gereformeerde Kerk, en was van 1988
tot 1991 leraar van die Tuinedalgemeente op George. Sedert 1992 is hy leraar van
die Dagbreekgemeente op Despatch. Hy is in 1984 getroud met Karin van Wyk van
Port Elizabeth, en hulle het twee kinders, Karla en Joándri. Oor sy skryfwerk
sê hy: "Ek skryf al vir so lank as wat ek kan onthou. Is seker maar so gebore."
Sy eerste publikasie was 'n kortverhaal, "Die Sneeuprins van Alaska", wat hy as
veertienjarige geskryf het en wat in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer
is. Hy het in 1998 'n kursus in kreatiewe skryf bygewoon wat deur die Universiteit
van Port Elizabeth se Departement Afrikaans en Nederlands aangebied is, en het
in dieselfde jaar as romanskrywer gedebuteer met Die laaste dans, 'n inskrywing
in De Kat en Queillerie se Groot Romanwedstryd. Hy skilder graag en het self die
bandkunswerk van Die laaste dans gedoen. Die Sanlamprys vir Jeuglektuur
is in 2000 toegeken vir Geraamtes dra nie klere nie. Publikasies
- 1998 - Die
laaste dans (Queillerie Uitgewers)
- 2000 - Geraamtes dra
nie klere nie (Tafelberg Uitgewers)
|