|
Johann Bekker is op 13 April in die Klerkdorpse distrik op die
plaas, Opraap, gebore waar hy ook aan 'n tweemanskooltjie skoolgaan.
Sy hoërkoolloopbaan voltooi hy aan die Hoërskool Gimnasium
in Potchefstroom. Hy verwerf 'n BA-graad en 'n onderwysdiploma aan
die Potchefstroomse Universiteitskollege waarna hy vir 'n jaar in
Pretoria skoolhou. In 1941 word hy hoof van 'n tweemanskooltjie
naby die Loskopdam. Hier het hy heelwat tyd gekry om te skryf, maar
moes later weens gesondheidsredes verhuis. Hy hou skool aan die
Rooipoortskool, word in 1948 visehoof van Soutpansdrifskool en die
volgende jaar hoof van Hekpoortskool. In 1947 behaal hy 'n B.Ed.
en in 1950 'n M.Ed. oor die onderwysgeskiedenis, beide aan die Potchefstroomse
Universiteit. Hy behaal ook 'n D.Ed. Hy is outeur van vele vakpublikasies
en was later verbonde aan die onderwyskolleges van Pretoria en Heidelberg,
en die universiteite van Suid-Afrika en Durban-Westville. Sedert
1967 was hy professor aan laasgenoemde universiteit. In 1976 word
hy deur die Minister van Kleurlingsake as voorsitter van die adviesraad
vir die opleiding van Kleurlingonderwysers benoem. Bekker was ook
baie aktief op kulturele en godsdienstige gebied op plaaslike, provinsiale
en nasionale vlak.
Hy is in 1942 met Betsie Booyens getroud en het twee seuns. Bekker
was baie lief vir sport , vakansie in die bosveld, en reis na die
wildernisse van sy eie land.
Bekker debuteer in 1943 met 'n vervolgverhaal in die Loopbaangids,
waarvoor hy ook 'n prys verower. In die veertigerjare verskyn Pikkie
en die Seunsbende, Snaakse gebeurtenisse op Boshoek en Buffeltemmer
as vervolgverhale in Die Jongspan. Eers- en laasgenoemde is later
in boekvorm uitgegee. Met 'n Christelike verhaal, Dakka se groot
avontuur (1947), verwerf hy 'n C.S.V-Boekhandelprys.
Hoewel Het van Verlangekraal (1960) vanuit die perspektief van
'n simpatieke volwassene aangebied word, is dit wyd deur kinders
gelees en is dit Bekker se bekendste roman. In 1962 is dit deur
Carfo verfilm en weer in 1983/84 deur Jan Scholtz-Films vir TV-beeldsending.
Kobus in Meerminland (1962) is twee fantasieverhale bedoel vir
kleuters of jong kinders.
In Avonture in Smenskie-land verwerf die tandlose Jantjie met groot
moeite en geduld weer vir hom in Smenskieland 'n stel tande.
In Cessna vermis (1963) gaan soek 'n klompie jongmense na 'n vermiste
Cessna in die Noord-Transvaalse bosveld.
Buffeltemmer (1965) vertel die verhaal van 'n wit seun en meisie
wat beide apart onder swart mense grootgeword het, en die seun se
soektog na haar.
Diamantsmokkelary in die Namib-woestyn naby Swakopmund is aan
die orde in die ligte spanningsverhaal, Roel Keet en Kie (1980).
Die rooi wal (1979) en Duin Drie (1981) is avontuurverhale wat
in die woestyn afspeel.
In die bekroonde Boereoorlogroman, Waghond van Hartbeeslaagte (1984)
is die veertienjarige Christof Joubert, wie se pa deur die Engelse
gevang is, verskeur tussen sy lojaliteit aan sy volk en sy gesin
wat haweloos agtergebly het nadat hulle plaasopstal afgebrand is.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Buffeltemmer
- Cessna vermis
- Dakka se groot avontuur
- Duin Drie
- Het van Verlangekraal
- Hoog bo die Ururamba
- Jimbo
- Kobus in Meerminland
- Die Palomino
- Pikkie en die Seunsbende
- Roel Keet en Kie
- Die rooi wal
- Snaakse gebeurtenisse op Boshoek
- Waghond van Hartbeeslaagte
|