|
De Waal is in Eldoret, Kenia, gebore. In 1962 verhuis sy ouers
na Suid-Afrika. Hy gaan skool in Zoeloeland en Rustenburg waar hy
in 1976 matrikuleer. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria
en hou daarna vir twee jaar skool. Hierna woon hy en sy vrou vir
'n paar jaar in Londen. Tans is hy 'n meubelmaker naby Witrivier
waar hy, sy vrou en twee dogters woon.
De Waal publiseer Machadospoor (1991), 'n roman vir volwassenes,
Slaapvraat en Leander (1987) en !Sit oom Paul (1995). In laasgenoemde
verken die outeur met sy hoofkarakter, Herman Human, vlakke van
(jong)menswees wat vernuwend in die Afrikaanse jeugtekste is. Die
vernuwing van die teks is veral geleë in die wyse waarop die
skrywer die tradisionele godsdiens, politiek en houding ten opsigte
van seksualiteit aan bod bring.
In Slaapvraat en Leander word Leander deur Slaapvraat, 'n kreatuurtjie"
kleiner as 'n beer en groter as 'n kat" beskerm teen gevare
en nare drome. Leander sluit 'n hegte vriendskap met Slaapvraat.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Slaapvraat en Leander (1987)
- Machadospoor (1991)
- !Sit oom Paul (1995)
|