|
Johannes Hendrik Jordaan is op 9 September 1926 in Venterstad in
die Kaap gebore waar hy sy skoolopleiding ontvang. In 1946 sluit
hy aan by die Natalse Afrikaner. Dis die begin van 'n lang
joernalistieke loopbaan waarin hy onder meer op die redaksies van
Die Transvaler en Die Vaderland diens doen. In 1949
trou hy met Naomi van der Merwe. Twee kinders, Henk en Antoinette,
is uit die huwelik gebore. In 1950 word hy redakteur van Die
Mynwerker. Daarna werk hy as hoofsubredakteur van die Suid-Afrikaanse
Persvereniging (SAPA). In 1959 skei hy van sy eerste vrou en trou
in 1960 met Helene Lucille Lindegger. In 1975 word hy assitent-nagredakteur
van Die Transvaler, 'n pos wat hy tot sy dood behou. In 1970
stig hy die Skryfhuis Sewentig aan sy huis in Ontdekkers waar hy
tot sy dood potensiële skrywers en joernaliste oplei.
Jordaan verwerf veral bekendheid as skrywer van jeugboeke. Verskeie
van sy boeke is ook voorgeskryf. Hy skryf altesaam 31 boeke en twee
dramas. Sy tweede drama, Melodie van die myne behaal in 1969
die tweede plek in 'n dramawedstryd van die Departement Kultuursake.
Hy skryf in 1981 Oase, 'n omvattende Afrikaanse Skrywerskuns-ensiklopedie
waarin hy die grondbeginsels vir 'n wye verskeidenheid skryfwerk
bespreek.
Hy is vandag meesal nog bekend vir sy twee Dirkas-boeke.
Dirkas in die knyp verskyn die eerste maal in 1951 en word
verskeie kere herdruk - ook weer in 1977 toe Dirkas se Meisiekind
die lig sien. Dis die verhale van Venterspruit se kamerade, Dirkas,
Chris en Fanus, drie ondeunde knape.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Dirkas in die knyp (1951)
- Swart hings (1953)
- Indoena (1967)
- Die leeu van Aandblomkloof (1968)
- Melodie van die myne (1969)
- Silwervlerk (1970)
- Agt akkers asiel (1973)
- Dirkas se Meisiekind (1977)
- Oase (1981)
|