|
Karl August Kielblock op 23 Oktober in Beaufort-Wes gebore as die
naasjongste van elf kinders. Sy skoolopleiding geniet hy op die
dorp en hoewel hy aanvanklik joernalis wou word, bekwaam hy hom
as onderwyser aan die Paarlse Onderwyskollege en word in 1928 by
die Sekondêre Skool (later Laerskool Hendrik Louw) in die
Strand aangestel. Hier ontmoet hy ook sy vrou, Susan Vera Abel,
'n onderwyseres. Hulle is in 1939 getroud en het twee kinders. Kielblock
tree aan die einde van 1967 as onderhoof by die Laerskool Hendrik
Louw af. Hy was ook lief vir sport en het lank betrokke gebly by
die administrasie van tennis. Die egpaar woon tot met die afsterwe
van Kielblock op 27 November 1991 in die Strand.
Meer as 40 boeke het uit Kielblock se pen verskyn. Van kleins af
was hy lief vir lees en het 'n begeerte gehad om te skryf. Na aanmoediging
van sy vriend, Mikro, begin hy publiseer, aan die begin meestal
kortverhale en sketse. Van die hoogtepunte in sy loopbaan was die
Scheepersprys wat hy in 1970 vir Rebel (1969) ontvang het en die
verfilming van onder andere die Jasper le Feuvre-reeks vir televisie.
Die skat van Java (1936) was een van die gewildste avontuurverhale
in Afrikaans. Verskeie spannings- en speurverhale volg hierna, onder
andere Jasper le Feuvre (1942), Moord op Eendevlei (1943) en Moord
op Kroonbaai (1945).
Hoewel die bogenoemde romans, en die meeste van sy ander werk,
vir volwassenes bedoel was, het die Afrikaanse jeug dit baie gou
hulle eie gemaak. Resensente het dit ook dikwels vir die jeug aanbeveel,
soos in die geval van Die skat van Java (J.W. 1936), Mooier as blomme
(1961) (R.N. 1961) en Die vete (1962) (Hudson, 1963). Die radioverwerking
van Die skat van Java was so gewild, dat daar in Die Jongspan daaroor
berig is. Die jeug eien dit vir hulle op en Kielblock kom hulle
as't ware tegemoet met Die verlore skat (1964) wat by die verhaalgegewe
van Die skat van Java aansluit, maar 'n jong seun as held het.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Guillam Woudberg
- Jasper le Feuvre-reeks
- Lafras Cuyper-reeks
- Moord op Kroonbaai
- Nooi uit die vreemde
- Onder die stil waters
- Onrus op Rusdal
- Rebel
- Rivier van drome
- Die skaam man
- Die skat van Java
- Skuil in die skaduwees
- Die swaard verteer
- Vaandrig Freyn
- Verhale uit Herodotos
- Weerlig slaan twee maal
|